Die tweede week van die laaste kwartaal het goed afgeskop en het ’n opwindende matrieksaal ingesluit. Op Dinsdag, 13 Oktober, het ons jaarlikse en gewilde matrieksaal plaasgevind. Dit is al ‘n jarelange tradisie dat ons jaarliks al die matrikulante wat by ons graad 7 voltooi het, uitnooi na ’n spesiale matrieksaal. Dus het ons vanjaar weer al die 2026-matrikulante wat in 2021 graad 7 by ons voltooi het, uitgenooi om die spesiale geleentheid saam met hul ouers, ons leerders en personeel by te woon om vir hulle sterkte vir die komende matriekeksamen toe te wens.
Ons nooi nie net die matrikulante van Hoërskool Jan van Riebeeck wat by ons in die laerskool was nie, maar alle matrikulante wat in graad 7 by ons voltooi het. Matrieksaal is altyd ‘n hoogtepunt, maar vanjaar se matrieksaal is vir my spesiaal, aangesien die matrikulante in 2021 in graad sewe was, en dit ook in dieselfde jaar wat ek as skoolhoof by Laerskool Jan van Riebeeck aangestel is. Verder was 2021 ook ‘n spesiale jaar vir ons skool, aangesien die skool sy honderdste bestaansjaar gevier het. Ons was baie bevoorreg dat die 2021-hoofdogter en -hoofseun, Heloïse Strauss en Danny Newton, asook Luca Zulch (2026-hoofleier by Hoërskool Jan van Riebeeck), Fredrich Erasmus (2026-hoofseun by Hoërskool Jan van Riebeeck) en Taniel Weber (2026-hoofseun by Rondebosch Seunskool) uitstekende en inspirerende toesprake gelewer het. Ek is so trots en baie beïndruk met ‘ons’ matrikulante wat in dinamiese jongmense getransformeer het – dit gee ’n mens soveel hoop vir ons land se toekoms. Hulle is nou jongmense wat bereid is om hard te werk om ons land ’n beter plek vir almal te maak, want hulle is selfstandig, uiters doelgerig, empaties, selfversekerd en veerkragtig. My beste wense vergesel die merkwaardige matrikulante vir die komende matriekeksamen. Hulle moet nou al die harde werk wat hulle tot gr. 12 gebring het, in aksie omskakel om vir hulle ’n blink toekoms te verseker. Baie dankie ook aan hul ouers wat die geleentheid bygewoon het. Ek het groot waardering! Baie dankie aan juf. Marinda en ons hoofdogter, Mila Malan, vir die mooi boodskap om die saalbyeenkoms te open, asook vir al die puik reëlings om die spesiale matrieksaal moontlik te maak. My beste wense vergesel dan ook al die matrikulante en onderwysers van Hoërskool Jan van Riebeeck vir hierdie belangrike eksamen en mag hul uitslae alle verwagtinge oortref.

Soos ek in week 1 se nuusbrief genoem het, het ons graad 7’s die wonderlike geleentheid gehad om tydens die eerste twee weke van die kwartaal aan ‘n geïntegreerde leerprogram by Kleinbosch, onder die vaandel van Babylonstoren, deel te neem. Ons graad 7’s is in twee groepe verdeel. Groep A het tydens die week van 6–9 Oktober en groep B die afgelope week vanaf 12–15 Oktober dit bygewoon. Die graad 7-leerders en die onderwysers het daar oorgeslaap, aangesien die opwindende leerprogram tot saans om 21:00 geduur het. Hierdie unieke Bou ’n Besigheid-program sluit prakties by entrepreneurskap, kommunikasie, probleemoplossing, kreatiewe denke, selfvertroue, samewerking en verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie aan. Leerders kry ook blootstelling aan praktiese tegnologie en prototipering, insluitend 3D-druk, waar hulle idees meer tasbaar kan maak, asook die bou van hul eie webtuistes. Ek en juf. Marinda asook Jodene het op Woensdag, 14 Oktober, self Kleinbosch gaan besoek om die fasiliteite te besigtig en die leerprogram te ervaar. Dit was voorwaar ‘n ongelooflike voorreg en nou verstaan ek waarom die graad 7’s en die onderwysers nie wil terugkom skool toe nie. Karin de Beer en haar dinamiese span by Kleinbosch het die Bou ‘n Besigheid-program ontwikkel en dit saam met 4 dae van plaaslewe gekombineer om ‘n magiese ervaring vir die leerders te bied. Leerders het geleer om koeie te melk, melk en room van mekaar te skei, hul eie botter te maak, hoendereiers bymekaar te maak tot die gebruik van die modernste tegnologie beskikbaar. Ons glo dat ons graad 7-leerders die ondervinding baie verrykend gevind het. Baie dankie aan juff. Suné, Marecia en mnr. Keenen wat die graad 7-leerders vergesel het. Laaste, maar nie die minste nie, ‘n hartlike dank aan Kleinbosch vir die unieke ervaring en voorreg!


Afrikaans bly darem net ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:
‘n Kinkel in die kabel
Die uitdrukking verwys na ‘n onvoorsiene moeilikheid of wending wat ‘n saak inneem, m.a.w. wanneer iets gebeur wat die gladde verloop van sake belemmer.
Ek sluit dan af en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet. Sterkte vir al die sportaktiwiteite vanmiddag (swem, skaak en atletiek) asook môre (tennis by LS Brackenfell).
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF