Dit is vir my ’n wonderlike voorreg om al ons leerders, ouers/voogde en personeel die afgelope week ná ’n heerlike Oktober-vakansie terug by die skool te verwelkom. Ek hoop almal het die kort vakansie terdeë geniet. Verder glo ek almal se spreekwoordelike batterye is herlaai en slaggereed om die laaste kwartaal van die jaar met hope energie en entoesiasme aan te durf. Kwartaal vier is vanjaar slegs tien weke lank met heelwat opwindende skoolaktiwiteite wat gaan plaasvind.

Op Dinsdag, 06 Oktober, het ons Jannies en personeel met groot opwinding terug skool toe gekeer. Die eerste dag van die nuwe kwartaal word tradisioneel met ’n saalbyeenkoms begin waartydens ek almal amptelik ná die heerlike vakansie kon terug verwelkom. Mnr. Keenen het die saalbyeenkoms met ’n puik boodskap oor dankbaarheid geopen. Hierdie maand vier ons ook Onderwysers en mnr. Keenen het veral gefokus op die Internasionale Onderwysersdag wat op 05 Oktober wêreldwyd gevier is. Hy het onder andere die leerders versoek om ook dankbaar vir hul toegewyde onderwysers te wees wat so ’n belangrike rol in hul lewe speel.

Graag wil ek by sy boodskap aansluit en my persoonlike dankbaarheid as skoolhoof teenoor elke onderwyser en nie-onderwyser (administratief, terrein, nasorg en sekuriteit) by Laerskool Jan van Riebeeck uitspreek. Ons is werklik geseënd met toegewyde personeel wat werklik omgee deur ons leerders se beste belange op die hart te dra. Dus versoek ek ons skoolgemeenskap om ons personeel se deursettingsvermoë en veerkragtigheid veral dié maand te vier. Kom ons eer hulle en al die ander onderwysers in die land se positiewe ingesteldheid en erken hul leeue-aandeel wat daagliks hoop, rigting en betekenis aan ons land se toekoms gee. Hiermee salueer ek elke onderwyser wat elke dag sy/haar beste gee ter wille van ons kinders se toekoms en drome – dit is nie altyd ’n maklike beroep om te volg nie en dikwels ontvang onderwysers meer kritiek as krediet!

Tydens die saalbyeenkoms op Dinsdag, 06 Oktober, is die Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders van kwartaal 3 bekendgemaak en hul welverdiende sertifikate is oorhandig. Baie geluk aan die volgende elf gr. 7-leerders (alfabeties en die 10de en 11de posisies het presies dieselfde punt behaal) met jul harde werk en toewyding, ons is baie trots op julle:

  • Quinn du Toit
  • Neill Ferreira
  • Jamie Jordaan
  • Sophia Jooste
  • Lea Loubser
  • Karla Louw
  • Bella Naylor
  • Jana Nel
  • Ghia Pereira
  • Cato Terblanche
  • Dané Walker

Dan het Oktobermaand sommer net te skielik sy verskyning gemaak en die pragtige maand laat my altyd aan die bekende digter, C. Louis Leipoldt, se bekende gedig dink:

“Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!

Dan is die dag so helder, so groen is elke aand,

So blou en sonder wolke die hemel heerlik bo,

So blomtuin-vol van kleure

Die asvaal ou Karoo.”

So beskryf C. Louis Leipoldt die mooiste en magiese maand van die jaar in die tweede strofe van sy bekende gedig. Oktober bring beslis nuwe hoop vir veld, dier en mens. Dit is die tydperk wanneer blomme in volle mag blom en die landskap omskep word in die pragtigste kleure en geure. Die koue dae van die winter is veronderstel om iets van die verlede te wees, maar so ken ons die Moederstad wat dikwels vier seisoene in ’n enkele dag kan akkommodeer. Ek glo dat die warmer dae almal se gemoedstoestand sal opkikker en ons die laaste kwartaal met hernieude energie kan aanpak. Sien gerus die pragtige clivia-plante in ons skooltuin wat besig is om so mooi te blom. Hierdie pragtige blomplante is inheems aan Suid-Afrika en word dikwels in skaduryke plekke gesien. Hul oranje blomme bring kleur aan ons skoolterrein.

Hierdie week (6–9 Oktober) en volgende week (12–15 Oktober) is ons graad 7-leerders deur Babylonstoren genooi om by Kleinbosch aan ’n geïntegreerde leerprogram deel te neem. Leerders slaap daar oor en die Bou ’n Besigheid-program sluit prakties by entrepreneurskap, kommunikasie, probleemoplossing, kreatiewe denke, selfvertroue, samewerking en verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie aan. Leerders kry ook blootstelling aan praktiese tegnologie en prototipering, insluitend 3D-druk, waar hulle idees meer tasbaar kan maak, asook die bou van webtuistes. Hulle het ook geleer om koeie te melk – ek glo dat ons stadsjapies die oefening baie interessant gevind het. Ons glo verder dat ons graad 7-leerders die hele ondervinding baie verrykend gevind het. Baie dankie aan juff. Suné, Marecia en mnr. Keenen wat die graad 7-leerders vergesel.

Baie geluk ook aan ons adjunkhoof, juf. Marinda Brink, wat op Dinsdag, 06 Oktober, verjaar het. Mag die Here jou nuwe lewensjaar ryklik seën. Baie dankie vir alles wat jy vir die skool doen en beteken!

Afrikaans bly darem net ’n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

‘Dassie het skielik ’n stert gekry’

Die uitdrukking verwys na ’n persoon wat hom/haar skielik hoogmoedig gedra en dink hy/sy is beter as ander mense.

Ek sluit dan af en mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet.

Groetnis 
Naas Beets 
SKOOLHOOF