Die kwartaal het skaars afgeskop en die eerste twee weke is agter die rug.

Graag spog ek met ons o.13A-tennisspanne (seuns en dogters) wat vanaf 20 – 24 Junie aan die prestige Sun City-tennistoernooi deelgeneem het. Ons dogterspan het vanjaar hul titel gaan verdedig en hul baie goed van hul taak gekwyt deur bronsmedaljes te verower. Ons seuns het ook gewys dat hulle nie onderskat moet word nie deur ‘n sesde plek te behaal. Daar het vanjaar 18 seuns- en 17 dogterspanne aan die prestige-tennistoernooi deelgeneem en ek glo dat julle sal saam stem dat dit merkwaardig is dat ons as ‘n ‘klein skooltjie’ op nasionale vlak teen heelwat groter skole kompeterend kan wees. Baie geluk aan ons dogters en seuns wat ons so trots gemaak het en in die proses het hulle ook as ware ambassadeurs vir ons skool by Sun City opgetree. Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogter- en seunspanne suksesvol bestuur en vergesel het. Laat my ook toe om Yurich Daniels (buite-tennisafrigter) hartlik te bedank vir sy instrumentele rol oor die afgelope klompie jare om tennis by ons skool te ontwikkel.

Baie dankie ook aan al ons ouers wat die ouerafsprake op 27 en 28 Julie by jul kind(ers) se onderskeie onderwysers bygewoon het. Baie dankie dat julle tyd gemaak het om die akademiese vordering van jou kind(ers) met hul onderwysers te bespreek. Hou ook ingedagte dat kinders nie net bekommerd is oor hul eie punte nie, maar ook oor hul ouers se reaksie daarop. Ek glo dat julle die geleentheid gebruik het om weer met onderwysers kontak te maak, insigte te deel en saam te werk om jou kind(ers) se leerervaring te verbeter. Ek glo dat ‘n spograpport ‘n groot seëning is, maar beslis nie die geheelbeeld van jou kind(ers) bepaal nie. Baie dankie dat ons kollektief saam met julle as ‘n span kan funksioneer om jul kind(ers) verder te ondersteun sodat hulle met selfvertroue probleme kan aanpak en leer om dit op te los.

Op Maandag, 27 Julie, het ons skool ook vir die eerste keer ‘n Kodering- en Robotikadag vir die Grondslagfase-leerders aangebied. Ons graad 1- tot 3-leerders het soveel pret gehad en met groot entoesiasme aan die dag deelgeneem. Die bou en programmering van die kabelkarretjies het suksesvol afgeloop en baie opwinding veroorsaak. Baie dankie, juf. Suné, vir al die puik reëlings, asook die onderskeie onderwysers wat die dag met soveel entoesiasme aangepak het. Ons moet nooit die waarde van leer en onderrig buite die vier mure van ‘n klaskamer onderskat nie. Dit is juis een van die redes waarom ons op ‘n gereelde basis opvoedkundige uitstappies en instappies vir ons leerders reël.

Ek gaan die kwartaal weer voort om nog bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):

“Ledigheid is die duiwel se oorkussing”

Die uitdrukking verwys dikwels na ‘niksdoeners’ wat dikwels onheilighede bedink, m.a.w. wanneer ‘n mens besig is, dan kry hy/sy nie tyd om onbenullighede uit te dink nie.

Ek sluit dan die tweede week van die nuwe kwartaal af en my beste wense vir ons mini-sportdag (mini-rugby en -netbal) wat môre by ons skool aangebied word. Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesinne!

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF