Dit is met gemengde gevoelens dat ons aankondig dat vier van ons geliefde terreinwerkers, aan die einde van die jaar, by ons skool klaarmaak. Christopher, Elliam, Matthews en Patrick gaan, wanneer die skool vir Desember-vakansie sluit, terugkeer huis toe. Hulle is almal al meer as 16 jaar lank by die skool en is in murg-en-been Jan van Riebeeckers. Hulle is vir ons ontsettend kosbaar en het daagliks gehelp om ons skool veilig en skoon te hou. Hulle was en is altyd bereid om die spreekwoordelike ekstra myl te loop om te verseker dat alles wat ons aanpak, hetsy dit akademiese verryking, kultuurgeleenthede, sportdae of sosiale funksies is, vlot verloop.
Hierdie vier terreinwerkers het hulself daagliks by die hartklop en ritme van ons skool ingeleef en het met toewyding die skoolgemeenskap gedien. Hulle is geliefd onder leerders, personeel, ouers en selfs mense wie om en naby die skool woon en werk. Ons is hulle oneindig dankbaar vir alles wat hulle vir die skool gedoen en beteken het. Ons gaan hulle baie mis.
Gedurende hulle tyd by die skool het hulle hard gewerk om hul families op verskeie maniere te ondersteun. Elkeen het al vir hulself ‘n huis tuis gebou en maak vir ‘n geruime tyd planne om te kan hervestig en herenig met hul families. Die tyd het nou aangebreek waar dit sin maak om die volgende stap te neem. Ons is saam met hulle opgewonde vir die nuwe hoofstuk in hul lewens en wens hulle almal voorspoed en sukses toe, maar is ook hartseer om hulle te verloor.
Die skool en Opvoedingstrust het reeds op verskeie maniere ingetree om hulle te ondersteun met hul hervestigingsplanne om sodoende hulle te verseker dat hulle in ‘n beter posisie sal wees om ‘n nuwe lewe tuis te bou. Ons wil hulle graag ondersteun sodat hulle kan voortbou op dit wat hulle reeds vermag het en help dat hulle en hul families tuis kan floreer.
Elkeen van hierdie vier manne het ‘n besonderse bydra tot ons skool se sukses gelewer. Ons is hulle oneindig dankbaar en wil graag die geleentheid vir ons ouers gee om te help deur ‘n bydrae tot hul hervestigingskostes te maak. Ons sal dus, vir die volgende drie maande, ‘n spesiale fondsinsameling op Karri oopmaak sodat ouers vir wie die saak naby aan die hart lê, ‘n geleentheid bied om ‘n donasie te maak.