So kom ons vandag aan die einde van die tweede laaste week van ‘n opwindende kwartaal en môre, Saterdag, 21 Maart, word Menseregtedag in Suid-Afrika gevier. Dit is so hartseer dat min mense hulle werklik aan die betekenis van die belangrike dag steur en dit bloot as nog ‘n openbare vakansiedag sien. Hierdie geskiedkundige dag was juis ingestel ter nagedagtenis aan ‘n tragiese gebeurtenis in ons land se geskiedenis. Die dag herinner ons aan die afgryslike gebeure wat op 21 Maart 1960 in Sharpeville afgespeel het. Duisende swart mense het op die dag teen die destydse paswette betoog. Die skare is egter deur die polisie uitmekaar gejaag, terwyl daar op hulle geskiet is en 69 mense noodlottig gewond is. Sedert 1994 word die dag jaarliks gevier om die slagoffers se tragiese dood te herdenk en seker te maak dat daar nooit weer so ‘n tragedie in ons land sal gebeur nie. Ek glo dat die herdenking van die spesiale dag ‘n waardevolle bydra lewer sodat alle mense met waardigheid, gelykheid, geregtigheid en in vrede in ons pragtige land kan leef.

Een kenmerk van Laerskool Jan van Riebeeck wat ons van baie ander skole onderskei, is dat ons ‘n waardegedrewe skool in die ware sin van die woord is, en beslis nie net op papier nie. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om daagliks te sien hoe leerders, personeel en ouers ons kernwaardes (respek, omgee, verantwoordelikheid en eerlikheid) uitleef. Dit word bevestig weens die feit dat daar op Dinsdae tydens die weeklikse saalbyeenkoms gereeld spesiale sertifikate, naamlik Jannie van die Week-sertifikate, aan leerders uitgereik word wat ons skool se kernwaardes uitgeleef het om ‘n verskil te maak. Dit is nie so maklik om te kwalifiseer vir die spesiale sertifikaat nie, want dit is onderhewig aan streng kriteria en onderwysers rig die nominasies aan ‘n paneel vir goedkeuring.

Op Dinsdag, 17 Maart, het ons tydens ons saalbyeenkoms die Jannie van die Week-sertifikaat aan ‘n nuwe leerder, naamlik Benjamin Blake (Gr. 4), oorhandig, waar hy in die bresse vir ‘n Gr. 3-leerder getree het toe die seun tydens ‘n pouse deur sy mede-maats geterg is. Hy het die skuldige partye onmiddellik aangespreek en genoem dat die tipe gedrag nie ons waardes komplimenteer nie, want Jannies moet nie ander boelie nie. Die seun wie onder sy maats deurgeloop het, het my persoonlik versoek om aan Benjamin ‘n Jannie van die Week-sertifikaat toe te ken, want hy het vir hom opgestaan. Ek dink dit is baie spesiaal en dit bevestig die vaslegging van ons kernwaardes.

Baie dankie aan al die Dapper Stappers wat op Saterdag, 14 Maart, Tafelberg se ‘pipetrack’-staproete gestap het. Die snikhete hittegolf het veroorsaak dat daar slegs 12 leerders en hul ouers saam met juff. Ilse-Marié en Jodene die pragtige staproete aangedurf het. Die Pyproete is die perfekte Tafelberg-staproete vir beginnerstappers sowel as diegene wat ‘n meer ontspanne en minder uitdagende stapervaring wil geniet. Die Pyproete volg ‘n pad tussen Kloofnek en Kasteelpoort, langs Tafelberg. Alhoewel die Pyproete nie heeltemal tot bo-op Tafelberg gaan nie, sirkel dit om die berg. Die roete het asemrowende uitsigte oor Leeukop, die Atlantiese Oseaan, die Twaalf Apostels-bergreeks en die pragtige Moederstad.

Gedurende die afgelope week het die volgende opwindende aktiwiteite plaasgevind:
  • Op Dinsdag, 17 Maart, het ons vanaf 18:00 ‘n kombuistaal-kosgesprek en demonstrasie in die saal aangebied. Kombuistaal is ‘n resepteboek vol gesonde resepte en rympies vol pret wat kinders leer om reg te eet. Die resepteboek is saamgestel deur Vickie de Beer en die pragtige versies is deur die bekende Antjie Krog, ook ‘n ouma by ons skool, geskryf. Die resepteboek is dus deur middel van ‘n opwindende ouer-en-kind sessie deur Vickie de Beer aangebied en ons ouers en leerders het die geleentheid terdeë geniet. Baie dankie aan juf. Marinda vir al die puik reëlings.
  • Gloei en Glinster! Dis presies wat die gr. 5 – 7-leerders gisteraand (Donderdag, 20 Maart) in ons skoolsaal gedoen het. Dankie aan juf. Mardry en die sosiale komitee wat ‘n vermaaklike somersokkie aan ons leerders gebied het. Musiek, gesigverf, foto’s en kos … wat is dan nou beter. Ook ‘n groot dankie aan al die onderwysers wat saam kom glinster het! Dis hierdie tipe samehorigheid en feestelikheid wat vir die ongelooflike goeie gees onder ons leerders verantwoordelik is. 

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

‘’Boontjie kry sy loontjie’’


Die uitdrukking beteken elkeen kry sy verdiende loon, m.a.w. jy kry wat jy verdien, positief of negatief, maar gewoonlik word dit in ‘n negatiewe lig gesien. In Engels: ‘’you reap what you sow’’.

Sterkte en geniet ons eerste wintersportnaweek wat vanmiddag met hokkie tuis teen Laerskool Totius en weg teen Curro Durbanville (slegs o.13A-spanne) afskop, en môre geskied die netbal en rugby tuis teen Laerskool Kampsbaai. Ek sien uit om julle langs die sportvelde oor die naweek te verwelkom.

Ek sluit dan af met goeie wense en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesinne geniet.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF