Hoe is dit moontlik dat dit vandag weer ‘n Vrydag van die dertiende is, en nogal twee maande opeenvolgend? ‘n Mens sou kon dink een vir die jaar is meer as genoeg, maar dit wil voorkom of 2026 vol verrassings is. Dit stop ook nie by twee van hierdie buitengewone Vrydae nie. Die rare kalender sluit nog ‘n Vrydag die dertiende in, wat later in November vanjaar gaan plaasvind. Vrydag die dertiende vind dus vanjaar drie keer plaas – my innige simpatie vir diegene wat ‘n bietjie bygelowig is. Hierdie verskynsel gebeur beslis nie gereeld nie, want dit kan net plaasvind as die maand op ‘n Sondag begin. Dit het laas in 2015 plaasgevind en sal weer sy verskyning in 2037 maak. Hierdie is dalk nuttelose inligting, maar tog is dit ‘n interessante verskynsel wat menigte mense baie benoud laat.
Op Vrydagoggend, 06 Maart, het ons o.7 – o.13 netbal- en rugbyspanne om 08:30 met groot opwinding na Porterville vertrek om aan Hoërskool Porterville se jaarlikse Bulfees deel te neem. Dis is beslis ‘n ‘bul’ van ‘n sportfees wat jaar-in en jaar-uit uitstekend gereël word. Die Bulfees raak net elke jaar groter en groter, maar hulle kry dit beslis reg om die sportfees baie opwindend aan te bied terwyl ons die unieke plattelandse gasvryheid ook terdeë kon geniet. Vir die eerste keer het ons o.7 netbalspan aan die fees en aan hul eerste wedstryde deelgeneem – hulle het puik gevaar, en dit so vroeg in die seisoen! Ek glo hul ouers het die nuwe ervaring net soveel soos die spelers geniet. Baie geluk aan al ons spanne wat op die dag puik tydens die voorseisoentoernooi gevaar het. Baie dankie aan die personeel en afrigters wat die spanne vergesel het en so mooi na ons leerders omgesien het. ‘n Hartlike dank aan al die ouers asook grootouers wat al die pad na Porterville gereis het om hul kinders/kleinkinders en hul onderskeie spanne te ondersteun. Ons leerders, personeel en afrigters se gedrag op en vanaf die veld was weereens onberispelik deurdat hulle ons kernwaardes tydens die sportdag so mooi uitgeleef het. Ek is vir seker die trotste skoolhoof in die land!


Ons junior koor, onder leiding van juf. Bea en deur mnr. Ben begelei, het ons aangenaam verras met ‘n uitstekende optrede tydens Dinsdag, 10 Maart, se saalbyeenkoms. Hulle het drie nuwe liedjies met volle oorgawe gesing en ons baie trots gelaat. Welgedaan juf. Bea en mnr. Ben met al jul harde werk en toewyding om ons junior koor verder te ontwikkel.
Graag herinner ek julle dat die opwindende sportopgraderingsprojek agter by die skool in kwartaal 2 gaan afskop. Die eerste grond word op Maandag, 13 April 2026, gebreek net na afloop van die Kaperjolle (voedselfees) wat op Saterdag, 11 April, plaasvind. Ek glo dat ons hele skoolgemeenskap nie kan wag dat hierdie indrukwekkende fasiliteit met pawiljoenspasie, sportkleedkamers, ‘n sportkantoor, ‘n moderne koderings- en robotikalokaal, sportstoorgeriewe en ‘n klubhuis gebou gaan word nie. Dit gaan beslis nie net ‘n estetiese verbetering van die skoolterrein wees nie, maar dit gaan ook uiters funksioneel wees om ons huidige sport- en koderingsprogram verder te komplimenteer. Volg die skakel om ‘n kort animasie van die opwindende bouprojek te sien – SPORT: BOUPROJEK. Indien jy dalk intussen oorweeg het om ook ‘n bydrae tot die sportopgraderingsprojek te maak, is jy altyd welkom om my by skoolhoof@jvrprim.co.za te kontak.
Hierdie afgelope week het Moeder Natuur ons natuurlik herinner dat die somer nog lank nie verby is nie. Soos julle bewus is, stel ons nie sommer sportoefeninge of wedstryde as gevolg van die weer af nie, maar vanaf Woensdag, 11 Maart, het die hitte tot meer as 40°C gestyg en kon ons nie die kans vat om ons leerders aan hitteuitputting of moontlike sonsteek bloot te stel nie. Die hittegolf het ons verder genoodsaak om die gr. 6-kamp vanaf 11–13 Maart te Wellington na 25–27 Maart te skuif. Ons dink die stad was warm, maar Wellington het vanaf 11 Maart rekordtemperature van meer as 47°C beleef. Baie dankie vir almal se begrip in die verband.
Ek herinner weer almal om julle kind/ers te motiveer om Afrikaanse leesboeke te lees as deel van ‘n kollektiewe poging om ons mooi taal te bevorder. Baie dankie aan juf. Marecia en haar mediasentrummonitors met die stigting van die ‘Boekbende’, waar ons leerders elke eerste Woensdag van die maand in die mediasentrum bymekaar kom om in Afrikaans te lees! Moedig asseblief jul kind/ers aan om dit by te woon en leesboeke by die mediasentrum uit te neem.

Graag wil ek vir juf. Louise, departementshoof van Huppelland, gelukwens met hul huweliksbevestiging wat môre in die pragtige Franschhoek plaasvind. Mag die Here jou en Jakkie se huwelik ryklik seën!
Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:
“’n Haastige hond verbrand sy mond.”
Die uitdrukking beteken dat oorhaastige besluite dikwels nadelige gevolge het. Ons weet ook dat indien jy oorhaastig is, dit tot brouwerk sal lei.
Sterkte vir ons o.13-netbalspan, onder leiding van juf. Ischké, asook die o.11-rugbyspan, onder leiding van mnr. Rashard, wat vanmiddag aan ‘n toernooi te Laerskool De Kuilen in Kuilsrivier deelneem. Die van julle wat môre aan die Dapper Stappers se staproete gaan deelneem, moet dit terdeë geniet. Baie dankie aan juff. Ilse-Marié en Jodene wat die stappers gaan vergesel.
Ek sluit dan af met my beste wense en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesinne geniet.