Beide ons kore het hierdie jaar afgeskop met die aanleer van wonderlike nuwe repertorium. Ons senior koor het die afgelope naweek ’n oefenkamp gehad, waar die koormaats mekaar beter leer ken het en hulle goeie vordering gemaak het met hul musiek. Die nuwe koorlede – en veral ons Graad 4’s – skakel sommer reeds goed in by die groep en word mooi deur hul koor-buddies gedurende die oefeninge ondersteun.
Die junior koor het hierdie jaar vir juf Bea de Wit aan die stuur, en saam met mnr Ben is hulle reeds volstoom aan die gang elke Maandag- en Vrydagoggend. Die junior koor het ook Graad 1’s in die koor verwelkom hierdie jaar, en hulle pas baie mooi by die nuwe roetine aan.
Alle ouers wat ’n kind in een van die twee kore het, moet asseblief by die Senior Koor- en/of Junior Koor-WA-groepe aansluit. Daar deel ons belangrike inligting rakende optredes en oefeninge.
Ek bevestig weer ons kore se oefentye:
Junior Koor
Maandag- en Vrydagoggend: 07h45–08h15
Senior Koor
Dinsdag: 07h30–08h30
Donderdag: 11h30–12h30
Indien jy afwesig is vir ’n oefening of optrede, moet ’n verskoning vooraf by juf Rolene (senior koor) of juf Bea (junior koor) ingedien word.
Ons sien julle by die optredes!