Die eerste week van die eksamen vir die graad 7’s is agter die rug, terwyl die graad 4 – 6-leerders gister, 13 November, met hulle eksamens afgeskop het. Die grondslagfase se finale assesserings vir die jaar het ook die week tot ’n einde gekom.

Baie dankie dat julle jul kind/ers tydens die finale eksamens ondersteun sodat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Baie dankie dat julle ook sal help dat jul eie vrese en angs vir die komende eksamens nie in jul kind/ers manifesteer nie. Ek weet ook dat julle bekommerd is dat hulle goed in die komende eksamens sal vaar. Indien jou kind/ers spogpunte behaal, is dit wonderlik en julle as ouer/ouers is geseënd, maar dit is ongelukkig nie vir almal beskore nie. Ons leerders doen die beste wat hulle kan op die bepaalde tyd. Daar is nog hope tyd vir ontwikkeling wat met genoegsame ondersteuning in plek sal val. Ons verloor daarom nie hoop nie, maar is trots op dit wat ons leerders vermag.

Dit het verder onder my aandag gekom dat sommige ouers ons onderwysers die afgelope tyd onder geweldige druk oor die eksamens plaas, laat saans boodskappe stuur en onmiddellike terugvoer verwag, en in die proses baie krities is oor die komende eksamens, die eksamenrooster en hoe ons dit bestuur. Ek het dus besluit om my nuusbriefgedeelte vir week 5 slegs aan dié onderwerp te wei en vir julle bietjie meer agtergrond te gee, veral oor die eksamenrooster en die finalisering van punte.

Moet asseblief nie vergeet dat ons ’n openbare skool is wat WKOD se voorskrifte moet eerbiedig nie. Dus bepaal die distrikskantoor (MCED), onder leiding van die kringbestuurder, wanneer ons die finale eksamens mag begin skryf asook wanneer dit moet eindig, met ongelukkig geen blokdae tussenin nie. Antwoordstelle per vak moet binne ’n sekere tydperk gemerk en gemodereer word, en dan word die punte so spoedig moontlik op die departementele skedules ingevoer wat dan die finale punte verwerk (daar is gewigte in die formules ingebou om die finale punte te bepaal – ons het ook nie daaroor beheer nie). Punte moet ook teen ’n sekere sperdatum ingevoer wees, en dan geskied promosie en progressie deur die departement op ’n dag en tyd wat hulle bepaal.

Wat presies is promosie en progressie? Indien ’n leerder aan die minimum promosievereistes voldoen, vind promosie van die leerder na die volgende graad plaas, m.a.w. ’n leerder slaag al die vakke en word promoveer na die volgende graad. Indien die leerder nie aan die promosievereistes voldoen nie en die leerder het reeds die spesifieke jaar in hierdie fase herhaal, word progressie toegepas. Progressie beteken dat die leerder na die volgende graad oorgeplaas word met die onderneming dat daar ondersteuning aan die leerder gebied sal word om die nodige vereistes te bereik. Progressie gaan gepaard met voorlegging van bewyse van ondersteuning (IOP – individuele ondersteuningsplan) wat in die daaropvolgende jaar moet geskied, asook wie daarvoor verantwoordelik gaan wees.

Promosie en progressie vir Gr. R–3 en 4–7 vind vanaf 26 November op verskillende dae plaas, aangesien ons dan elke leerder se gerekordeerde bewyse van assessering, m.a.w. alle punte vir kwartaal 1–4, aan hulle voorlê om afgeteken te word. Ek glo dat julle ook kan insien dat dit deeglike voorbereiding vereis en baie tyd neem om promosie en progressie af te handel voor skole aan die einde van die jaar sluit. Dit is ook een van die redes dat ons nie oor ’n langer tydperk of later in die jaar kan eksamen skryf nie.

Ek wil net graag uitwys dat hierdie net ’n eksamen is en nie ’n kompetisie nie! Ons is net ’n laerskool – maak gerus seker dat jou kind/ers verstaan dat dit belangrik is om vir die eksamen voor te berei, maar ook dat die uitslae nie hul as leerder definieer of bepaal watter tipe persoon hy/sy is nie. Nie almal kan goed in Wiskunde presteer nie; dalk is jou kind eendag ’n kunstenaar of akteur en maak Wiskunde dalk nie saak nie, of dalk word hy/sy eendag ’n entrepreneur en maak Geografie- en Taalpunte dalk nie eers saak nie. As eksamenpunte so belangrik is, dan sal onder andere alle dokters, ingenieurs, geëktrooieerde rekenmeesters en aktuarisse mos die enigste gelukkige mense in die wêreld wees.

Ek het ook voorheen genoem dat eksamenpunte vir seker nie karakter, omgee, empatie en kreatiwiteit meet nie. Elke kind ontwikkel teen sy eie tempo – ons het vanjaar weer gesien hoe oud-Jannies wat in hul graad 7-jaar by ons nie die Top 10-akademiese posisies beklee het nie, vanaf graad 8 begin uitskiet het en teen matriek as akademiese uitblinkers uitstaan. Moet dus asseblief nie jou kind/ers op laerskoolvlak onnodig druk vir uitmuntende punte nie, net omdat jy dit op laerskoolvlak behaal het nie.

Ons onderwysers het die hele jaar uit hul pad gegaan om die leerders so goed moontlik vir eksamens voor te berei. Ons het die eksamenrooster betyds aan ouers/voogde versprei om genoeg tyd vir voorbereiding te gee. Ek, as skoolhoof, sien dat eksamen ’n belangrike tydperk van groei en ontwikkeling (aanleer van vaardighede) vir leerders bied, en nie ’n tydperk van prestasie en angs nie – daarvoor het ek julle as ouers se begrip nodig. Ons moet nooit uit die oog verloor dat dit moontlik ’n groter prestasie is as jou kind/ers ’n hoë emosionele intelligensie (EI) het as net ’n hoë intelligensiekwosiënt (IK) nie.

’n Kind se IK word dikwels as deurslaggewend vir prestasie beskou, maar emosionele intelligensie (EI) word al hoe meer as die belangrikste bepaler van sukses beskou. Kinders word nie met EI gebore nie, maar dit word oor tyd aangeleer, en ek glo ons skool help om dit oor tyd te ontwikkel. ’n Hoë EI beteken, in ’n neutedop, dat ’n mens jou sterk- en swakpunte verstaan, goeie menseverhoudinge handhaaf en enige situasie met selfvertroue kan hanteer en aanpak. Dus, moedig asseblief jou kind/ers net aan om hul beste te doen, vir ander om te gee en dat julle nog steeds vir hulle lief is, ongeag die uitslae.

Dit is dan, soos die vorige weke, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en ek sluit af met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking:

“Is daar ’n voëltjie onder jou hoed?”

Die uitdrukking word gebruik as iemand ’n huis instap met ’n hoed of ’n mus op sy kop en hy (gewoonlik ’n man of ’n seun) vergeet het om dit af te haal voordat hy die huis binnegaan.

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne, en mag die Bokke die naweek weer wen – en dié keer teen Italië, ook bekend as die Azzurri.

Naas Beets

SKOOLHOOF