Week 2 van die laaste kwartaal kom dan vandag te vinnig tot ’n einde, maar het gelukkig met groot opwinding op Maandag, 20 Oktober, afgeskop met die aanbieding van ons jaarlikse en gewilde matrieksaal. Dit is al tradisie dat ons jaarliks al die matrikulante wat by ons graad 7 voltooi het, uit te nooi na ’n spesiale matrieksaal. Ons het dus vanjaar weer al die 2025-matrikulante wat tydens 2020 by ons in graad 7 was, uitgenooi om die spesiale saalbyeenkoms saam met ons leerders en personeel by te woon om vir hulle sterkte vir die komende matriekeksamen toe te wens.
Ons nooi nie net Hoërskool Jan van Riebeeck se matrikulante wat by ons in die laerskool was nie, maar alle matrikulante wat in graad 7 by ons was. Die 2025-matrikulante moes in hul graad 7-jaar met Covid-uitdagings oor die weg kom, en hulle het heelwat van hul graad 7-skooljaar gemis as gevolg van al die drakoniese inperkings. Ons was baie bevoorreg dat die 2020 Hoofdogter en Hoofseun, Emma Bartel en Cayle Stoltz, ’n kort toespraak kon lewer. Baie dankie ook aan Jana Brink, tans die Hoofdogter van Hoërskool Milnerton, wat ook ’n baie inspirerende toespraak gelewer het.
My beste wense vergesel die merkwaardige matrikulante vir die komende matriekeksamen. Hulle moet nou al die harde werk wat hulle tot gr. 12 gebring het in aksie omskakel om vir hulle ’n blink toekoms te verseker. Baie dankie aan juf. Marinda vir al die puik reëlings om die spesiale matrieksaal moontlik te maak. My beste wense vergesel dan ook die matrikulante en onderwysers van Hoërskool Jan van Riebeeck vir die belangrike eksamen, en mag hul uitslae alle verwagtinge oortref.

Op Maandag, 20 Oktober, het ons ook ’n besoek van die onderwysdistrikskantoor (MCED) ontvang waartydens ons kringsbestuur, mnr. Zola Pahlana, ons kwartaal 3 se “Term Performance” kom afteken het. In ’n neutedop behels dit hoofsaaklik ’n akademiese evaluasiebesoek waartydens kwartaal 3 se akademiese punte gekontroleer word, asook dat dit behoorlik gemodereer is. Verder is alle registers (bv. leerderbywoning, personeelbywoning, verlof, siekte en aftyd) by die skool vir volledigheid en akkuraatheid afgeteken. Mnr. Pahlana het my gevra om die personeel, skoolbestuur en beheeraad te komplimenteer vir die puik werk wat by ons skool verrig word. Ek is baie dankbaar vir ons toegewyde en hardwerkende personeel asook ’n dinamiese beheerraad wat ons skool net na nog hoër hoogtes ter wille van ons Jannies lei!
Verskeie tennis- en krieketwedstryde, asook ’n swemgala, het alreeds die eerste twee weke van die kwartaal plaasgevind, en ons spanne en swemmers het weer eens puik gevaar. Graag deel ek die volgende spog-sportuitslae:
- Swemgala te Laerskool Kampsbaai op Vrydagmiddag, 17 Oktober:
Ons behaal x10 eerste plekke; x15 tweede plekke; x15 derde plekke; x7 vierde plekke; x3 vyfde plekke en x1 sesde plek tydens die bogenoemde gala. Baie geluk aan ons Hoof van Swem, juf. Ilse-Marié, en ons swemmers met die puik uitslae.

-
Tennistoernooi vir o.13A-spanne te Laerskool Brackenfell op Saterdag, 18 Oktober:
Ons o.13A-seunspan (foto onder, v.l.n.r.: Kohl Kushner, Nils le Roux, Rafa Lamprecht en Ben Esterhuyse) het puik gevaar en ongelukkig in die finaal verloor en dus ’n 2de plek behaal. Ons o.13A-dogterspan (foto onder, v.l.n.r.: Maia du Toit, Jeanne van Heerden, Annalene Viljoen en Mia-Lynn Podesta) het ’n derde plek behaal. Baie geluk aan ons Hoof van Tennis, juf. Suné, en ons eerstespanspelers met die puik prestasies.


Tans is die onderwysers, onder leiding van hul graadhoofde en fasehoofde, besig met die 2026-klasindelings. Sommige ouers mag dalk nie bewus wees nie, maar ons het ’n welgevestigde klasindelingsbeleid om klasse regverdig vir die volgende jaar in te deel met die fokus op die leerder in totaliteit. Die volgende faktore word in ag geneem met die indeling van klasse:
-
Akademiese uitslae;
-
Leerderverhoudinge (vriendskappe);
-
Mediese aanbevelings en uitdagings;
-
Leerderpersoonlikhede moet sover as moontlik met onderwyserpersoonlikhede versoen;
-
Leerders met uitdagings per klas;
-
Balans tussen seuns en dogters per klas;
-
Taalvaardighede (uitdaging met die Afrikaanse taal);
-
Regverdige verdeling van leerdergetalle per onderwyser.
Ek wil veral die grondslagfase-ouers/voogde vir 2026 vriendelik versoek om nie onderwysers te nader om versoeke te rig om jul kinders volgende jaar by ’n spesifieke onderwyser te plaas nie. Ons is baie konsidererend met die klasindelings, maar ek glo julle kan verstaan: as ons een ouer se versoek toelaat, dan moet ons almal se versoeke toelaat, en dit is tog prakties nie moontlik en uitvoerbaar nie. Ons het goeie en toegewyde onderwysers, en by voorbaat dankie dat julle ons in die proses van klasindelings vertrou. Huppelland volg nie spesifiek hierdie klasindelingsbeleid nie, want die leerders is nog baie jonk.
Ek mag dalk vir die volgende stelling in die moeilikheid beland:
Kinders is meer aanpasbaar as wat ons besef en dikwels is ons as ouers oorbeskermend. Ons kan al ons leerders spreekwoordelik in watte toedraai, maar ons weet die lewe werk nie so nie en dit is nie volhoubaar nie. Ek bedoel beslis nie dat ons onnodig spanning op leerders moet plaas om hulle vir die lewe voor te berei nie, maar eerder dat ons oor tyd stelselmatig leerders leer om aanpasbaar, selfstandig en onafhanklik te word sodat die transisie van laerskool na hoërskool soomloos kan geskied, soos dit tans is. Ons skool is ’n veilige omgewing waar ek as skoolhoof wil seker maak dat elke leerder sy laerskoolloopbaan geniet en vreugde daaruit put. Baie dankie dat julle ons in dié verband sal vertrou.
Dis vir ons baie sleg wanneer ‘n Jannie-personeellid ons verlaat, maar wanneer drie onderwyseresse en een assistent-juffrou ons verlaat, is ons sommer baie hartseer. Elkeen van hierdie personeellede het wonderlike, mooi redes waarom hulle vir eers vir LS Jan van Riebeeck vaarwel gaan roep. Ons allermooiste wense vergesel hulle! Lize Terblanche (gr. 1), Maricqe Coetzer (gr. 2), Marlize ter Borg (gr. 3) en Tine-Louise (assistent) gaan groot leemtes in ons Jannie-harte los. Ons is uiters dankbaar om reeds bekwame onderwysers in hul plek te kon aanstel wat vanaf 1 Januarie 2026 in ons skool se diens sal wees: Mieke Eefting (gr. 1), Anthea Gravin (gr. 2) en Monica Robertson (assistent). Ons is in die proses met die gr. 3-aansoeke en onderhoude en sal so gou ons kan hierdie onderwyser ook bekendmaak.
Dit is dan, soos die vorige week, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:
“Die muggie uitsif, maar die kameel insluk.”
Die uitdrukking verwys na iemand wat slegs op kleinighede fokus, maar nie op belangrike en ernstige dinge ag slaan nie. Die uitdrukking kan ook verwys na ’n persoon wat iets wat onskuldig is, graag veroordeel, maar terselfdertyd ’n groot sonde sonder enige skaamte begaan.
Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne. Sterkte met die swemgala wat vanmiddag by Curro Century City plaasvind asook môre se mini-kriekettoernooi te Laerskool Stellenbosch, en die junior koor wat môreoggend by die PlezierMarkt te Hoërskool Jan van Riebeeck optree.
Vriendelike groete
Naas Beets
Skoolhoof