Die tweede laaste week van die besige kwartaal het omtrent vinnig verbygesnel en vandag het ons met die opwindende, tweejaarlikse akademiese- en kultuurweek afgesluit. Die week voel natuurlik ook korter met die publieke vakansiedag, naamlik Erfenisdag of ook bekend as ‘Braaidag’ wat ons jaarliks op 24 September vier.
Ons land spog met ‘n magdom kulture en ‘n mengelmoes van goeie mense. Daarom vier ons jaarliks Erfenisdag op 24 September. Tydens die spesiale openbare vakansiedag vier ons as trotse Suid-Afrikaners ons kultuur en ons kosbare erfenis. Kom ons gebruik die dag om as ‘n trotse nasie ons wonderlike land, sy pragtige mense, diere en natuurskoon te waardeer. Erfenisdag is juis in 1996 ingestel om die kultuur en die unieke diversiteit van ons reënboognasie te vier! Jy kon dus op die spesiale dag self besluit gebaseer op jou taal, geloof, kultuur en herkoms om iets te doen om jou eie erfenis te vier, asook om die geleentheid te gebruik om meer oor ander kulture en hul kosbare erfenis te leer. Ek glo almal het die dag omhels en ‘n smaaklike vleisie op die kole gegooi of aan iets heerliks eie aan jou kultuur gesmul.
Om ons wonderlike erfenis te vier, het ons skool op Donderdag, 25 September, spesiaal ons trotse landsvlag in die vierkant ‘gebou’. Elke graad het ‘n ander kleur van die landsvlag soos volg verteenwoordig:
Graad 1: swart
Graad 2: geel
Graad 3: groen
Graad 4: rooi
Graad 5: wit
Graad 6: groen
Graad 7: blou
Die akademiese- en kultuurweek was weereens ‘n reuse sukses en ons Jannies het al die opwindende aktiwiteite en ‘buite-die-klaskamergeleenthede’ terdeë geniet. Ek wil nie graag ‘n spesifieke aktiwiteit uitsonder nie, maar ek kan nie anders as om Ouma-en-Oupadag uit te sonder nie.
Ek is so dankbaar vir ons leerders se grootouers wat van heinde en verre gereis het om die spesiale dag met hul kleinkinders te deel. Vanjaar het ons die formaat verander om heelwat meer oumas en oupas in die saal te akkommodeer. Soos hulle sê: ‘hoe meer siele hoe meer vreugde’. Die hoogtepunt van ouma-en-oupadag was beslis die gassprekers wat drie generasies verteenwoordig. Ds. Marietjie (‘n ouer by ons wat ook elke Donderdag Jannies vir Jesus by ons skool en Huppelland aanbied), haar pa die bekende dr. Braam Hanekom en Marietjie se seun, Izak (Gr. 2), het ‘n dialoog oor hedendaagse gesin- en familieuitdagings gevoer. Daar is onder andere van hoe grootouers dink en redeneer oor hoe hul kinders hul kleinkinders behoort groot te maak bespreek en met liefde verskil. Dit is alles deel van moeilike familiegesprekke wat verskeie gesinne ervaar en wat dikwels tot meningsverskille kan lei. Ds. Marietjie, wat ons ouers verteenwoordig, versoek grootouers om meer tyd saam met hul kleinkinders te spandeer, minder te kritiseer of voor te skryf van hoe die moderne ouer hul kinders behoort groot te maak en meer begrip te toon dat dit vandag heelwat moeiliker is om kinders groot te maak as ‘n klompie dekades gelede. Dr. Braam, wat die grootouers verteenwoordig, noem dat hul altyd maar stres oor hul kinders en hoe hulle die kleinkinders grootmaak. Izak, wat die kleinkinders verteenwoordig, voel dat hulle graag meer dinge saam met ouma en oupa wil doen byvoorbeeld in stede van lekker koek by ouma en oupa eet, wil hulle eerder kosbare tyd saam met ouma en oupa spandeer deur hulle te help om die koek fisies te bak en te versier.

Ek het ook tydens my bedankingsgesprek genoem dat grootouers nooit die belangrike rol wat hulle in hul kleinkinders se lewens speel, moet vergeet of onderskat nie. Oumas en oupas is die spreekwoordelike gom wat families oor die jare bymekaar hou. Hulle deel hul kosbare lewenservaring en wysheid met hul kinders en kleinkinders – wat ‘n wonderlike voorreg! Baie dankie aan elke ouma vir al haar liefde en omgee, asook al die oupas vir jul wysheid, familiestories en advies. Ons salueer julle vir die belangrike rol wat julle in ons Jannies se lewens speel. Baie dankie aan Marinda en haar dinamiese span wat vanjaar weer die spoggeleentheid gereël het.
Deel van die akademiese week was die bou van torings met Lego-blokkies, wat baie gewild onder die leerders was. BCSA het spesiaal gekom om die bousessies van torings met die leerders te fasiliteer. Een van die fasiliteerders het hul seuntjie, Teddy, ‘n sesjarige seuntjie wat tuisonderrig ontvang, saam skool toe gebring. Teddy het unieke uitdagings en sukkel onder andere om te sosialiseer. Ons graad 1-seuns het egter, sonder dat ‘n juffrou vra, vir Teddy ingetrek om saam met hulle speletjies te speel. Wat so kosbaar in dié geval was, is dat ons graad 1-seuns self onder mekaar besluit het dat Teddy ‘n speletjie moes wen, want hulle het self gesien dat hy ‘n bietjie omgee en selfvertroue nodig het – dit is vir my merkwaardig dat ons leerders reeds vanaf graad 1 empatie en deernis toon, en dit spreek boekdele van ons skool se spesiale etos en kultuur!

Laat my weereens toe om juf. Marinda en haar span te komplimenteer en te bedank vir die ongelooflike blootstelling en ervaring wat ons Jannies tydens die akademiese- en kultuurweek opgedoen het.
Op Dinsdagoggend, 23 September, het ons Laerskool Prestwich se personeel met lekker eet- en drinkgoed gaan bederf, asook ‘n klein geskenkie vir elkeen om saam met hulle onderwysdag, wat op 05 Oktober plaasvind, te vier. Weereens besef ons as personeel hoe bevoorreg ons is om by ‘n skool soos Laerskool Jan van Riebeeck te werk. Baie dankie aan al ons ouers vir jul ruim bydraes, dat ons hul personeel behoorlik kon bederf – dit is iets wat hulle glad nie ken nie. Dit is deel van ons skool se uitreikprogram om behoeftige skole te help wat werklik onder moeilike omstandighede werk. Groot dankie aan juff. Michelle en Naomi wat vir al die puik reëlings en bederf verantwoordelik was. Hul skoolhoof, mnr. Samodien, en sy personeel is vir ons skoolgemeenskap so dankbaar.

Beide ons junior- en seniorkoor, asook ons strykensamble, het op Dinsdagaand, 23 September, aan die Nootvas Koorfees te Curro Durbanville deelgeneem. Baie geluk aan juff. Rolene en Shannon, asook mnr. Ben en Leon, met hul puik optredes wat ons baie trots maak! Dit was ‘n spogfunksie, en ek wil graag Curro Durbanville komplimenteer met die puik reëlings en glansaand, waartydens die kunste behoorlik gevier is! Baie dankie aan al die koor- en musiekouers wat ons leerders tydens die funksie ondersteun het.
Dit is dan my voorreg om voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking af:
‘Vol fiemies wees’
Die uitdrukking verwys na iemand wat aanstellerig of vol grille is.
Sterkte vir môre se Jan Trap Fietsrygeleentheid by Meerendal Wynplaas en mag die Bokke die Pumas môremiddag in Durban ore aan sit!
Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF