Ek hoop en vertrou dat julle ook ’n baie goeie week geniet het, veral met die Springbokke wat die vorige naweek vir die Kiwi’s behoorlik gewys het waar Dawid die spreekwoordelike wortels gegrawe het. Ek glo dit was ’n moeilike week vir die New Zealanders om hul grootste rugby-pakslae ooit te verwerk. Dr. Rassie en sy span weet darem net hoe om alle Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers baie trots te maak.

Die Kaapse weer bly darem net onvoorspelbaar en Moeder Natuur het weer die week haar “koue baadjie” aangetrek, al wil ons tog in ons harte glo dat lente uiteindelik hier is, en daarmee ook baie van ons gunsteling-blomplante. Ek glo dat julle opgelet het dat die clivias aan die voorkant (Kloofstraat se ingang) van die skool vanjaar weer in prag en praal blom met hul oranje kleure wat behoorlik die voortuin van die skool ophelder. Clivia miniata is een van ons meer bekende plante in Suid-Afrika en kom in tuine regoor die land voor. Hierdie wonderlike plante produseer nie net pragtige blomme tydens die lente nie, maar vermenigvuldig ook vinnig oor tyd, en as inheemse plante is hulle gewoond aan ons uiterste Suid-Afrikaanse klimaat. Ons pragtige oranje clivias komplimenteer ons skool se kleure beslis so mooi.

Baie geluk aan Ghia (Gr. 6) en Mateo Perreira (Gr. 4) wat bronsmedaljes na afloop van die WOW se provinsiale spelkompetisie op Saterdag, 13 September, te Wellington verower het. Hulle is dan die enigste Jannies wat verder tot die nasionale rondte, wat op 11 Oktober by die Universiteit van Stellenbosch plaasvind, gevorder het. Ons is baie trots op julle en dit is baie spesiaal dat boetie en sussie hierdie merkwaardige prestasie saam behaal het.

  
Baie geluk aan die volgende leerders wat vir die laaste rondte vir die SANF Wiskunde Olimpiade gekwalifiseer het:
 
Graad 6:
  • Anabella Boshoff  
Graad 7:
  • Katryn Silvis 
  • Ruben de Ridder 
  • Ben Esterhuyse 
  • Zani Scholtz 
  • Annalene Viljoen 
Die finale het op  Donderdag, 11 September, by Bellvue Primêr in Belhar plaasgevind. Baie geluk aan die bogenoemde leerders. Ons wag nog egter vir hul uitslae.

Ons het twee jaar gelede ’n suksesvolle akademieseweek aangebied. Groot opwinding heers weer dié week by die skool met die afskop van die 2025 akademiese- en kultuurweek, wat op Woensdag, 17 September, begin het en tot Vrydag, 26 September 2025 duur. Die tema vanjaar is Die boublokke van ontwikkeling. Ons almal begin iewers …

 
Onder leiding van ons adjunkhoof, juf. Marinda, poog ons om met die akademiese- en kultuurweek ons leerders verdere blootsteling op akademiese gebied te gee wat normaalweg nie in die klaskamer geskied nie asook blootstelling tot kultuuraktiwiteite wat nie in die dag-tot-dag skoolprogram kan inpas nie. Deur leer interaktief en geïntegreerd aan te bied, bereik ons baie meer leerders. Dit sluit die volgende opwindende aktiwiteite in:
  • Kinderteater :  Pampoenpit (Gr. R – 3) 
  • Konflikhantering:  Gr. 4 – 7 
  • NSRI-aanbieding:  Gr. 4 – 6
  • Brick Club (BCSA):  Gr. 1 – 7 (speel en bou van torings met blokkies)
  • Bordspeletjies Gr. 1 -7 
  • Oupa-en-oumadag:  Gr. 1 – 7 (Gasprekers ds. Marietjie Steyn en haar pa, dr. Braam Hanekom)
  • Zeits Mocaa uitstappie:  Gr. 6 & 7 
  • Atlantic Film Studios uitstappie:  Gr. 7
  • Karateklasse:  Gr. 1 – 3 
  • Jogaklasse:  Gr. 4 – 7 
  • Motiveringspreker:  Ruswahl Samaai (SA & Olimpiese atleet) 
  • Vriendskappe vir dogters met Lindie Strydom:  Gr. 4 – 7 
  • Amy Letcher (internasionale aktrise) besoek vir dramalesse: Gr. 5
  • Interne Robotika-kompetisie (eerste keer in ons skool se geskiedenis)
  • Etiket met Nel van der Walt: Gr. 4
  • Spaanseklasse: Gr. 1 en 2
  • Strykensamble
  • Skaaklesse: Gr. 1-6
  • Kooroptredes te Curro Durbanville (Nootvas Koorfees) op 23 September
  • Jannies Talent op 25 September 
  • Dapper Stappers op 20 en en Jan Trap op 27 September
  • Ontwerp jou ideale slaapkamer: Gr. 6
Soos julle kan sien, is daar verskeie opwindende en opbouende aktiwiteite wat ons leerders ‘n wonderlike blootstelling en akademiese- en kultuurverryking gee wat nie in die normale skooldag kan geskied nie. Verder doen die onderwysers baie moeite om in die onderskeie klasse en grade met eie inisiatief ons leerders te inspireer. Ons glo dat die opwindende week ons Jannies holisties op akademiese en kulturele gebied sal motiveer om nòg meer kreatief en innoverend te wees.  Mag dit vir hulle ‘n leersame week vol hope pret wees!

Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om die voorsitter van ons Beheerraad, Merwe Scholtz, hartlik geluk te wens met sy verjaarsdag vandag. Mag die Here sy nuwe lewensjaar ryklik seën.  Baie dankie vir jou dinamiese leiding om ons skool na nog hoër hoogtes te lei. Geniet jou spesiale dag.
 
Dit is dan my voorreg om voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking af: 

‘Water in ‘n mandjie dra’ 

Die uitdrukking verwys na iemand wat ‘n onmoontlike taak probeer doen.   
Geniet ‘n wonderlike naweek. 

Vriendelike groete  
Naas Beets  
SKOOLHOOF