Die seisoen het gedraai en Septembermaand het die afgelope week sy welkome verskyning gemaak. Vir die eerste keer in my vyf jaar by die skool is ek met heerlike sonskyndae bederf om Lentedag en -week te vier. Ons weet ook dat Moeder Natuur beslis nie haastig is om die lenteseisoen en warmer weer sommer sonder teenstand aan Kaapstad en omgewing te oorhandig nie. Lentedag word tradisioneel oral in Suid-Afrika op 1 September gevier, maar hier in die Moederstad kan die permanente lenteweer ons heel moontlik op ’n latere stadium beskore wees. Ek weet nie van julle nie, maar ek soek nou warm, sonskynweer waar die son lekker warm op ’n mens se gesig val, terwyl ons pragtige lentebloeisels kan geniet. Kom ons hoop dat ons ons warm baadjies vir eers kan wegpak en mag die sonnige dae sommer ook ons gemoedstoestand ’n lekker hupstoot gee.
Die afgelope naweek het ons ook amptelik die 2025-wintersportseisoen met ’n sportnaweek teen Laerskool Welgemoed in die noordelike voorstede op ’n hoogtepunt afgesluit. Hierdie week het ons eers ’n breek van sport geneem voordat die somersportoefeninge op 8 September afskop. Op Vrydagmiddag, 29 Augustus, het ons spreekwoordelik heelwat houe tydens die hokkiewedstryde teen Laerskool Welgemoed gevat, en was die sterk opposisie die beter spanne op die dag. Graag wil ek hul eerste hokkiespanne (seuns en dogters) uitlig wat met uitmuntende spel die oorhand gekry het. Dit was ’n moeilike dag en ek het na afloop van die wedstryde, veral met ons eerste spanne, probeer moed inpraat. Dit was vir hulle baie moeilik om die seisoen op dié manier af te sluit. Ek het onder andere ’n lang gesprek met die eerste seunshokkiespan na afloop van ’n groot pakslae met hulle gevoer en verduidelik dat om te verloor nooit lekker is nie, maar ongelukkig gaan dit heel moontlik in die toekoms weer met hulle gebeur. Die lewe bied nie slegs oorwinnings en suksesse nie, maar soos ek al verskeie kere vir ons Jannies tydens saalbyeenkomste verduidelik het – dit is partykeer nodig om te verloor. ’n Mens leer ongelukkig net wanneer jy verloor of onsuksesvol is. Vir seker is dit nie lekker om op hierdie wyse te leer nie, maar wanneer ons verloor of misluk, het ons een van twee keuses: óf ons laat toe dat dit ons onderkry en tou opgooi, óf ons leer om te verbeter – ons lig ons kenne en dit bou karakter deur om altyd te volhard. Dis wat ons as Jannies doen: ons respekteer dit wat met ons gebeur, neem verantwoordelikheid vir wat gebeur het en streef daarna om te verbeter.

Gelukkig kon ons op Saterdag, 30 Augustus, terugkeer om tydens die netbal- en die rugbywedstryde sake te beredder. Ons netbal- en rugbyspanne het opgemaak vir die vorige dag se hartseer en harde lesse. Ek wil nie sommer spanne op die dag uitsonder nie, maar laat my toe om ons eerste netbalspan onder leiding van juf. Ischké hartlik geluk te wens met ’n puik oorwinning van 21–11, en dit onder geweldige druk met ’n groot en geesdriftige skare toeskouers rondom die baan. Die hoogtepunt van die dag was die puik oorwinning van ons eerste rugbyspan met ’n uitstekende uitslag van 17–10 in ’n titaniese stryd om die sportnaweek af te sluit. Ek het lanklaas soveel toeskouers tydens ’n laerskoolwedstryd gesien; die pawiljoen was stampvol met menigte ook om die veld. Die ondersteuning van ouers, oud-ouers, leerders, oud-leerders en personeel was ’n riem onder die hart. Baie geluk aan die afrigters, mnre. André, Keenen, Zander en Rahiem, die twee kapteine, naamlik Carter Schoeman en Rudi Badenhorst, en die seuns wat ’n merkwaardige seisoen beleef het. Nog vars in my geheue is hulle merkwaardige terugvegpoging tydens die Dirkie Uys-interskole-wedstryd waar hulle eenvoudig net nie tou opgegooi het nie. Dat hulle die afgelope Saterdag weer bereid was om hul spreekwoordelike lywe op die spel te plaas en vir mekaar, die afrigters, hul ouers en ons trotse skool te speel, sal my ewig bybly. Hulle is ’n merkwaardige groep seuns wat die spel van rugby liefhet. Mag hulle vir altyd nederig bly en die wonderlike spel respekteer.
Die emosies, die dankbaarheid en die kameraderie na afloop van Saterdag se rugby was kosbaar, en ek glo dat almal wat daar was hierdie spesiale ervaring vir ’n baie lang tyd sal koester. Ons moet egter besef dat sukses tydelik is; daarom bly ons nederig en toon te alle tye respek vir ons opponente. Ek wil vir mnr. Johan Engelbrecht, hul skoolhoof, en sy personeellede hartlik bedank vir die vriendelike ontvangs en kosbare gasvryheid, en hulle gelukwens met die puik reëlings gedurende die afgelope naweek. Dit was ook spesiaal om te sien hoe goed ons ouers met hulle ouers gedurende die sportnaweek oor die weg gekom het en mekaar met die nodige respek hanteer het. Mag ons die spesiale sportverhouding tussen die Jannies en die Blessies vir nog baie jare omhels.
Ek deel dan graag ook met julle die goeie nuus dat Coreen Scholtz (Gr. 5) aangewys is as medaljewenner in die kategorie Afrikaanse Lirieke in die Junior Sangafdeling van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod, asook Antjie Samuel (Gr. 5) as medaljewenner in die Unisa Junior-kategorie van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod. Baie geluk aan die twee jong dames! Dit is wonderlik om te sien dat ons leerders so goed op kultuurvlak presteer.
Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:
“Vol fiemies wees”
Die uitdrukking verwys na iemand wat aanstellerig, vol grille of vol voorkeure is.
Vriendelike groete
Naas Beets
Skoolhoof