Week 5 van kwartaal 3 kom tot ’n einde met die interskole-deelname van die afgelope naweek teen Laerskool Dirkie Uys wat nog vars in ons geheue is. Ons sportspanne het vanjaar weereens deur die bank puik gevaar met die skaakwedstryde wat op Dinsdag, 12 Augustus, hokkiewedstryde wat op Vrydag, 15 Augustus, en die rugby- en netbalwedstryde wat op Saterdag, 16 Augustus, te Moorreesburg plaasgevind het. Laat my toe om al ons eerstespanne (skaak, dogtershokkie, seunshokkie, netbal en rugby) hartlik geluk te wens met hul onderskeie uitslae asook onoorwonne status vir die derde agtereenvolgende jaar:
- Skaak A-span wen 5 – 1
- Dogtershokkie (o/13A) wen 3 – 0
- Seunshokkie (o/13A) speel gelykop 1 – 1
- Netbal (o/13A) wen 15 – 11
- Rugby (o/13A) wen 36 – 28
Gunstige tellingborde is beslis nie al waaroor interskole vir my gaan nie, maar eerder oor sportmanskap, deursettingsvermoë, spanwerk, karakterbou en die geleentheid vir ons leerders om ook nuwe vriende te maak. Ek wil nie graag ’n span uitsonder nie, maar wil spesiale melding van die o/13A-rugbyspan maak.
Om tydens halftyd, tydens ’n moeilike en fisieke interskolewedstryd, 10 – 28 agter te wees en dinge werk eenvoudig nie volgens wedstrydplan nie, kon dit vir seker so maklik vir ons seuns gewees het om net eenvoudig op te gee en toe te laat dat die spreekwoordelike God se water oor God se akker loop. Die meeste spanne sou in die situasie sekerlik maar net aanvaar het dat dit nie hul dag was nie, en die verloor op die ken gevat het.
Opgee bestaan egter nie in ons eerste rugbyspan, onder mede-kapteinskap van Carter Schoeman en Rudi Badenhorst, se woordeskat nie. Hulle het geweier om tou op te gooi en ’n almagtige 26 punte gedurende die tweede helfte aan te teken teenoor die opposisie wat nie ’n enkele punt gedurende die tweede helfte op die tellingbord kon plaas nie. Die seuns het moedig bly veg en hul “alles” vir die span, die afrigterspan, die skool en hul ouers gegee en ware karakter getoon waarop ek en die afrigtingspan ongelooflik trots is.
Ek het juis na die wedstryd vir die seuns gekomplimenteer met een van die beste terugvegpogings deur ’n laerskoolspan wat ek nog ooit gesien het. Ek het ook vir hulle genoem dat ek glo hulle sal hierdie dag en ervaring vir ewig omhels en die lewenslesse hieruit kan aanwend wanneer hul uitdagende situasies later in hul lewe mag ervaar. Dit is die tipe lewenslesse wat ons nie sommer vir hulle binne die vier mure van ’n klaskamer kan leer nie. Opgee is nie ’n opsie nie!
Baie dankie aan mnre. André, Keenen en Zander wat nie net hul rugbyafrigters is nie, maar ook as hul “lewensafrigters” dien om ons jong seuns vir die lewe voor te berei.
Natuurlik is ek baie trots op die suksesvolle naweek, maar ek is besonders trots op die wyse waarop ons leerders hulself op en van die veld gehandhaaf het. Baie dankie aan ons seuns en dogters dat julle ons Jannie-waardes uitgeleef het. Ek is veral beïndruk met die wyse waarop ons leerders hul opposisie en die skeidsregters met die nodige respek hanteer het.
Ons as skoolgemeenskap kan uiters trots op ons leerders en afrigters wees vir hul voorbeeldige en onberispelike gedrag, terwyl daar baie druk op beide skole was. Laat my toe om die onderwysers en afrigters hartlik te bedank vir hul toewyding om sport by ons skool te bevorder. Graag wil ek ook ons ouers/voogde wat die interskole oor die twee dae ondersteun het, hartlik bedank. Dit is vir my ’n riem onder die hart om julle daar saam met jul kinders te sien.
Welgedaan, Laerskool Jan van Riebeeck. Mag ons altyd in oorwinning nederig bly, maar nog steeds voortbou op ons suksesse om van krag tot krag te gaan.

Ons beker van dankbaarheid loop verder oor en ons spog verder met ons merkwaardige uitslae na afloop van die Horizon-Wiskunde-olimpiade. Daar was meer as 25 000 inskrywings (graad 5 – 7-leerders) en drie van ons leerders eindig in die top 100 posisie. Baie geluk aan die volgende drie Jannies met hul merkwaardige wiskundige uitslae:
- Ruben de Ridder (70ste plek)
- Jamie Jordaan (48ste plek)
- Katryn Silvis (ongelooflike 5de plek)
Dit is weereens ’n bewys dat ons Jannies orals hul stempel afdruk en ons ongelooflik trots maak. Baie geluk en groot dankie aan mnr. Leon en juf. Andri vir hul leeue-aandeel om die liefde vir wiskunde onder ons leerders te kweek, asook die hoë standaard wat hulle stel om seker te maak ons leerders presteer op hoërskoolvlak.
Baie geluk ook aan al ons leerders wat puik tydens Hoërskool Jan van Riebeeck se kunstefees presteer het. Ons leerders het vir die kategorieë visuele kuns en kreatiewe skryfwerk ingeskryf. Graag sonder ek Jamie Jordaan (Gr. 6-leerder) uit wat as een van die kategorie-wenners tydens die hoërskool se prysuitdeling op Maandagaand, 18 Augustus, aangewys is – en hy was die enigste laerskoolwenner. Welgedaan Jamie, ons is baie trots op jou.

Net as ek dink ons skool kan sekerlik nie op nog gebiede presteer nie, dan word ons aangenaam verras en dus wil ek graag juf. Jana en die volgende leerders hartlik gelukwens met hul briljante optrede Woensdagmiddag, 20 Augustus, tydens die ATKV-Tjokkertoneel Wes-Kaap in die Baxter-teater:
Abigail Fourie, Abigail Theron, Cara Nel, Pieter Rademeyer, Felix Ferreira, Jayden Henning, Leo Wiese, Zani Scholtz, Gabriella Buckenham, Elisabet Marais, Dané van Schalkwyk, Nell du Toit en Christiaan Greyling (wat as tegniese assistent opgetree het).
Hulle het gedurende die Junie-vakansie, oor naweke en na skoolure geoefen en die vrugte van hul toegewydheid gepluk. Baie dankie juf. Jana vir al jou moeite en ekstra tyd wat jy ingesit het om seker te maak ons toneelgroep presteer op so ’n groot verhoog. Baie dankie aan die ouers en Jannies wat ook die optrede bygewoon het – ek glo julle is saam met my ook baie trots op die merkwaardige vertoning.

Vandag is dan ook die laaste dag vir juf. Mardry (Gr. 5) voor sy met kraamverlof gaan. Ons mooiste wense vergesel haar en haar man, Kyle, en mag klein Bailey vir hulle baie genot verskaf.

Ek sluit dan week 5 af en wens vir julle ’n wonderlike naweek toe. Sterkte met die wiskundekamp, Eisteddfod en sportdeelname (netbal en rugby) oor die naweek. Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:
“Ek meneer en jy meneer, wie sal dan die wa moet smeer?”
Die uitdrukking het destyds as ’n teregwysing gedien om vir iemand te sê wat nie die ossewa wou smeer nie omdat dit benede sy waardigheid was. Vandag beteken die uitdrukking dat as ons almal bevele wil gee, wie sal dan die werk doen?
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF