Die wintersportprogram vir kwartaal 2 kom die week ongelukkig tot ‘n einde met die laaste sportnaweek vir die kwartaal tuis teen Laerskool Milnerton. Aprilmaand, met al sy ‘vakansiedae-meevallertjies’, het ons nie toegelaat om enige sportwedstryde of sportdae te hou nie, dus moes Meimaand spreekwoordelik instaan met ‘n besige sport- en kultuurprogram. Met die buitemuurse program wat vir eers op ys geplaas gaan word, glo ek dat elke gesin nou ‘n bietjie begin asem skep, maar in die proses vir die gr. 4 – 7 Junie-eksamen voorberei wat volgende week gaan afskop.
Ons het op Vrydag, 23 Mei, weer ons jaarlikse netbaltoernooi vir o.10 – o.13 B- tot F-spanne aangebied. Tien skole, 70 spanne en 490 dogters het aan die gewilde netbaldag deelgeneem en in die proses meer as een wedstryd op die dag gespeel. Opvallend was die goeie ‘gees’ waartydens die wedstryde geskied het met besoekende ouers, -onderwysers en -afrigters wat nie uitgepraat kon raak oor die ongelooflike sportervaring en gasvryheid nie. Dit was dan ook ‘n ideale vertoonvenster-geleentheid om ons trotse skool te bemark. ‘n Netbaltoernooi van dié kaliber kan net geskied as dit gepaard gaan met puik reëlings, en daarvoor is ons mnre. Rashard en Leon, asook die ondersteunende personeel, baie dankbaar. Dit is vir ons as skool net so belangrik dat daar ook op ons B- tot D-spanne gefokus moet word deur vir hierdie spelers die geleenthede te skep waar hulle op ‘n gereelde basis aan wedstryde kan deelneem en meeding. Sommige leerders se fisiese- en vaardigheidsontwikkeling geskied eers later soos hulle ouer word. Hulle mag dalk nie tydens hul laerskoolloopbaan vir A-spanne speel nie, maar soos hulle dan teen hul eie tempo ontwikkel, eindig baie van hulle in A-spanne op hoërskoolvlak. Ons wil dus seker maak ons behou die spelers om steeds deel te neem, dus is die skep van geleenthede vir hulle juis ‘n prioriteit by ons skool. Graag moedig ek skole aan om meer toernooie vir B- tot F-spanne aan te bied en nie net vir A-spanne nie.
Baie geluk aan ons volgende twee o.13-netbalspelers wat vanjaar WP-kleure verwerf het:
Jeanne van Heerden (WP-Disa)
Stella Pansegrouw (WP-Dolphins)
Ons is ongelooflik trots op hul prestasie. Hulle toer na Riversdal vir ‘n provinsiale toernooi vanaf 16 – 19 Julie. Sterkte, ons weet dit sal goed gaan.
Wintersportoefeninge vir die kwartaal het op Donderdag, 29 Mei, vir gr. 4 tot 7-leerders geëindig en gr. 1 tot 3 eindig op 6 Junie. Sportoefeninge gaan egter gedurende skooltyd voort. Dit skop vanaf 9 Junie af en eindig op 18 Junie. Hierdie wintersportoefeninge (o.7 – o.13) gedurende die eksamen is vrywillig. My ondervinding is dat die leerders dit terdeë geniet om net na afloop van ‘n eksamen- of assesseringsessie sport te kan beoefen. Dit help beslis om die angstigheid van eksamen te verminder, asook om net ‘n bietjie asem te skep na ‘n lang skryfsessie. Navorsing toon dat leerders wat gereeld oefen, beter tydens kognitiewe toetsing presteer, beter geheue het en meer waaksaam tydens eksamens is. Om voor te berei en gedurende die eksamen te studeer, kan geestelik en fisies uitputtend wees, wat baie leerders moeg en afgemat laat voel. Wanneer jy oefen, stel jou liggaam onder andere hormone soos adrenalien en kortisol vry, wat weer help om die energievlakke hoog te hou. Ek is vas oortuig dat om sportoefeninge vir leerders tydens die eksamen in te sluit, hulle beslis sal help om beter te presteer, asook hul algemene gesondheid en welstand in die proses te verbeter.
Die eksamen vir die gr. 7’s begin reeds op Dinsdag, 3 Junie, en vir die gr. 4 tot 6-leerders op Vrydag, 6 Junie. Assesserings van die gr. 1 tot 3-leerders het die week op Maandag, 26 Mei, afgeskop. Eksamen/assesserings verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders, en dit filter dikwels ook na die gesinne deur. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen te bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres voor en tydens ‘n eksamen is ‘n natuurlike reaksie, en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees. Oorweeg gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres, en moontlik jou eie angstigheid daaroor, hok te slaan:
-
Berei betyds voor. Help vroegtydig jou kind/ers om ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om voor te berei, tye in te sluit om te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap inkry.
-
Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer, vry van enige stressors by die huis, vir jou kind/ers om te leer.
-
Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
-
Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra gerus na afloop van elke dag vir hulle hoe die eksamen was en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief is, ongeag die uitslae, en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
-
Help jou kind/ers om ‘n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die eksamen daagliks inpak.
-
Vermy gejaagdheid en veral om jou kind/ers op die nippertjie soggens voor die eksamen by die skool af te laai, want dit maak leerders angstig.
Graag deel ek met julle die wonderlike nuus dat Katryn Silvis (Gr. 7) deur is na die finale rondte van die ATKV-Redenaarkompetisie, wat vanaf 5 tot 6 Augustus te Goudini Spa gaan plaasvind. Ons is so trots op haar ongelooflike prestasie, aangesien sy die eerste posisie vir Graad 6 en 7 Afrikaanse Huistaal in die Wes-Kaap beklee. Dit is ook ‘n eerste vir ons skool om ‘n leerder wat eerste in Wes-Kaap staan, in die finale te verteenwoordig. Hierdie is ‘n merkwaardige prestasie vir enige redenaar, maar veral as jy vanjaar eers met Redenaars begin het. Baie geluk, Katryn, en welgedaan juf. Andri, wat aan die stuur van redenaars by ons skool staan.
Ek sluit dan week 8 af. Mag julle as ‘n gesin ‘n fantastiese naweek geniet. Ek sien uit om julle vanmiddag en môre weer langs die sportvelde tuis teen Laerskool Milnerton te sien.
Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:
‘Hy hamer op dieselfde aambeeld’
Die uitdrukking beteken: Hy praat pal oor dieselfde onderwerp.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF