Tydens verlede week se vakansie het tien ywerige dogters skool toe gekom om te leer hoe om op ’n naaldwerkmasjien te stik.

Gedurende hierdie vierdag-kursus het elke leerder geleer hoe om lap te kies, te meet en te knip, en dan ook hoe om haar eie masjien te ryg en te gebruik. Die leerders het vinnig besef dat naaldwerk nie net kreatiwiteit verg nie, maar ook veerkragtigheid en hope geduld.

Na die vier dae kon hulle spog met unieke lapprodukte wat hulle weer en weer sal kan maak – linte-‘scrunchies’, groot vloerkussings, pennesakkies en rygsakke (‘string bags’).

Oor die jare het al 28 Jannies hierdie beginnerskursus bygewoon. My onderwyserhart bars van trots wanneer ek foto’s ontvang van ons leerders wat steeds tuis aanhou bou aan hulle naaldwerkvaardighede. My wens is dat hulle hierdie talent nog vir baie jare sal koester.

Naaldwerkgroete

Juf. Marianne Conradie