‘n Groepie Jannies het verlede week aan die Nippers Surf Lewensredding SA-kampioenskappe in Gqeberha deelgeneem. Die spanlede was Alexander Weideman, Nils le Roux, Sebastian en Luc Zietsman, Lukas Loubser en Finley le Roux.
Vir drie dae lank moes ons mannetjies hul staal wys in verskeie hardloop-, swem- en Malibu-reddingsborditems en -kombinasies. Lukas het ’n bronsmedalje in die langafstandstrandresies verower, terwyl Nils medaljes in strandnaellope, vlaggies, Taplin-aflos en strandaflos ingepalm het.
Die Zietsmans, saam met Finley en Lukas, het die “Mad Dog”-toekenning ontvang deur aan álle items deel te neem. Lukas het dit selfs verder geneem deur vir nóg drie dae aan die volledige Stilwater Lewensredding-kompetisie deel te neem. Daar het hy sy persoonlike beste in die 100 m-swem met ses sekondes verbeter!
Baie geluk aan hulle met hul vasberadenheid en indrukwekkende prestasies!