Hiermee ‘n hartlike welkom terug by die skool. Ek glo dat almal die kort, maar welverdiende ruskansie terdeë geniet het en kosbare tyd saam met familie en vriende spandeer het. Ek is baie dankbaar dat almal veilig terug is na die vakansie, veral die gr.7’s en hul ouers/voogde wat aan die jaarlikse Oranjeriviertoer deelgeneem het. Baie dankie aan Rudi Barnard en Louis Boshoff wat aan stuur van die suksesvolle roeiroete gestaan het. Die jaarlikse Ouer/Kind-Oranjerivier Extravaganza was weereens ‘n reuse sukses. ‘n Gemotiveerde JvR-groep (Jannies en hul ouers) wat uit 80 lede bestaan het die 4-dagtoer met groot entoesiasme aangedurf. Sommige van die leerders het maar liggeloop vir die “Entrance Exam” en soos altyd, het die “Sjambok” sy pond vleis geëis met menige kano’s wat sonder ‘n kaptein of ‘enjin’ die stroomversnelling uitgedaag het. Graad 6-leerders en hul ouers maak gerus ‘n plan om volgende jaar aan die onvergeetlike avontuur deel te neem.

Die skool het skaars begin en soos ‘n goed ge-oliede masjien is ons skoolaktiwiteite sommer vanaf dag 1 weer goed opdreef met die akademie, wintersport buitemuurse program, musiekklasse en kooroefeninge wat op dag 1 van die nuwe kwartaal met baie opwinding afgeskop het. Sportwedstryde vir rugby, netbal en hokkie skop ook die week af en ons leerders is baie opgewonde om aan wintersportwedstryde deel te neem. April 2025 met al die openbare vakansiedae bied nogal ‘n uitdaging rakende kurrikulum- en sportbestuur wat dus deeglike beplanning verg. Neem asseblief kennis dat weke 1, 2 en 3 van kwartaal 2 slegs uit 4 werksdae/skooldae bestaan en dat week 4 ‘n hele week van vakansiedae insluit. Ek is nie seker of ek moet kla of dankbaar wees nie, maar as skoolhoof weet ek dat roetine vir leerders belangrik is.

Op Dinsdag, 08 April, het die skool tradisioneel amptelik die nuwe kwartaal met ‘n saalbyeenkoms geopen. Tydens die saalbyeenkoms is daar onder andere erkenning aan ons atlete gegee wat vanjaar vir die WP-Atletiekbyeenkoms gekwalifiseer het. Baie geluk aan die volgende toegewyde atlete wat elk ‘n sone-medalje ontvang het;

Gia Kruger, Lukas Loubser, Mateo Pereira, Louis Hofmeyer, Maia du Toit, Leah Jacobsz, Willem VIljoen, Stef Nel, Rafa Lamprecht, Dane Botha, Andree Steyn, Anabella Boshoff, Ynes Kabassidi, Jack Dawes, Nils le Roux, Carter Schoeman.

Normaalweg word die Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders kwartaalliks op die laaste dag van die kwartaal bekend gemaak. Weens die gr.7’s se deelname aan die Oranjerivier-roeitoer wat vanaf 26 Maart – 02 April plaasgevind het, kon ons kwartaal 1 se Top 10 Gr.7-leerders eers op die dag wat die skool vir die tweede kwartaal open, bekend maak en hul sertifikate oorhandig. Baie geluk aan die volgende gr.7-leerders (alfabeties) met jul harde werk en toewyding:

Sabine Barnard

Abigail Fourie

Andries Gouws

Johannes Mouton

Dané Olivier

Stella Pansegrouw

Zani Scholtz

Katryn Silvis

Amelie van der Walt

Annalene Viljoen

Op Woensdag, 09 April, het ons jaarlikse Kleiduifskietkompetisie by die Gun Valley Skietbaan te Agter-Paarl plaasgevind. Die deelnemers was almal eens dat dit ‘n hoogtepunt op Laerskool Jan van Riebeeck se kalender bly. Baie dankie aan Safari Outdoor wat jaarliks as die hoofborg optree. Groot dankie aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat die gewilde dag vir die 5de agtereenvolgende jaar gereël het. Die geesdrif en samesyn het soos ‘n paal bo water uitgestaan. Baie dankie aan die EXCO-span wat gaan deelneem het. Ek was die enigste haan onder die henne en ek glo die dames het hierdie unieke dag terdeë geniet, alhoewel hul skouers baie broos van die skiet is. Die dag word saam met Alive Foundation aangebied en die fondse geïn op die dag sal vir behoeftige leerders aangewend word. Baie geluk aan Stephanie en Ria met ‘n puik dag, vol groot opwinding.

Môre vind die jaarlikse Kaperjolle plaas. Hierdie sosiale hoogtepunt is uiters gewild onder beide die ouers en die leerders. By voorbaat dankie aan die OOV onder leiding van Susan Derksen wat die opwindende dag reël en moontlik maak. Ek is seker die leerders kan nie meer wag om aan die pretdag deel te neem nie.

Ek sluit dan week 1 af, sien uit om almal môre vanaf 12:00 by die Kaperjolle te verwelkom en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met vriende en familie geniet. Sterkte vir die hokkie-wedstryde en landloop wat vanmiddag plaasvind, die netbaltoernooie van môre asook die eerste rondte van die AKTV-redenaars wat vandag en môre by Hoërskool Jan van Riebeeck plaasvind. Graag gaan ek voort om ons pragtige taal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

‘Ganse najaag’

Ganse najaag verwys na ‘n mens wat weens besopenheid slingerend loop. Met tong in die kies: mag dit hopelik nie met ons tydens môre se Kaperjolle gebeur nie – veral nie met die skoolhoof nie. Dit sal nou ‘n sosiale flater van skandaligheid wees.

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF