Digitale tegnologie, inligting en die kuberruim. Is jy Slim Jan of Bang Jan, of nog erger, Dooie Jan?
1. Konteks
In ‘n wêreld en samelewing wat toenemend tegnologie-geörienteerd raak, het bevoegdhede soos digitale geletterdheid, digitale vaardighede en digitale gereedheid belangrike vereistes vir die toekomsgereedheid van individue geword. By Laerskool Jan van Riebeeck volg ons ‘n 70:30 benadering tot leer en onderrig , met 70 persent fokus op tradisionele metodiek en 30 persent fokus op die gebruik van moderne tegnologie om leer en onderrig te ondersteun.
Tegnologie ontwikkel teen ‘n eksponensiële tempo en die stadige pas waarteen individue vir die digitale wêreld voorberei word, hou onbedoelde negatiewe gevolge vir individue en die samelewing as ‘n geheel in.
Een van die ernstigste kwessies wêreldwyd, is die hoë voorkoms van kuberrisiko’s onder kinders, byvoorbeeld kuberboeliegedrag, tegnologie verslawing, gevaarlike aanlyn kontakte, die verspreiding van digitale disinformasie, inbreuk op privaatheid, sekuriteitsbedreigings en nog vele ander.
‘n Gebrek aan digitale bevoegdhede onder volwassenes is ‘n verdere kwessie wat wêreldwyd tot kommer lei.
Om hierdie gebreke aan te spreek, is ‘n holistiese benadering tot die ontwikkeling van digitale bevoegdhede nodig. So ‘n benadering fokus nie net op tegniese vaardighede nie, maar ook op bevoegdhede soos digitale veiligheid, digitale regte en digitale emosionele intelligensie. Met ander woorde, hierdie bevoegdhede moet mense nie slegs bemagtig om ‘n rekenaar of slimfoon te gebruik nie, maar ook om die moderne sosiale – en ekonomiese uitdagings en vereistes van hierdie tegnologiese vooruitgang te hanteer.
2. DInK-slim
Onder die vaandel van Jannies Gesprekke, wil ons graag ons ouergemeenskap ondersteun om DInK-slim te wees – slim in besluite t.o.v. digitale tegnologie, persoonlike inligting en die kuberruim.
In ons gereelde DInK-slim rubriek poog ons om inligting en advies met ouers/voogde te deel, wat sal help om belangrike digitale bevoegdhede te ontwikkel en goeie besluite in die belang van ons kinders se veiligheid en gesonde ontwikkeling te kan neem.
3. Benadering
Toepaslike onderwerpe word vanaf kwartaal 2 op ‘n gereelde basis aan die hand van die volgende agt temas bespreek:
- Digitale identiteit: Bou van ‘n gesonde aanlyn- en vanlyn identiteit.
Onderliggende beginsel: Respek vir jouself. - Digitale gebruik: Gebruik van tegnologie in ’n gebalanseerde, gesonde en beskaafde manier.
Onderliggende beginsel: Respek vir tyd en die omgewing. - Digitale veiligheid: Verstaan, verminder en bestuur verskeie kuberrisiko’s met veilige, verantwoordelike en etiese gebruik van tegnologie.
Onderliggende beginsel: Respek vir lewe. - Digitale sekuriteit: Opspoor, vermy, bestuur verskillende vlakke van kuberbedreigings om data, toestelle, netwerke en stelsels te beskerm.
Onderliggende beginsel: Respek vir eiendom. - Digitale emosionele intelligensie: Herken, navigeer en uitdrukking van emosies in jou digitale intra- en interpersoonlike interaksies.
Onderliggende beginsel: Respek vir ander. - Digitale kommunikasie: Kommunikasie en samewerking met ander deur middel van die gebruik van tegnologie.
Onderliggende beginsel: Respek vir reputasie en verhoudings. - Digitale geletterdheid: Vind, lees, evalueer, sintetiseer, skep, aanpas en deel van inligting, media en tegnologie.
Onderliggende beginsel: Respek vir kennis. - Digitale regte: Verstaan en handhawing van menseregte en wetlike regte tydens die gebruik van tegnologie.
Onderliggende beginsel: Respek vir regte.
Kyk uit vir die volgende DInK-slim rubriek in die eerste nuusbrief na afloop van die vakansie, wanneer ons oor die onderwerp gesels: Hoe lyk my kind se digitale voetspoor en waarom maak dit saak?
Ons sien daarna uit om saam met ons ouergemeenskap ons digitale bevoegdhede te ontwikkel en uit te brei en ‘n DInK-slim gemeenskap te word!
Verwysings:
- “IEEE Standard for Digital Intelligence (DQ)–Framework for Digital Literacy, Skills, and Readiness,” in IEEE Std 3527.1-2020 , vol., no., pp.1-47, 15 Jan. 2021, doi: 10.1109/IEEESTD.2021.9321783.
- OECD Future of Education and Skills. 2024. Learning Compass 2030. Beskikbaar by https://www.oecd.org/en/about/projects/future-of-education-and-skills-2030.html
- World Economic Forum. 2025. Future of Jobs Report 2025. Beskikbaar by https://www.weforum.org/publications/the-future-of-jobs-report-2025/
DInK-slim © 2025 deur Marié Cruywagen is gelisensieer onder CC BY-NC-SA 4.0
Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 4.0 International