Ons is baie opgewonde om aan te dui dat ons vanaf 25 April tot 12 Mei ons mini-sportveld (agter die skool) na ‘n veeldoelige kunsgrasbaan gaan opgradeer. Die kunsgrasoppervlakte sal ons in staat stel om daarop sport te beoefen, en dit kan ook die ‘verkeer’ van leerders dra wat daarop voor skool, tydens pouses en na skool speel. Dit beteken dat die sportaanbod verder ondersteun word, aangesien ons daarop twee mini-hokkievelde gaan aanbring, wat die hokkieleerders se vaardigheidsvlakke verder sal ontwikkel.
Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Opvoedingtrust, wat gefinansier word uit die fondse van ons mees onlangse skoolveiling. Dit sluit ook die gawe hand van Gerhard Conradie in, wat die grond- en siviele werk van die projek gaan hanteer en borg. Baie dankie, Gerhard – ons waardeer dit baie.
Verder wil ons graag die fasiliteite opgradeer met ‘n volledige sportsentrum wat pawiljoene, kleedkamergeriewe en ‘n mini-klubhuis insluit. Dit sal ook ruimte in die skoolgebou maak vir ons kultuuraanbod. Hierdie projek sluit ook die plaveisel agter onder die bome in om die hele area esteties mooi af te rond.
Sien aangeheg ons droomplan, soos ontwerp deur Stephen Hitchcock (argitek), wat op ons Beheerraad dien. Ons nooi graag enige belangstellende ouers en voornemende donateurs wat ‘n bydrae sal oorweeg, om met my (skoolhoof@jvrprim.co.za) kontak te maak. Ons het reeds ‘n bedrag geld vir die projek opgesyfer en kan dit in twee fases aanpak. Dit sal vir ons ‘n idee gee of ons nou fase 1 aanpak of die volledige projek.
Laat my toe om Stephen Hitchcock hartlik te bedank vir die puik ontwerp van die droomplan, asook al die kosbare tyd wat daarmee gepaard gegaan het.
Baie dankie vir julle goedgunstige oorweging.
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF