Ek vertrou dat week 4 van die akademiese jaar vir julle vreugde gebring het en min uitdagings. In my nuusbrief van verlede week het ek kortliks na die konsep van tyd verwys en hoe vinnig dit verby snel. Dit het my verder laat dink dat in vandag se moderne, gejaagde lewe, dit vir ouers/voogde moeilik moet wees om al die balle in die lug te hou en dan boonop tyd te maak vir hul kinders, lewensmaat en hulself. Die beste belegging wat jy in jou kind se toekoms kan maak, is om tyd vir jou kind/ers te maak. Dit gee dikwels jou kind/ers die geleentheid om dieper gesprekke te voer, indien hulle dit nodig sou vind, wat tot sterker bande lei. Ek weet dat ons almal net die beste vir ons kinders wil hê, maar dikwels val ons in die strik dat ons deur ons eie oë en ervarings na ons kinders se probleme en uitdagings kyk en vergeet dat kindwees vandag nie meer dieselfde is as toe ons op skool was nie. Die ondersteuning wat kinders vandag by ons skool kry, is ook heelwat beter as toe ons op skool was. Ek dink ook dat ons baie versigtig moet wees om kritiek teenoor onsself en ons kinders uit te spreek sonder nadenke. Dit mag dalk net die vrymoedigheid van ‘n oop verhouding kelder. Ek glo dat doeltreffende kommunikasie nie net uit praat bestaan nie, maar ook luister. Vandag se kinders wil voel hulle word verstaan. Baie dankie dat julle as rolmodelle vir jul kinders optree, na hulle luister en met soveel deernis na hulle kyk wat ons weer in staat stel om hulle makliker te bemagtig om tot hul volle potensiaal te ontwikkel.
Ons o/12A- en o/13A-netbalspelers het vanaf Donderdag, 30 Januarie, tot Sondag, 02 Februarie, ‘n voorseisoen-netbalkursus saam met hul afrigters op die pragtige karooplaas Elandsrus naby Drie Susters bygewoon. Die gewilde netbalkursus word deur die bekende Patrys van der Merwe aangebied, en skole staan letterlik in ‘n ry om die spesiale netbal- en plaaservaring te beleef. Patrys is ‘n voormalige Protea-speler en doen baanbrekerswerk as dit by afrigting kom. Ons is baie dankbaar dat die dogters en personeel die lang pad eerder met ‘n luukse Elwiera-bus kon aflê om sodoende die veiligheid van ons leerders en personeel te verseker. Baie dankie aan al ons ouers wat so hard agter die skerms gewerk het om die addisionele vervoeruitgawe te dek. Ek is julle baie dankbaar. Behalwe al die netbalvaardighede wat hulle opgedoen het, het hulle ook die plaaslewe terdeë geniet, iets wat ons stadsjapies nie elke dag ervaar nie – dit maak die ervaring uniek. Die opwindende drie dae het onder andere die volgende aktiwiteite ingesluit:
-
spanwerk
-
konserthou
-
skyf- en teikenskiet
-
modeparade
-
harde oefensessies
-
swem in ‘n vlak plaasdam wat deur die onlangse reën moontlik gemaak is
-
staproete in die karooveld
-
fantastiese plaaskos wat, soos altyd, die hoogtepunt was.
Baie dankie aan juffrou Ischké en Sharon en meneer Keenen wat so mooi na die dogters gekyk het.
Wêreld-hardopleesdag word jaarliks op die eerste Woensdag van Februarie gevier. Die doel van die dag is om mense wat ‘n gemeenskaplike liefde vir lees het, saam te bring, en dit is presies wat ons op Woensdag, 05 Februarie, by die skool gevier het. Met hierdie inisiatief wou ons ook daarop fokus dat hardoplees nie spanning hoef te veroorsaak nie. Lees is lekker! Hardoplees is beslis nie iets vreemd nie, veral nie wat die skoolkurrikulum betref nie. Al ons leerders in die verskillende grade het vanaf 09:30 tot eerste pouse aan die opwindende hardopleessessie met oorgawe deelgeneem. Leerders het die hele skoolterrein gebruik om heerlik hardop te lees. Onderwysers het hierdie aktiwiteit met kreatiwiteit aangepak:
-
Die graad 7’s het vir die graad 2-leerders hardop gelees.
-
Ek het ook die wonderlike voorreg gehad om vir die graad 1’s hardop te lees. Hulle was eers skepties en onseker of ek wel kan lees, maar was darem baie verlig dat ek iets kon lees – dit was groot pret!
-
Graad 3’s en 5’s het heerlik in hul klasse aan die inisiatief deelgeneem.
-
Die graad 4-groep het almal saam in die vierkant aan dieselfde teks gelees.
-
Die graad 6’s het in groepies van twee verdeel en op verskillende plekke met hul leesmaat gesit.
Ons poog voortdurend om ‘n gesonde leeskultuur by ons skool te handhaaf deur ‘n liefde vir lees by ons leerders van ‘n baie jong ouderdom aan te kweek. Moedig gerus jou kinders aan om ‘n boek een keer per week by die mediasentrum uit te neem.
Die afgelope week het ons ook met liga-tenniswedstryde begin. Vandag bied ons die jaarlikse senior swemgala aan en dit is altyd ‘n hoogtepunt vir die graad 4 – 7-leerders. Baie dankie aan juffrou Rolene wat vandag en Saterdag ‘n senior koorkamp by die skool aanbied. Hierdie twee dae gaan effektief gebruik word om ons senior koor so goed moontlik vir die komende optredes voor te berei.
Graag neem ek die vrymoedigheid om ons ouers/voogde te versoek om eerder van halfdagnasorg gebruik te maak as om jul kinders te laat wag vir later optel na skool, byvoorbeeld na sport of ekstra klasse. Die probleem is dat hulle daar moet wag sonder enige amptelike toesig. ‘n Klompie leerders sonder toesig is ‘n resep vir moeilikheid. Ongelukkig kan die skool nie vir die tipe toesig verantwoordelikheid neem nie, aangesien die personeel reeds by sport, kultuur en/of ekstra klasse betrokke is. Baie dankie vir julle samewerking in hierdie verband.
Ek sluit dan die week af met die fokus op omgee en deel die onderstaande aanhaling van Theodore Roosevelt rakende omgee. Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne.
“Nobody cares how much you know, until they know how much you care.’’
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF