Ek glo dat julle ook verbaas is dat vandag die laaste dag van Januarie is. Vir my voel dit asof die nuwe jaar skaars afgeskop het en môre moet ons vir Februarie welkom heet. Weet nie of dit iets met ouer word te doen het nie, maar tyd vlieg. Tyd het ‘n magiese kwaliteit, veral as ‘n mens met ‘n lekker taak of projek besig is. Geniet dus wat jy doen. Dit is presies waar ek as skoolhoof my tans bevind – ek geniet elke oomblik by die skool terdeë. Wat ‘n voorreg om deel van ‘n omgee-skoolgemeenskap te wees met dinamiese leerders en hul betrokke ouers.
Die probleem met tyd is egter dat dit vir niemand wag nie. Indien jy dus vanjaar beplan om nog iets spesiaal te doen of jy moet dalk nog iemand vergewe of om verskoning vra, moenie wag nie liewe vriende, doen dit sommer onmiddellik! Is dit nie ongelooflik dat sommige mense in dieselfde tyd berge kan versit terwyl ander absoluut niks vermag nie? Mag ons die tyd in 2025 effektief en met balans aanwend.
Graag wil ek almal hartlik bedank vir al die mooi verjaardagwense en pragtige geskenke wat julle saam met jul kinders vir my gestuur het. Ek is op Dinsdag, 28 Januarie, tot in die afgrond deur die leerders, leerderraad en personeel bederf. Ek wens julle kon die spesiale dag by die skool saam met my beleef. Dit was so kosbaar. Die leerders se opregte omgee, spontaneïteit en kreatiewe verjaardagwense, sal ek vir ewig koester. Ek moes op die dag soos ‘n superheld aantrek en leidrade deur die skool volg wat my na elke klas gelei het. Iron Man is met soveel opwinding in elke klas ontvang. Die graad 1’s kon hul oë nie glo dat hulle skoolhoof nou skielik in ‘n superheld verander het nie. Dit was groot pret en ‘n groot voorreg!

Op Saterdag, 25 Januarie, het ons vir die derde agtereenvolgende jaar die gewilde Ouer-en-Kind Sportdag vanaf 08:30 by die Conradieveld aangebied. Die opkoms van ouers en kinders was ‘n riem onder die hart met 51 spanne wat reeds vooraf geregistreer het. Alhoewel dit baie warm was, het ons ouers/voogde en leerders nog steeds met hope entoesiasme deelgeneem. Die opgewondenheid en gees was aansteeklik en almal het hul gate uit geniet. Dit was dan ook ‘n ideale geleentheid vir leerders, ouers en personeel om sommer lekker kollektief gees te vang, behoorlike oefening te kry en die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes opgetree en ook die snoepieverkope op die dag behartig het. Welgedaan, mnre. Rashard en Leon, met die puik pret sportdag.
Week 3 van die nuwe kwartaal is vol opwinding met beide my verjaardag en die skool se verjaardag! Vandag is die opwinding nog groter met die viering van die skool se 104de bestaansjaar. Leerders gaan vir die tweede keer die week met ‘n koel verversing bederf word. Die stigting van ons trotse skool is alles te danke aan Japie Louw. Hierdie jongeheer het meer as ‘n eeu gelede net eenvoudig geweier om in Engels skool te gaan en dit het tot die stigting van Laerskool Jan van Riebeeck gelei. Soos Japie en nog menigte wat na hom gevolg het, het hy vinnig ontdek dat hierdie besondere skool baie meer as net geleerdheid bied. Hier ontdek jy jouself! Hier leer jy wat dit beteken om net jouself binne ‘n veilige omgewing met gekoesterde waardes te wees. Mag Laerskool Jan van Riebeeck vir nog ‘n 104-jaar voortbou op sy suksesse en altyd ‘n waardegedrewe omgewing koester waar ‘n kind nog kind kan wees.
Die afgelope week het ons ook met krieketwedstryde begin. Vanmiddag neem ons aan ‘n swemgala te Laerskool Kampsbaai deel. Die somersportprogram en -wedstryde is dus in volle swang en my beste wense vergesel al ons leerders en afrigters.
Laat my ook verder toe om weer die skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck, Pieter Rademeyer, en sy personeel hartlik geluk te wens met hul puik matriekuitslae van 2024. Hoërskool Jan van Riebeeck word vir die 3de jaar in ‘n ry as een van die Top 20 Afrikaanse Skole in die land na afloop van die 2024-matriekeksamen aangewys. Dus is hulle weer uitgenooi na die nasionale merietetoekenningsgeleentheid van SOS wat op 07 Februarie in Pretoria aangebied word en is hulle die tweede beste gemengdegeslagskool in die land, en eerste in die Wes-Kaap. Ons is saam met julle trots en mag julle op al julle suksesse voortbou!
Verskeie ouers het my genader en wou uitvind waarom ek vir die interim sokkerspel vir die seuns voor, na en tydens skoolure gestop het. Graag deel ek die redes soos volg:
-
Kompetisie: Selfs na verskeie gesprekke bly ons seuns geweldig kompeterend en lei dit gereeld tot konflik en bakleiery wat daagliks dissiplinêre optrede vereis.
-
Beserings: Geskied op ‘n daaglikse basis en seuns moet gereeld mediese behandeling ontvang. Ongelukkig is spasie by die skool beperk en nie-deelnemers is dikwels ook in die slag met ‘n bal wat hulle teen die kop en/of in die gesig tref.
-
Skade: Die konstante geskop van sokkerballe teen die heining wat die mini-sportveld agter omring, loop gereeld deur en moet herstel word. Verskeie motors is ook al deur sokkerballe beskadig.
Ek sal weer met die seuns ‘n gesprek voer en heroorweeg om sokkerspel toe te laat.
Hiermee ‘n dringende versoek om asseblief jul samewerking te gee om die gladde vloei van verkeer vanaf Nuwe Kerkstraat te verseker wanneer julle soggens/smiddae jul kind(ers) by die skool aan die agterkant (Nuwe Kerkstraat) af-/oplaai en veral – as jy graag jou kind(ers) wil help om soggens hul skooltas(se) uit die kattebak te haal, of ‘n drukkie/soentjie te gee, of ‘n bietjie bemoediging vir die dag wat voorlê te gee – eerder van die parkering as die af- en oplaaisones gebruik sal maak. Middae het ons ‘n groter probleem met voertuie wat die verkeer onnodig ophou en dit jaag onnodig ouers/voogde se bloeddruk op. Gee asseblief jul samewerking vir ons terreinmanne wat aangewys is om die verkeer middae op die skoolgronde te bestuur. Baie dankie vir jul begrip en samewerking in die verband.
Baie dankie aan ons senior koor ouerkomitee wat vir juf. Rolene tydens koorkampe en -optredes met logistieke reëlings en toesig gaan ondersteun. Graag bedank ek by voorbaat die volgende ouers vir hulle hulp met die senior koor:
-
Joanita du Toit
-
Samantha le Roux
-
Thelma Janse van Rensburg
-
Louiza Rademan
-
Catherine Clover
-
Frances Samuel
-
Coreen Scholtz
-
Suzanne Jacobsz
Ons sien vanjaar baie uit na beide kore se optrede en wens hulle alle voorspoed toe.
Ek sluit dan die week weer af met ‘n hart van dankbaarheid en deel die onderstaande aanhaling van Will Arnett rakende dankbaarheid. Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne.
“I am happy because I am grateful. I choose to be grateful. That gratitude allows me to be happy.”
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF