Ek is baie opgewonde om die jaar saam met julle af te skop. Alle skoolaktiwiteite is met die aanvang van die 2de week van die nuwe kwartaal in volle swang en alles loop klopdisselboom.

Op Maandag, 20 Januarie 2025, het die buitemuurseprogram amptelik afgeskop en ons is baie opgewonde oor die deelname van leerders aan die verskillende somersportkodes. Baie dankie aan al die ouers/voogde vir julle aandeel om jul kinders te motiveer om vanjaar weer aktief aan skoolsport deel te neem en dit saam met hul maats te geniet.

Baie geluk aan die volgende leerders (alfabeties) wat op Dinsdag, 21 Januarie, tydens die saalbyeenkoms hul leerderraadbalkies ontvang het:

  • Rudi Badenhorst

  • Jack Dawes

  • Abigail Fourie

  • Ben Esterhuyse

  • Gusto Hoogendyk

  • Nils le Roux

  • Elisabet Marais

  • Johannes Mouton

  • Dané Olivier

  • Vincent Oosthuizen

  • Stella Pansegrouw

  • Katryn Silvis

  • Amelie van der Walt

  • Annalene Viljoen

Baie dankie aan hul trotse ouers wat die spesiale geleentheid bygewoon het om die tradisionele aansteek van hul balkies te behartig. My beste wense vergesel die 2025 leerderraad vir die belangrike rol wat hulle vanjaar as leerderleiers by ons skool gaan speel.

Graag wil ek al ons ouers/voogde wat die gewilde inligtings- en bekendstellingsaand op Donderdag, 23 Januarie 2025, bygewoon het, hartlik bedank. Al was daar elders musiekopvoerings, was dit werklik ‘n riem onder die hart om te sien dat soveel ouers/voogde werklik betrokke by sy/haar kind se skool wil wees en dit koester om deel van ‘n spesiale skoolgemeenskap te wees. Laat my toe om ons uittredende OOV-voorsitter, Coreen Scholtz, en haar span hartlik te bedank vir die puik reëlings en harde werk wat die sukses van die aand verseker het. Die samesyn was kosbaar en die ‘lekker gees’ onder die ouers/voogde was amper tasbaar. Die doel van die aand was natuurlik om inligting oor jou kind/ers se nuwe graad aan ouers/voogde oor te dra, asook om die personeel bekend te stel. Ek dink almal stem saam dat die funksie absoluut die regte geleentheid was om die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Ek glo ouers/voogde het ook die geleentheid gebruik om mekaar beter te leer ken, veral die Graad 1-ouers asook al die nuwe ouers en daardeur nuwe vriendskappe te bewerkstellig. Groot dankie aan Coreen Scholtz vir wat sy alles vir die skool as OOV-voorsitter gedoen het – ons is jou baie dankbaar! Graag wens ek ons nuwe OOV-voorsitter, Susan Derksen, wat by Coreen oorneem, en haar span alle voorspoed toe en ons sien baie uit na al die gesellige sosiale geleenthede wat die jaar weer voorlê.

Die pret en samesyn vir die week het egter nie by Donderdagaand gestop nie, dus glo ek dat ek môreoggend almal weer tydens die ouer- en kindsportdag by die Conradieveld sal sien. Ouers/voogde en leerders word vanjaar in spanne van 5 lede gedeel wat bestaan uit 2 volwassenes en 3 kinders. Daar gaan vanjaar aan sokker, raak-rugby, ‘’pickle ball’’ en veldnetbal deelgeneem word. Hier is dus die ideale geleentheid om jou balvaardighede ten toon te stel en in die proses ‘n wonderlike dag saam met jou kind/ers en ander ouers/voogde te geniet. Indien jy bekommerd is oor ‘n moontlike besering, gaan ons spesiaal voorsiening van professionele noodhulp maak. Daar sal ook heerlike koffie, smaaklike eet- en drinkgoed te koop wees. By voorbaat dankie dat julle die dag gaan ondersteun. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes gaan optree en die snoepieverkope gaan hanteer.

Graag wil ek ook van die geleentheid gebruik maak om Hoërskool Jan van Riebeeck asook Pieter Rademeyer en sy personeel hartlik geluk te wens met hul puik 2024 matriekuitslae. Agt van die top tien presteerders was by ons in die laerskool – ons is saam met julle ongelooflik trots op die volgende merkwaardige uitslae:

  • 211 vakonderskeidings

  • 9 leerders slaag met 7 A’s

  • 4 leerders slaag met 6 A’s

  • 6 leerders slaag met 5 A’s

  • 53% behaal ‘n gemiddelde bo 70%

  • 24,4% behaal ‘n gemiddelde bo 80%

  • 100% slaagsyfer

Graag gee ek erkenning aan die agt oud-Jannies wat die Top Tien posisies behaal het:

  1. Mari Swanepoel met 95,29%

  2. Peet Karsten met 93,57%

  3. Marianne Nel met 92,29%

  4. Layla Erasmus met 90,86%

  5. Liezel Snijders met 89,71%

  6. Andreé van Zyl met 88,86%

  7. Ander skool

  8. Zazzie Henderson met 87,71%

  9. Ander skool

  10. Leila Lonte met 87,00%

Mag Hoërskool Jan van Riebeeck vanjaar weer voortbou op die uitmuntende matriekuitslae. Ons beste wense vergesel hulle.

Ons beplan om sekuriteit by die skool verder op te knap deur spesiale plakkers vir jul voertuie uit te reik om toegang tot die skoolterrein te verleen. Ons deel twee plakkers per gesin op Maandag, 27 Januarie, aan die leerders uit. Die plakkers moet asseblief links voor aan die binnekant van die motor se voorruit geplak word. Indien jy meer as twee voertuie besit en dus meer as twee plakkers verlang, kan jy ekstras teen R10 elk d.m.v. Karri aankoop. Slegs motors met die spesifieke plakkers gaan deur die wagte op die terrein toegelaat word en die nuwe reëling sal vanaf Maandag, 10 Februarie, streng toegepas word. Baie dankie vir julle samewerking in die verband om die veiligheid van ons leerders, ouers/voogde en personeel te verseker.

Ek sluit dan af met ‘n versoek dat ons die jaar met ‘n hart van dankbaarheid moet begin vir al die wonderlike voorregte wat ons so daagliks as vanselfsprekend aanvaar en deel die onderstaande aanhaling van William Arthur Ward rakende dankbaarheid. Geniet môre se pret-sportdag en mag julle ‘n heerlike naweek verder saam met jul gesinne spandeer.

“Gratitude can transform common days into thanksgivings, turn routine jobs into joy, and change ordinary opportunities into blessings.”

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF