‘n Hartlike welkom terug by ons geliefde skool. Groot opwinding het geheers saam met hoë energievlakke op Woensdagoggend, 17 Januarie 2025, tydens die opening van die skool na die heerlike somervakansie. Selfs ‘n ligte reënbui vroegoggend voor skool kon nie die opwinding demp nie en vanaf 07:00 het ‘n asemrowende reënboog sy stille verskyning oor Seinheuwel en Leeukop gemaak om amper simbolies ons leerders terug by die skool te verwelkom. Ons graad 1’s is spesiaal met ope arms deur die nuwe leerderraad ontvang en sonder enige trane na hul onderskeie klaskamers vergesel. Dit was so lekker om al ons leerders, ouers/voogde en personeel weer te sien, hande te skud, drukkies te gee en sommer net lekker te gesels oor die wonderlike vakansie-ervarings asook die opwindende jaar wat voorlê.

Ek vertrou almal het ‘n heerlike vakansie en ‘n geseënde Kerstyd saam met familie en vriende geniet. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is ten volle herlaai en slaggereed om die nuwe jaar aan te pak. Sterkte ook met al die nuwejaarsvoornemens! Volgens nuttelose statistieke in die verband, eerbiedig slegs 15% van mense hul nuwejaarsvoornemens, maar kom ons kyk of ons hulle verkeerd kan bewys.

Laat my toe om veral ons nuwe leerders en ouers/voogde hartlik by die LS Jan van Riebeeck-familie te verwelkom. Ek weet julle sal sommer vinnig inskakel en deel word van ‘n trotse omgee-skoolgemeenskap. Laat my toe om weereens vir almal ‘n wonderlike en voorspoedige 2025 toe te wens. ‘n Nuwe jaar bring nuwe geleenthede, nuwe lesse, en nuwe uitdagings – kom ons maak die beste daarvan gebruik.

Dit is dan ‘n riem onder die hart om met julle te deel dat al ons personeel veilig terug na die lang vakansie is, uitgerus en slaggereed om jul kinders te onderrig en te inspireer om te verseker dat elke Jannie sy/haar skooljaar terdeë sal geniet. Ons streef daarna dat elke leerder sy/haar volle potensiaal sal bereik teen die tempo waarteen elke leerder individueel ontwikkel. Graag verwelkom ek dan ook die volgende nuwe personeellede:

  • Dian Roelofse (Gr. 5-opvoeder)
  • Tine-Louise van Huysteen (Gr. 1-intern)
  • Christelle van Heerden (Zen Den-intern)
  • Herculine Becker (Gr. R-intern by Huppelland)
  • Amelia Heppell (Nasorgbestuurder by Huppelland)

Maak asseblief seker dat jy volgende week op Donderdagaand, 23 Januarie 2025, vanaf 18:00 die jaarlikse bekendstellingsfunksie en inligtingsaand by die skool bywoon sodat julle ook al jul kinders se nuwe opvoeders asook ander nuwe personeel kan ontmoet. Die program vir die aand werk as volg:

  • 18:00 – Inligtingsgesprek met klasopvoeder in die klaskamer soos deur opvoeders gereël. Benut asseblief dié geleentheid om jou kind se leeromgewing te verken en die roetines/stelsels binne-in die klas beter te verstaan. Ons gaan ook die akademiese verwagtinge vir die graad deurgee. Die opvoeders moet egter direk na afloop van die vergadering saam met julle as ouers/voogde in die saal wees vir die bekendstellingsfunksie. Individuele afsprake sal op ‘n latere stadium met ouers/voogde gemaak word sodra die basislynassesserings voltooi is.
  • 18:45 – Almal verdaag saal toe vir ons algemene inligtingsessie. Na afloop van die bekendstellingsfunksie sal smaaklike etes geniet word. Ek sien baie uit na die heerlike samesyn.

Neem asseblief kennis dat ons vanjaar weer vroeër met ons sportoefeninge begin. Die atletiekspan het alreeds vanaf Woensdag, 15 Januarie, begin oefen ter voorbereiding van die Interskole-atletiekbyeenkoms wat Dinsdag, 11 Februarie, plaasvind. Die somersport-buitemuurse program skop dan amptelik op Maandag, 20 Januarie 2025, af. Hou asseblief Saterdagoggend, 25 Januarie 2025, oop waartydens ons weer die gewilde ouer-kind sportdag by die Conradieveld gaan aanbied. Daar sal ook heerlike verversings te koop wees. Die doel hiervan is om pret saam met jou kind te hê terwyl ouers ook die geleentheid kry om mekaar beter te leer ken, nuwe vriende te maak en saam die jaar behoorlik af te skop met lekker geesvang.

Die musiekprogram skop ook amptelik op Maandag, 20 Januarie 2025, onder leiding van juf. Rolene van Zyl, Hoof van Musiek en Kultuur, af. Kontak gerus vir juf. Rolene indien jou kind musiekonderrig wil ontvang of in musiek belangstel. Ons poog om vanjaar weer aktief die kultuur-spyskaart vir ons leerders uit te brei.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van Michael Josephson rakende nuwejaarsvoornemens en wens julle ‘n wonderlike en voorspoedige 2025 toe. Geniet saam met jou kind/ers hul nuwe graad en leerervaring. Mag julle ‘n heerlike naweek geniet.

“Approach the new year with resolve to find the opportunities hidden in each day.”

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF