Op Maandag, 18 November, het die eksamen vir die Gr. 4–6-leerders suksesvol afgeskop, en die res van die week se eksamensessies het klopdisselboom verloop. Ek het vroeg Maandagoggend by al die verskillende klasse ingeloer om hulle sterkte vir die eksamen toe te wens, asook om die leerders rustig te maak sodat die eksamen nie bloot ‘n negatiewe ervaring hoef te wees nie.
Ons het ook vanaf Maandag, 18 November, met die interne sport- en kultuurprogram, wat in skooltyd plaasvind, begin. Tydens die sportsessies gaan ons voort met die somersportprogram vir Gr. 1–3-leerders, terwyl die Gr. 4–7-leerders slegs op atletiek fokus as gevolg van die kleure-atletiek wat op Woensdag, 4 Desember (velditems), en Vrydag, 6 Desember (baanitems), by die hoërskool se velde plaasvind. Ons leerders geniet dit terdeë om net na afloop van ‘n eksamen- of assesseringsessie die klas te kan verlaat om aan ‘n sportaktiwiteit deel te neem. Dit laat hulle sommer vinnig van die eksamenstres vergeet, help beslis om beter te fokus, maar seker die belangrikste is dat hulle hul eksamenervaring meer positief ervaar deur lekker vars lug buite te skep, aktief te wees en van al die negatiewe energie ontslae te raak.
Ek is nie seker of almal bewus is nie, maar juf. Marianne (Gr. 4C) bied naaldwerk as ‘n buitemuurse aktiwiteit by ons skool aan. Tydens die sessies word ons leerders juis tou wys gemaak van hoe om ‘n naald te ryg, ‘n soom te stik, patrone uit te knip, ensovoorts. Naaldwerk help beslis om verdere hand- en oogkoördinasie te bevorder, en wiskundige vaardighede word ook ontwikkel, want jy moet kan meet en pas. Juf. Marianne het hulle die afgelope tyd geleer om onder andere ‘n haarrekkie, ‘n potloodsakkie, ‘n kussingsloop en ‘n “bucket hat” te maak. Ek het die voorreg gehad om hulle met hul “bucket hats” in my kantoor te sien spog. Naaldwerk verhoog beslis leerders se kreatiwiteit, en hulle is ingenome met en trots op hul eie handewerk.

Graag wil ek die Graad 1-leerders komplimenteer met hul spoghuisies wat hulle vir hul mondelinge gebou het en dit op Vrydag, 15 November, in die vierkant vir die res van die leerders uitgestal het. Ek was veral beïndruk met die ongelooflike detail van die huisies en al die moeite wat ingesit is om dit te bou. Welgedaan, Gr. 1’s! Julle stel ‘n hoë standaard en maak ons baie trots.

Ek glo almal het waargeneem dat die ingangsmure vanaf Nuwe Kerkstraat ‘n bietjie van ‘n metamorfose ondergaan het. Baie dankie aan Rudolph Liebenberg (‘n Gr. 1-ouer en oud-Jannie) wat vir ons die mure so mooi verfraai het deur die skool se vier kernwaardes—naamlik verantwoordelikheid, respek, omgee en eerlikheid—vir ons op die mure te verf. Baie dankie, Rudolph, vir jou harde werk om die agterste ingangsmure so mooi te verfraai en ons net nóg trotser op ons skool te maak.

Graag deel ek met julle die goeie nuus dat my versoek om ‘n borgskap van ‘n koshuisfooi by HS Jan van Riebeeck vir ‘n huidige Graad 7-leerder vir 2025 (Gr. 8) gerealiseer het. Ek is verder dankbaar vir nóg ‘n ouer wat bereid is om die dogter se hoërskooluniform vir 2025 te borg. Dit is weereens ‘n bewys van die ongelooflike omgee-hart van ons skoolgemeenskap om te help waar daar nood is. Baie dankie aan die betrokke ouers wat bereid is om haar te help—dit is kosbaar!
Ek sluit die week af met ‘n bekende aanhaling van Dalai Lama rakende die opvoeding van die jeug. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met julle gesin en/of vriende toe, sterkte met die eksamen, en mag die Bokke môreaand teen die Rooi Drake wen.
“When educating the minds of our youth,
we must not forget to educate their hearts.”
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF