Ongeag hoe “maklik” en aangenaam jou kind voor ander mense optree of ál die sosiale reëls nakom, sien jy as ouer dikwels ‘n totaal ander kind by die huis. Gelukkig, met meer kennis asook ‘n bietjie kreatiwiteit is daar maniere om op ‘n vreedsame manier ‘n moelike kind te dissiplineer en ook te leer om konfliksituasies te hanteer. As ouers kan ons nie verwag dat ons kinders te alle tye hulle uitsonderlik goed moet gedra nie. Kinders is besig om hul plek in die wêreld te vind en te leer om ‘n magdom nuwe emosies te hanteer. Daar is gewoonlik ’n paar redes vir hierdie gedrag:
‘n Soeke na onafhanklikheid: onafhanklikheid is een van die vroegste sosiale vaardighede wat ‘n kind móét leer. Dit is dikwels die rede vir moeilik hanteerbare gedrag. Wat hulle eintlik vir ons probeer sê is: “Ek wil dit ‘n slag op mý manier doen!”
‘n Poging tot kontrole en om in beheer te voel: selfs as ‘n volwassene voel ons frustreerd wanneer ons nie beheer het oor ‘n sekere situasie nie. Dikwels,wat vir ons na swak gedrag lyk, is dalk net ons kind se manier om vir ons te probeer sê: ”Los alles en luister net na my…ek wil gehoor word!”
‘n Soeke na aandag: kinders tree gewoonlik buite die grense op as ‘n manier om die aandag op hulle te vestig. Onthou, kinders ervaar emosies net so intens soos ons, hulle het dikwels net nog nie die taal om dit te verwoord nie. Dit kan uitspeel in ‘n gebrek aan kontrole en frustrasie.
Ander redes: dit is normaal vir die maklikste kind om jou teen te gaan. Kyk na ander redes wat dit dalk mag veroorsaak: Het iets dalk by die skool gebeur? Was daar ‘n argument met ‘n maat? Hou ook altyd in gedagte: jou kind mag dalk net doodeenvoudig ‘n “af” dag hê. As volwassenes beleef ons ook dae waar alles skeefloop en ons vir niks kans sien nie. Ons kinders ook.
Hoe leer ek dan my kind konflik hanteer?
Opponerende gedrag in kinders is normaal en ons moet dit verwag. Dit is doodeenvoudig deel van die lewe om nie saam te stem oor alles nie. Dit is wat ons uniek maak. Selfs ‘n baie jong kind moet leer om konflik te hanteer: van hulle eerste baklei oor speelgoed tot koppe stamp op die speelgrond. Ongelukkig is daar net een plek waar kinders kan leer om konfliksituasies konstruktief te hanteer: in die huis en by hulle ouers. Hoe jý konflik hanteer, gaan bepaal hoe jou kind konflik gaan hanteer. Al probeer jy oor-en-oor jou kind leer wat die regte manier is om op te tree, gaan jou kind dit nooit leer as jý ongelukkig ‘n swak voorbeeld stel nie. Met dit in gedagte, is daar vyf goed wat ons vir ons kinders kan leer:
- Ons mag verskil: Leer jou kind dat, om nie altyd saam te stem oor alles nie, heeltemal normaal is. Dit beteken nie dat ‘n mens nie nog steeds vriende kan wees nie.
- Leer jou kind om te luister: In enige konfliksituasie het die ander persoon ook die reg om sy/ haar standpunt te stel. Wees respekvol en moenie jou maat onderbreek totdat hy/sy nie klaar gesê het hoe hy/sy voel nie.
- Verskille is ‘n goeie ding: ‘n Mens kan nie áltyd iemand se opinie verander nie en daar is niks daarmee verkeerd nie. Dit is normaal en goed dat mense verskil en verskillend voel. Gebruik hierdie voorbeeld om dit vir jou kind te verduidelik: as ons almal van dieselfde soort roomys gehou het, hoe kleurloos en vervelig sou die lewe nie gewees het nie?
- Daar is ‘n tyd om te verskil en ‘n tyd om jou opinie vir jouself te hou.
- Jy hoef nie altyd die laaste woord te hê of die argument te “wen” nie. Indien dit lyk of jy en ‘n maatjie nie die verskil met respek vir mekaar kan oplos nie, stap weg. Jy gaan niks verloor as jy toelaat dat die ander persoon die laaste sê het nie. Inteendeel.
Indien jou kind van jongs af reeds bogenoemde beginsels tydens verskille kan toepas, leer jy hom/haar om as ‘n volwassene konstruktiewe debatte te hê, maar belangriker, om selfs die mense naaste aan jou met respek te hanteer wanneer julle verskil.
Marike Badenhorst Opvoedkundige Sielkundige