Hiermee gee ons graag terugvoer rakende die meningspeiling 2024 wat 245 ouers/voogde van ons laerskool voltooi het.
Ons voel uiters bevoorreg dat daar soveel deelname aan hierdie meningspeiling was wat gedurende Junie 2024 geloods is. Die idee met die opname was om te bepaal of die skool vanaf die vorige opname wat gedurende 2021 versprei is, verbeter het. Ons kan met dankbaarheid deel dat daar heelwat aspekte van ons skool is wat ons vanuit daardie meningspeiling kon aanspreek en verbeter. Dit is dus waardevol om soveel moontlik van ons ouers/voogde se insette te ontvang sodat daar deursigtige besluite geneem kan word om die hele skoolgemeenskap te verbeter en te bevoordeel. Met die kind as ons hooffokus, bly dit ‘n plesier om uitnemendheid as ‘n holistiese benadering na te streef.
Vanuit hierdie jaar se opname blyk dit duidelik te wees dat ons leerders baie gelukkig in ons skool is en dat ons skool hoë gehalte onderrig op verskeie vlakke lewer. Hierdie twee aspekte dien as die hoofrede waarom Laerskool Jan van Riebeeck doen wat ons doen en weet dat ons voordurend moet bly verbeter op die twee aspekte om dit ons prioriteit te hou.
Die volgende punte staan duidelik uit in die meningspeiling:
- Leerders moet die vrymoedigheid ontwikkel om vrae te vra indien daar iets is waarvan hulle onseker voel;
- Boelie-insidente: Ons het ‘n aksieplan saamgestel wat reeds in die skool geïmplementeer is.
- Ons sal meer oor hierdie konsep aan ons leerders en ouers/voogde in onder andere die nuusbrief kommunikeer soos ons alreeds ‘n paar keer gedoen het;
- Groepsgesprekke sal met bepaalde graadgroepe georganiseer word. ‘n Deskundige sal hierdie gesprekke voer. Graad 3’s het hierdie week ‘n inligtingsessie by Marike Badenhorst gehad.
- Opvoeders en leerders weet watter kanale om te volg. Boeliebeleid is hersien.
- Duidelike onderskeid word tussen die begrip boelie vs. dissipline getref. Ons ondervind dat die meerderheid van ‘boelie’ meestal dissipline-uitvalle is.
- Ouerleiding d.m.v. ouerpraatjies sal ook aangebied word.
- Graad 1-3-huiswerk is gepas – ons ondersoek dit en pas aan soos nodig;
- Duidelike kommunikasie aan leerders sodat hulle weet met watter opvoeders om te gesels indien hulle ‘n nie-akademiese probleem ervaar.
- Duidelike inligting aan ouers/voogde deurgee rakende die inhoud van kodering/robotika-onderrig by ons skool.
- Aanspreek van verkeersprobleme binne en buite die skoolperseel om op- en aflaai van leerders te vergemaklik
- B-sportspanspelers ook soveel blootstelling as A-spanne moet kan geniet;
- Musieklokale is afgeleef en oud;
- Aanbieding van Drama as interne en buitemuurse aktiwiteit;
- Moontlikheid om vorderingsverslae (rapporte) digitaal beskikbaar te stel word ondersoek.
Vriendelike Beheerraadgroete.