Ek hoop en vertrou dat dit met almal in ons skoolgemeenskap goed gaan, veral die tyd van die jaar waar ons nog so baie take moet afhandel en sperdatums moet eerbiedig voor die langverwagte Desember-vakansie vir almal aanbreek.
Volgende week op Woensdag, 13 November, begin die finale eksamen vir die Gr.7’s. Die assesserings vir die grondslagfase is reeds vanaf 04 November volstoom aan die gang. Vir die eerste keer skryf al ons grondslagfase-leerders deurlopende assesserings om assesseringsangs by hulle te verminder. Soos julle weet, mag ek mos nie eintlik die ‘E-woord’ gebruik nie, maar op Maandag, 18 November, begin die Gr. 4 – 6-leerders ook met hul eksamen en wens ek al ons leerders, ouers/voogde, tutors, fasiliteerders en personeel voorspoed toe. Eksamens verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders en dit filter ook dikwels deur na die huisgesin. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as onderwysers te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen/assessering te bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres as gevolg van enige eksamen laat die meeste mense snak na hul asem, maar dit is ‘n natuurlike reaksie en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees. Probeer gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres en moontlik jou eie angstigheid daaroor hok te slaan:
- Berei asseblief betyds voor. Help om saam met jou kind/ers betyds ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om ook te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap kry. Handhawing van ‘n roetine sal beslis help!
- Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer vry van stressors by die huis vir jou kind/ers om te leer.
- Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
- Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle hoe die eksamen was en dit is belangrik om positiewe woorde uit te spreek deur byvoorbeeld die volgende te sê: “dit sal goed met die eksamen gaan, want jy het goed voorberei.’’ Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
- Help jou kind/ers om ‘n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die dag in skool toe te pak.
- Vermy asseblief gejaagdheid en om jou kind/ers op die nippertjie soggens voor die eksamen/assesserings by die skool af te laai, want dit maak leerders ongelooflik angstig.
So tussen die eksamen en die leer gaan die somersportprogram in skooltyd vir Gr. 1 – 3-leerders voort terwyl die gr. 4 – 7-leerders slegs op atletiek gaan fokus a.g.v. die kleure-atletiek wat op Woensdag, 06 Desember, (velditems) en Vrydag, 08 Desemeber, (baanitems) by die hoërskool se velde plaasvind. Die dirigente is reeds op Vrydag, 01 November, aangewys en binne die kleurgroepe gaan daar lekker gesing en voorberei word.
Op Maandag, 04 November, het die jaarlikse begrotingsvergadering met ouers om 18:00 in die saal plaasgevind. Anders as ander jare het ons op FEDSAS (Federasies van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) se aanbeveling julle as ouers ernstig versoek om die begrotingsvergadering by te woon, want daar moet ‘n kworum van 10% teenwoordig wees. Dit beteken dat daar ‘n minimum van 85 ouers/voogde die vergadering moes bywoon! Ek was aangenaam verras met die opkoms van ouers/voogde tydens die vergadering. Die kaartjies vir leerders om die volgende dag sivvies te dra asook ‘n smullekker roomys wat daarmee gepaard gaan, was ‘n groot motivering vir die opkoms. Baie dankie aan al die 117 ouers/voogde wat die vegadering bygewoon het. Ons volg altyd ‘n deursigtige proses met die begroting en ek glo dit was ‘n insiggewende sessie vir ouers/voogde rakende die finansiële bestuur van die skool asook om te sien waarvoor hulle skoolgelde jaarliks aangewend word. Die 2025 begroting en verhogings van skoolfooie (8,5%) is soos volg deur ouers/voogde goedgekeur:
Die 2024 skoolgelde is op R42 750 per GF-leerder en R43 835 per ISF-leerder vir die Laerskool, en Huppelland: R47 961 per leerder vir Graad R en R46 876 vir voor-Graad R vasgestel.
Baie dankie ons Finansiële Bestuurder, Liesel Hammond, ons Tesourier, Susan van der Walt, asook ons BR Voorsitter, Merwe Scholtz, vir jul kosbare tyd en harde werk om ‘n uitstekende en effektiewe begroting vir finale goedkeuring te kon voorlê. Weereens baie dankie aan die ouers/voogde wat die belangrike vergadering bygewoon het.
Ons jaarlikse Gr. 4-inligtingsessie met ons huidige Gr.3-ouers het op Dinsdagaand, 05 November, om 18:00 in die saal geskied. Die doel van die inligtingsessie is om aan die huidige Gr.3-ouers te verduidelik wat Gr.4 asook die nuwe fase (intermediêre fase) behels. Dit sluit onder andere in die nuwe Gr.4-vakke, voorstel aan die verskillende onderwysers wat die vakke onderrig, die volg van ‘n ruilrooster vanaf 2025, gebruik van MS Teams, eksamens asook om hul voor te brei vir hul kind/ers se oorgang na Gr.4. Ouers is dikwels meer angstig as hul kind/ers wat na ‘n volgende fase beweeg. Ek wil graag vir juf. Marianne (Graadhoof) en haar span hartlik bedank vir die puik en insiggewende aanbeiding. Die aand is verder afgerond met ‘n puik aanbieding deur Cathryne Botha (opvoedkundige sielkundige) om ons ouers beter toe te rus sodat hulle hul kind/ers wat in 2025 na Graad 4 beweeg, beter kan ondersteun en minder angs ervaar.
Ek deel dan graag ook die wonderlike kultuurnuus:
Vyf Jannies het vanjaar in September die Suid-Afrikaanse Spraak- en Dramakollege se nasionale Mondelinge Kommunikasie-eksamen afgelê en die uitslae is vandeesweek ontvang.
Dié vyf Jannies (onderstaande) het reeds vanaf Januarie tydens ’n weeklikse les by Alma Nel vir hierdie praktiese eksamen begin voorberei en dit saam met die junior dramagroepe van die Hoërskool Jan van Riebeeck afgelê. Die vlak waarop hul ingeskyf was, Intermediêr 2 (Sophia Derksen, Susie Samuel, Daniella Boshoff, Pieter Rademeyer) en Hoër 1 (Karu Rademeyer), is dus reeds op die gr. 8 & 9-hoërskoolleerders se vlak.
Dié uitdagende eksamen behels ’n program wat elke leerder aanbied en die volgende insluit: ’n voorbereide demonstrasie of praatjie oor ’n interessante onderwerp, die voorlees en bespreking van ’n boek, improvisasie-standpunt of groepverhaalkuns, vrae en besprekings oor die aanbieding en dan het die onderskeie groepe ’n 20 minute-dramaprogram met ’n spesifieke tema aangebied.
Baie geluk aan die volgende vyf Jannies met jul puik uitslae:
Intermediêr 2
Sophia Derksen – 95%
Susie Samuel – 95%
Daniella Boshoff – 97%
Pieter Rademeyer – 98%
Hoër 1
Karu Rademeyer – 96%
Julle maak ons baie trots!
Graag neem ek die vrymoedigheid om ons ouers/voogde te nader of daar dalk iemand bereid sou wees om die koshuisfooi by HS Jan Van Riebeeck van ‘n huidige Graad 7-leerder by ons vir 2025 (Gr. 8) te kan dra. Hierdie leerder kom uit ‘n behoeftige gesin wie se omstandighede skielik verander het en dus benodig die leerder vanaf 2025 koshuisinwoning. Kontak my asseblief indien jy van hulp kan wees, by voorbaat dankie.
Ek dra nog steeds my spreekwoordelike dankbaarheidsbril en sluit nog ‘n week op ‘n dankbare noot met die bekende aanhaling van Richie Norton af. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met julle gesin en/of vriende toe.
“Express gratitude for the greatness
of small things’’
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF