Moeder Natuur het die afgelope paar weke die heerlikste weer gestuur en kon ons verskeie wintersportwedstryde en -oefeninge buitemuurs terdeë geniet. Sy het egter die afgelope week besluit, genoeg is genoeg, en vir ons tipiese Kaapse winterweer gestuur. Hierdie skielike veranderinge in weersomstandighede en temperature lei ongelukkig dikwels tot wintersiektes onder leerders, en dit kan maklik die hele gesin plattrek. Maak dus seker jou kind/ers is gepantser vir die koue weer deur onder andere reg aan te trek om die koue weer buite te trotseer terwyl hulle buite sport beoefen en/of kerjakker. Gesonde eetgewoontes en die neem van ‘n multivitamien kan ook moontlik help om jou kind/ers se immuunstelsel te versterk. Gelukkig word die winterseisoen nie net met siekword geassosieer nie, want winter het tog sy eie bekoring. Die kraakvars oggende en wintergeure is vir baie mense idillies. Die winter bied haar eie knusheid en bring dikwels mense bymekaar om heerlik saam te kuier met ‘n kaggelvuur wat die vertrek warmhou. Mag ons almal warm en gesond bly die komende wintermaande, veral met die eksamens om die draai.
Die afgelope naweek het ons tuis vanaf 16–17 Mei nog ‘n suksesvolle sportnaweek suksesvol by ons skool aangebied. Hokkiewedstryde is op Vrydagmiddag, 16 Mei, afgelê en die volgende dag is al die rugby- en netbalwedstryde voltooi. Ons sportspanne het puik gevaar en graag sonder ek ons eerstespanne (o/13A’s) uit met hul onderskeidelike oorwinnings oor die naweek – baie geluk aan ons leerders en afrigters! Die opkoms van ouers was weereens ‘n riem onder die hart en graag wil ek julle hartlik bedank dat julle jul kind/ers so lojaal ondersteun. Dit beteken vir hulle so baie om julle as ouers/voogde langs die sportveld te hê om hulle te ondersteun, of hulle nou wen of verloor.
Verskeie van ons o/11-, o/12- en o/13-netbaldogters het op Saterdag, 17 Mei, aan die finale WP-proewe gaan deelneem. Ons wag nog vir die uitslae en sal dit so spoedig moontlik deel sodra ons die nuus ontvang. Verder het Kyle Meissenheimer, Christina du Toit en Alexander Wille die WP-skaakspanne by die Wes-Kaap-skaakproewe te Worcester verteenwoordig. Hulle uitslae is ook nog hangend.
Dit is weer Eisteddfod-tyd, wat die toetsing van individue in sang, spraak, dans, toneel en musikantskap insluit. Op 20 en 21 Mei het die Kaapse Afrikaanse Spraak Eisteddfod by ons skool plaasgevind en ons leerders het hul puik van hul taak gekwyt. Ek bewonder ons leerders se moed om aan ’n Eisteddfod deel te neem deur byvoorbeeld ‘n gedig op te sê, of ‘n toespraak te lewer, of ’n karakter te vertolk voor ‘n gehoor. Eisteddfods is seker een van die beste geleenthede om van kleins af gemaklik te raak met optredes voor ‘n gehoor of om voor mense te praat. Hulle leer dus waardevolle vaardighede wat later in hul lewe handig te pas gaan kom.
Ek sluit dan week 7 af – mag julle as ‘n gesin ‘n wonderlike naweek geniet. Sien uit om julle die komende naweek weer langs die sportvelde by Laerskool Mikro te sien, asook vanmiddag tuis tydens die aanbied van ons eie netbaltoernooi vir B–E-spanne. Tien skole neem aan die gewilde toernooi deel en spanne kry die geleentheid om meer as een wedstryd op die dag te speel, wat die dag dus baie opwindend maak.
Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:
‘Iets op die keper beskou’
Die uitdrukking beteken: die saak noukeurig te ondersoek.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF