Week vier van die laaste kwartaal kom net te vinnig tot ‘n einde met die jaar wat besig is om einde se kant toe te staan. Ek weet nie van julle nie, maar vir my voel dit asof die laaste gedeelte van die jaar net eenvoudig vinniger verby snel as die res van die jaar. Selfs die kersfeesversierings is besig om hul verskyning in winkelsentrums te maak. Oor ‘n bietjie meer as 2 weke begin die Gr. 7’s met hulle finale eksamen by die laerskool en net daarna begin die Gr. 4 en 6-leerders, maar dit nou eers daar gelaat.
Op Dinsdag, 22 Oktober, het ons weeklikse saalbyeenkoms plaasgevind, maar hierdie keer met ‘n bietjie van ‘n verskil. Ons het vanaf hierdie week 10 sitplekke vir ons ouers/voogde wat die saalbyeenkoms graag wil bywoon, gereserveer. Ons sal graag meer sitplekke wil uitsit, maar ongelukkig is spasie ‘n probleem. Ek glo hulle het die saalervaring terdeë geniet en moontlik het kosbare terugflitse van hul eie skoolervaringe in hul gedagtes opgekom. Die saalboodskap is op Dinsdag deur die Graad 7’s gelewer en dit het gehandel oor een van ons vier kernwaardes, naamlik eerlikheid. Baie dankie aan Hila, Jana, Milan en Ané wat die pragtige boodskap in die saal gelewer het. Stuur asseblief vir my ‘n e-pos indien jy ook belangstel om ‘n saalbyeenkoms op ‘n Dinsdag vanaf 07:40 – 08:30 by te woon. Die laaste saalbyeenkoms vir die jaar geskied op Dinsdag, 12 November, aangesien die eksamens daarna begin. ‘n Jannie-saal is ‘n belewenis, kom loer gerus!
Ons was die week bevoorreg om vir Carla de Beer al die pad vanaf Pretoria op Dinsdagaand, 22 Oktober, om 19:00 by ons skool te verwelkom. Carla is ‘n regsgeleerde wat fokus op digitale wetgewing, maar ek kan seker eerder na haar as ‘n digitale welstandsafrigter verwys wat skole regoor die land besoek. Sy het 3 jaar gelede ook ‘n inligtingsessie by HS Jan van Riebeeck aangebied waartydens sy belangrike inligting betreffende die gebruik van sosiale media en die internet deur kinders en die gevare daarvan uitgelig het.Ons ervaar dat ons leerders nie die belangrikheid van korrekte gebruik asook die gevare agter die skerm van sosiale media verstaan nie. Vir ons as personeel en ek glo vir julle as ouers is dit nog meer belangrik om ingelig te bly, want sosiale media-gebruik is dikwels ‘n tammeletjie vir tieners en ouers. Carla het verder ook Dinsdagoggend, 22 Oktober, vanaf 11:00 – 12:00 ‘n inligtingsessie met ons Gr. 4 – 7-leerders oor die gevare van sosiale media-gebruik asook die korrekte gebruik van die Internet gehou. Hierdie insiggewende sessie was beslis ‘n openbaring vir ons leerders en personeel om uiters versigtig te wees voordat jy enige plasings (geskrewe of foto’s) op sosiale media platforms plaas.
Graag wil ek ons ouers/voogde ernstig versoek om nie ‘n selfoon/slimfoon vir jou kind/ers op ‘n jong ouerdom aan te skaf nie. Ek het hierdie week ‘n gesprek met die Gr. 3-leerders gevoer oor ons skool se waardes en ek moet eerlik wees ek was nogal geskok om te hoor hoeveel van hulle ‘n selfoon/slimfoon besit en/of toegang tot Internet het. Ek kry nogal heelwat navrae van ouers/voogde oor watter ouderdom geskik vir laerskoolleerders is om ‘n selfoon/slimfoon te besit en/of te gebruik. My advies sal altyd wees om eers te wag tot jou kind in Graad 7 is voordat jy dit aanskaf. Indien jou kind dan wel jonger is, maak asseblief seker dat jy aktief betrokke by jou kind se Internet-gebruik is. Stel gesonde grense vir skermtyd en oorweeg dit om filters te installeer wat onvanpaste inhoud blokkeer. Baie dankie aan al ons ouers/voogde wat die inligtingsessie bygewoon het. Ons besef weereens hoe blootgestel ons leerders aan ‘n ongenaakbare digitale wêreld is, daarom het hulle ons leiding in die verband nodig. Ek glo dat die inligtingsessie absoluut die moeite werd was en dat dit jou bemagtig het om die regte digitale keuses namens jou kind/ers te kan neem.
Vandag heers daar groot opwinding by die skool, want ons loods die nuwe formaat van die Suidooster. Sover my inligting strek, is die eerste harde kopie is 1991 bekend gestel. Die nuwe Suidooster sluit onder andere ‘n blogfunksie vir ons leerders in wat dus meer geleenthede vir leerders as net vir die redaksiespan gee om ‘n bydrae tot die Suidooster te maak.
Baie dankie, Marié Cruywagen, vir jou harde werk om die nuwe digitale platform vir ons leerders moontlik te maak en in die proses te verseker dat ons saam met die moderne tye beweeg. Die nuwe Suidooster is nou meer boeiend, hedendaags en persoonlik en dit gaan lesers beslis laat terugkom. Marié ek is jou baie dankbaar vir al die ongeloofike IKT-werk wat jy pro bono by ons skool verrig! Baie dankie vir jou passie in die verband asook jou leeue-aandeel in die onderhoud van ons digitale adminstelsel en aanlyn aankope deur Jan Kas.
Ek sluit dan die week weer op ‘n dankbare noot af met die bekende aanhaling van John Ortberg en ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met julle gesin en/of vriende toe. Sterkte met al die sportaktiwiteite wat die naweek plaasvind!
“Gratitude is the ability
to experience life as a gift.
It liberates us from the prison of self-preoccupation!’
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF