Waarom het ons besluit om weekliks inligting rakende boelie in die nuusbrief te plaas?
Wat kan ek as ouer doen om my kind meer weerbaar teen boeliegedrag te maak? Wat kan ek binne hulle leefwêreld beheer en wat nie? Wat kan ék doen om my kind te beskerm teen seerkry en struikelblokke? In hoe ‘n mate kan ék besluit wat ek wil toelaat wat van die wêreld se kant op my kind gelaai en soms “gegooi” word wat my kind potensieel emosioneel kan laat struikel?
Ongelukkig is daar nie ‘n kitsoplossing nie. Al wat jy as ouer in sekere situasies régtig kan beheer, is om jou kind se emosionele weerbaarheid te ontwikkel; om lewensvaardighede aan te leer wat hulle vir die res van hulle lewe kan toepas in watter situasie hulle ookal mag wees. En om dáár te wees sodat hulle nie alleen voel en broei rondom sekere emosies en vrae wat hulle verwar of trauma mag veroorsaak nie.
Waar begin ‘n mens as ‘n ouer? ‘n Goeie vertrekpunt mag wees om jou kind bewus te maak van “wat sê ek vir myself in my kop?” Onthou, dit is nie net ons as volwassenes wat moet baklei teen daardie interne kritiese stemmetjie nie. Glo my, kinders sukkel ook daarmee. Daarom: hoe jonger jy jou kind leer om daardie stem te “beheer”, hoe gelukkiger en meer selfvertroue sal jou kind hê. Onthou: as óns as ouers nie vir ons kinders daardie vaardigheid aanleer nie, wie gaan dit vir hulle leer?
Hoe verduidelik ek “selfspraak” aan my kind? Hier is ‘n lekker praktiese manier waarop jy dit dalk kan
benader afhangend van die ouderdom van jou kind. Begin deur jou kind daarvan bewus te maak dat gedagtes wel beheer kan word. Noem dat ons brein se stemmetjie van binne af gaaf kan wees en soms ‘n regte boelie kan wees. Maak jou kind daarvan bewus dat hy/sy beheer het oor hoe sy dink en voel.
Verduidelik dat ons almal se gedagtes twee kante het: ‘n “beste-maat(jie)-kant” en ‘n ”boelie-kant.”Hierdie laaste kant hou niks van jou nie en dit is vir hulle lekker om jou hartseer en ongelukkig te sien.
‘n Wonderlike tegniek om te gebruik is humor. Dit is ‘n tegniek wat heeltemal onderskat word en wat die angel uit ‘n plofbare situasie haal, alles ligter maak en dikwels ‘n ander perspektief gee. Besluit saam met jou kind wat hy/sy elke kant wil noem … hoe snaakser die naam, hoe beter. Veral die “boelie-stem”. ‘n Voorbeeld mag wees: jou kind kom moedeloos van die skool af en die eerste ding wat hy/sy sê is: “Ons skryf Vrydag ‘n Wiskundetoets. Ek verstaan níks nie, ek gaan definitief dop en dan gaan Meneer sien hoe dom ek eintlik is” … Jou reaksie kan wees: “Ag nee, nou hoor ek Rosie die Rot (negatiewe gedagtes) se stem. Het jy al ooit ‘n Wiskundetoets gedop en het jy al ooit gaan toets skryf as jy nie seker gemaak het jy verstaan nie alles nie? Kom ons maak ‘n plan!”
Of jou kind maak ‘n opmerking: “Sjoe, dit het vandag so goed gegaan met my mondeling. Ek is so trots op myself.”
Jou reaksie: “Ag ek is so bly ek hoor dit is Liewe Lolla wat daar praat … dalk moet jy meer na haar luister, want dit klink vir my sy jok nie vir jou nie en sy hou van jou.”
Leer jou kind: BE YOUR OWN BIGGEST FAN … En dan pas ons dit sommer ook op onsself toe!
Marike Badenhorst