Week drie van die laaste kwartaal skop met ‘n opwindende kultuurweek af wat vir ons leerders en ouers/voogde aangebied word. Hierdie inisiatief is deel van die skoolbestuur en Beheerraad se visie om die kwaliteit van die kultuuraanbieding by die skool te bevorder en te promoveer. Ek is seker dat julle sal saamstem dat kultuur ‘n opvoedkundige bondgenoot is en dat dit gelykwaardige ruimte, tyd en erkenning soos akademie en sport binne ons skoolopset moet geniet. Dus wil ons skool ‘n wye verskeidenheid van kultuuraktiwiteite aanbied waarin leerders hulself kan uitleef en hul talente ontwikkel.
Die kultuurweek het die volgende aktiwiteite ingesluit:
Dag 1: Ons was baie bevoorreg om op Maandag, 14 Oktober, die Kaapse Filharmoniese orkes te ontvang en hulle het hul puik produksie Pieter en die Wolf vir ons leerders in die saal aangebied. Dit was voorwaar ‘n verrykende belewenis vir die leerders en personeel.

Dag 2: Op Dinsdag, 15 Oktober, is die kultuurweek verder gevier met ‘n kunsuitstalling van ons leerders se kunswerke in die personeelkamer en skoolgange. Ons het ook ‘n stylvolle Dankie-sê-funksie die aand aan al ons donateurs en borge wat oor die afgelope paar jaar ruim donasies asook kosbare tyd aan die skool en Huppelland geskenk het om skoolinfrastrukture, tegnologie, kurrikulum- en dienslewering vir ons leerders op te gradeer en te verbeter. Agtergrondmusiek is die aand deur mnr. Ben en sy orkes verskaf. Die hoogtepunt van die glansfunksie was vir seker die puik kultuuroptredes tydens die aand:

- Junior koor onder leiding van mnr. Ben.
- Ruben de Ridder met ‘n klavieritem.
- Adigail Theron met ‘n kitaaritem asook ‘n duet saam met mnr. Brent.
- Strykensemble-optrede bestaande uit Coreen Scholtz, Jacob Venter, Peter More, Anabella en Daniella Boshoff en juf. Shannon wat saamgespeel het.
- Sang duet deur Danielle Boshoff en Karu Rademeyer wat deur mnr. Ben begelei is.
- Leah de Kock met ‘n klavieritem.
- Senior koor onder leiding van Leon Starker.
Baie dankie en baie geluk aan ons hoofseun en -dogter, naamlik Frank van der Walt en Karu Rademeyer, wat soos wafferse en ervare seremoniemeesters opgetree het om die gladde verloop van die program te verseker. Ons spesiale gaste het die aand ook die geleentheid gekry om ons leerders se indrukwekkende kunswerke in die personeelkamer en skoolgange te besigtig, asook die nuwe mediasentrum en Zen Den te besoek. Ons kunsleerders is so talentvol en hul beeldende kunswerke is merkwaardig. Ek bewonder hul kreatiwiteit en skeppende vaardighede. Maak gerus ‘n plan om die pragtige kunswerke van ons leerders te besigtig.
Dag 3: Op Woensdag, 16 Oktober, is daar ‘n redenaarswerkswinkel deur Lindie Strydom vir die Gr. 6 en 7-leerders en hul ouers in die mediasentrum aangebied. Bianca Flaunders het ook vir die Gr. 1 – 3-leerders die opwindende produksie ‘Pampoenpit voel ‘n Beat’ in die nasorgsaal aangebied. Haar energie en passie was opvallend en die leerders het dit terdeë geniet.

Dag 4: Op Donderdag, 17 Oktober, is ‘’Mutton Hour’’ deur die bekende akteurs Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt vir die Gr. 6 en 7-leerders aangebied. Dit was ‘n absolute vreugde om hierdie akteurs in aksie te beleef! Die ISF-kultuurkonsert het in die saal vanaf 18:00 plaasgevind. Ons is so dankbaar aan elkeen wat hierdie aand bygewoon het.

Dag 5: Die GF-kultuurkonsert vind op Vrydag, 18 Oktober, vanaf 08:00 – 09:00 plaas. Drum Cafe bied ‘n opwindende en interaktiewe trommesessie vir die Gr. 4 en 5-leerders vanaf 11:00 – 12:00 aan.

Laat my toe om juff. Marinda, Rolene en hulle span hartlik te bedank vir die uitstekende reëlings van die kultuurweek. Kultuur is die afgelope week behoorlik omhels en gevier. Mag die Kunste vir altyd by ons skool gevier word. Dankie ook aan juf. Rentia wat soveel moeite met die kunsuitstalling gedoen het.
Ons junior – en senior kore het op Saterdag, 12 Oktober, tydens HS Jan van Riebeeck se PlezierMarkt opgetree. Baie geluk met hul onderskeie puik optredes tot groot vermaak van die markgangers. Ons kore het in ‘n baie kort tydjie so verbeter met die kwaliteit samesang wat hulle lewer. Baie dankie aan juf Rolene en mnre. Ben en Leon Starker vir jul harde werk en passie vir koorafrigting. Geluk met jul nuwe keuses van musiekstukke, dit verleen sprankel en bevorder positiewe koorgees. Baie geluk ook aan HS Jan van Riebeeck met die puik aanbieding van die PlezierMarkt.
Dit is dan my eer en voorreg om die volgende Gr. 6-leerders hartlik geluk te wens met hul merkwaardige prestasie tydens die Gr. 6 English Home Language Spelling Bee kompetisie waar die volgende vier leerders met die louere weggeloop het:
- Katryn Silvis (eerste plek)
- Dané Olivier (tweede plek)
- Amelie van der Walt (derde plek)
- Johannes Mouton (vierde plek)

Ons was die enigste Afrikaanssprekende skool wat aan die Engelse spelkompetisie deelgeneem het, wat dus die bogenoemde leerders se prestasie so merkwaardig maak. Baie dankie aan juff. Charlene en Mardry wat die vier bogenoemde leerders help voorberei en bygestaan het. Julle maak ons baie trots!
Baie geluk aan Ruben Eksteen wat ‘n onoorwonne 102* lopies op Dinsdag, 15 Oktober, tydens ‘n o/13 krieketwedstryd teen LS Kampsbaai aangeteken het en ook sommer in die proses vyf paaltjies geneem het. Dit is nie aldag dat ‘n speler ‘n honderdtal in krieket aanteken asook vyf paaltjies neem nie, en dit in ‘n T20. Dit is ‘n merkwaardige prestasie Ruben, ons is baie trots op jou!

Ek sluit dan die derde week van die kwartaal op ‘n dankbare noot af met die onbekende aanhaling oor die lewe en ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met julle gesin en/of vriende toe.
“A good life is when you assume nothing,
do more, need less, smile often, dream big,
laugh a lot and realize how blessed you are for what you have!’
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF