‘Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder, so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
Die asvaal ou Karoo.’
So beskryf die bekende digter, C. Louis Leipolt, die mooiste en magiese maand van die jaar in die tweede strofe van sy bekende gedig. Oktober bring beslis nuwe hoop vir veld, dier en mens. Dit is die tydperk wanneer blomme in volle mag blom en die landskap word omskep in die pragtigste kleure en geure. Die koue dae van die winter is veronderstel om iets van die verlede te wees, maar so ken ons die Moederstad wat dikwels vier seisoene in ‘n enkele dag kan akkommodeer. Ek glo dat die warmer dae almal se gemoedstoestand sal opkikker en ons die laaste kwartaal met hernieude energie kan aanpak. Sien gerus die clivia-plante in ons skooltuin wat besig is om te blom. Hierdie pragtige blomplante is inheems aan Suid-Afrika en word dikwels in skaduryke plekke gesien. Hul oranje blomme bring kleur aan ons skoolterrein.
Dus is dit my ‘n wonderlike voorreg om al ons leerders, ouers/voogde en personeel terug by die skool te verwelkom na ‘n heerlike kort en koue September-vakansie. Ek hoop almal het die vakansie geniet. Dit was so lekker om heelwat Jannies en hul ouers gedurende die vakansie in George raak te loop. Verder glo ek almal se spreekwoordelike batterye is herlaai en slaggereed om kwartaal 4 met hope energie en entoesiasme aan te durf. Kwartaal 4 is elf weke lank met heelwat opwindende aktiwiteite wat gaan plaasvind – hou die spasie dop.
Die somersport buitemuurse program het alreeds op Dinsdag, 01 Oktober, met mening afgeskop en maak ons gereed vir al die somersportwedstryde, -toernooie en –byeenkomste wat die kwartaal gaan plaasvind. Ons eerste dogterstennispan het vir die Top Skole tennistoernooi gekwalifiseer en reeds vanaf 02 – 03 Oktober deelgeneem.

Die afgelope vakansie is daar hard aan herstel- en verfwerk by beide die laerskool en Huppelland gewerk. Huppelland se klaskamers is aan die binnekant uitgeverf en daklekke is herstel. Die bouwerk aan die balletsaal en nuwe ingang by Huppelland vorder goed en ons sien baie uit na die opening van die nuwe fasiliteit. Verder is die palmbome en verskeie ander bome by die skool gesnoei terwyl die nuwe raakskerms (TutorTouch) by Grade 3 en 4 asook in die koderingslokaal (STEAM-klas) geïnstalleer is. Hierdie nuwe tegnologie (interaktiewe raakskermpanele) transformeer leer en onderrig by ons skool. Dit bevorder ook spanwerk, leerderbetrokkenheid en die aanleer van 21ste eeu-vaardighede by leerders. Dit dra ook by dat interaktiewe leer bevorder. Ons skool het ook ‘n nuwe Toyota skoolbussie aangekoop wat op Maandag, 30 September, afgelewer is om voorsieing vir die uitgebreide sport- en kultuurprogram te maak.
Ek sluit dan die eerste week af met die bekende en inspirerende aanhaling deur Mandy Hale en ek wens vir julle ‘n wonderlke naweek saam met julle gesin en/of vriende toe.
“A great attitude becomes a great day
which becomes a great month
which becomes a great year
which becomes a great life’.’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF