Lentedag het ons vanjaar aangenaam verras met pragtige sonskynweer. Daar is vir seker min plekke in die wêreld wat so mooi soos die Moederstad op ‘n sonnige lentedag is. Die lug en die see lyk sommer baie blouer en met Tafelberg, Seinheuwel en Leeukop in die agtergrond, is dit beslis sielskos vir enige mens se gemoed na ‘n lang en bitterkoue winter.

Met die aanbreek van die konsert het ons ook aan die einde van ‘n lang, maar suksesvolle wintersportseisoen gekom. Al het daar die afgelope seisoen verskeie van die wedstryde as gevolg van die gure weer uitgereën, is daar vanjaar ‘n fenomenale totaal van 743 wintersport-wedstryde gespeel. Dit is 157 wedstryde meer as gedurende 2023 en 215 wedstryde meer as 2022. Die deelname van leerders aan die drie wintersportkodes (netbal, rugby en hokkie) het vanaf 448 vir 2023 na 464 in 2024 gegroei. Hierdie insiggewende statistieke spreek vanself dat die sportkantoor onder leiding van mnr. Leon weereens uit hul pad gegaan het om seker te maak ons leerders kry genoeg geleenthede om aan wedstryde en toernooie deel te neem. Baie geluk aan ons o/13A-dogtershokkiespan en ons o/7A-seunshokkiespan wat die seisoen onoorwonne afgesluit het. Baie geluk aan die kaptein van ons eerste dogtershokkiespan, Hila Hertzog, en hul afrigters mnr. Leon en juf. Suné met die merkwaardige prestasie. Sien gerus hier onder insiggewende grafiese voorstellings om te toon hoe sport die afgelope drie jaar by ons skool gegroei het.

Daar sal egter geen sportoefeninge tydens die twee weke van konsert wees nie, sodat leerders uitgerus kan wees vir die opvoerings saans. Die opwinding en laataande put leerders geweldig uit daarom is dit belangrik dat ons dit verantwoordelik bestuur anders kan dit lei tot ongewenste gedrag.

Ons skoolkonsert word elke tweede jaar aangebied. Dit het vanjaar op Maandag, 02 September, afgeskop met ‘n vol saal van ouers, voogde en grootouers! Die opwinding was baie groot en bou eenvoudig net op soos die konsertaande volg. Ons leerders het baie hard saam met hul onderwysers geoefen om seker te maak dat ons dieselfde standaard as die vorige konsert in 2022 kan handhaaf. Die teks van ons konsert, naamlik ’’Somewhere over the Rainbow’’, is deur mnr. Ben geskryf. Die detail van die spogkostuums, die musiek wat elke graad se dansies komplementeer en die puik optrede van die hoofkarakters voer jou maklik weg na ‘n wêreld waar elkeen ‘n plekkie in die son het onder ‘n kleurryke reënboog. Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons as Suid-Afrikaners te alle tye vir mekaar respek sal hê nie en aanvaar dat ons verskillend is en lyk, maar tog is ons op so baie maniere dieselfde. Ons het almal dieselfde drome vir ons wonderlike land. Laat my asseblief toe om al ons ouers wat so hard gewerk het om die spogkostuums te maak en professionele grimering te doen, hartlik te bedank vir jul waardevolle hulp.  Die styl, die kwaliteit en detail daarvan is asemrowend en speel weereens ‘n kadinale rol in die sukses van die konsert. 

Ek sluit dan die week weer af met baie dankbaarheid in my hart, hope opwinding en energie wat die konsert na die spreekwoordelik tafel bring. Die van julle wat alreeds die konsert bygewoon het, sal seker met my saamstem dat die konsert ‘n amper tasbare goeie gevoel van trots, samesyn en kameraderie bring. Dit is wonderlik om te sien hoe ons leerders ook die konsert terdeë geniet terwyl hulle hul rolle so oulik vertolk. Dus kan ek myself nie keer om nog ‘n bekende aanhaling rakende dankbaarheid, dié keer deur Dalai Lama, met julle te deel wat ook mooi by die boodskap van ons konsert aansluit. Ek wens vir elkeen ‘n wonderlike naweek toe en mag die Bokke die All Blacks môremiddag in die Moederstad die spreekwoordelike ore aansit.

“When you practice gratefulness, 
there is a sense of respect towards others.’’ 

Vriendelike groete,
Naas Beets 
SKOOLHOOF