Dit is my groot voorreg om ons leerders, ouers/voogde en personeel hartlik terug by die skool na ‘n heerlike wintervakansie te verwelkom. Ek glo dat almal die drie weke van lekker rus behoorlik gebruik het om die spreekwoordelike battery sommer ten volle te herlaai en is ook slaggereed vir nog ‘n besige kwartaal propvol opwindende aktiwiteite wat voorlê. Een van die hoogtepunte vir die kwartaal is ongetwyfeld die twee-jaarlikse konsert wat voorlê. Daar is verder heelwat sport- en ander kultuurgeleenthede (Koor & Eisteddfod) om na uit te sien, veral die jaarlikse interskole wat tuis tydens die naweek van 16 en 17 Augustus plaasvind.

Die Suid-Kaap Sporttoer vanaf 10 – 14 Junie 2024 was weereens ‘n reuse sukses en die leerders wat die toer meegemaak het, praat nog steeds met lof oor die wonderlike ervaring om teen ander skole, veral buite ons area, te speel asook die ongelooflike besienswaardighede wat hulle besoek het nie. Ons het weer nie toegelaat dat die leerders hulle selfone saam op toer neem nie. Hulle het dus saans na die sportwedstryde bordspeletjies gespeel en lekker met mekaar gesels. Dit is juis die samesyn, sosialisering en kameraadskap wat die leerders vir ‘n baie lang tyd gaan onthou en waardeer. Weereens baie dankie aan die personeel (Leon, Lucia, Ischké, Shahneé, Sharon, Maricqe, André, Erick, en Rashard) wat die leerders op toer vergesel het en so mooi na hulle omgesien het. Mnr. Leon, baie dankie en geluk met die reël van nog ‘n puik sporttoer.

Op Dinsdag, 09 Julie, het ons Jannies en onderwysers terug skool toe gekeer. Die eerste dag van kwartaal 3 is tradisioneel met ‘n saalbyeenkoms begin waartydens ek almal amptelik na die heerlike vakansie kon terug verwelkom. Die saalboodskap is deur ons 2024 Hoofdogter en Hoofseun gelewer. Karu Rademeyer en Frank van der Walt het met hul eerste amptelike optrede as die nuwe hoofseun en –dogter hul puik van hul taak gekwyt. Baie dankie aan Pieter en Jana Rademeyer (Karu se ouers) en Frank en Nel van der Walt (Frank se ouers) wat die simboliese aansteek van die hoofleierbalkies behartig het. My beste wense vergesel ons hoofleiers vir die groot taak wat op hulle wag. Graag wil ek ook vir Frank hartlik gelukwens met sy puik spel tydens die afgelope Cravenweek wat gedurende die vakansie in Pretoria plaasgevind het. Hy het onder andere die eerste drie van die toernooi vir WP teen Vrystaat gedruk en word tydens die finale wedstryd as beste speler van die wedstryd aangewys. Welgedaan, Frank!  

Dit is dan verder ook my voorreg om met julle te deel dat juf. Ischké (netbalhoof) en afrigter van die o/13 WP-Netbalspan (Doves) die afgelope vakansie goud tydens die interdistrikte netbaltoernooi te Riversdal verwerf het. Juf. Sharon was die spanbestuurder van die o/13 WP-Dolphins en hulle het silwer ontvang na afloop van die finale teen die WP-Doves. Juf. Shahneé se o/11 Disas het ‘n 5de plek behaal. Welgedaan, juff. Ischké, Sharon en Shahneé. Julle maak ons baie trots en ons is dankbaar vir alles wat julle vir netbal by ons skool doen. Tydens dieselfde netbaltoernooi het Stella Pansegrouw vir die WP o/12 Doves gespeel en brons verwerf terwyl Anouk van der Linde vir die WP o/11 Dolphins gespeel het wat ‘n 6de plek behaal het. Ons is baie trots op julle twee!

Tans is ons o/13A-tennisspanne (seuns en dogters) besig om aan die prestige Sun City tennistoernooi deel te neem. Ons dogterspan vaar uitstekend en het teen saktyd van die nuusbrief (Donderdag, 11 Julie om 13:00) vir die semi-finale gekwalisfieer. Ons kompeteer teen van die top tenniskole in die land en om die semi-finale te haal, is werklik ‘n merkwaardige prestasie.  Welgedaan, dogters! Ons sal volgende week in die verband volledige verslaggewing doen. Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogters- en seunspanne vergesel. 

Die buitemuurse program, behalwe skaak, kon nie a.g.v. die gure weer die week afskop nie. Ons sportvelde (Conradie en agter die skool) se velde het versadingspunt bereik aangesien dit vinniger gereën het as wat die grond dit kon absorbeer. Dit bied groot uitdagings om rugby en hokkie daarop te oefen en te speel. Die sluit van die skole op Donderdag, 11 Julie, as gevolg van ontwrigtende weer laat ‘n mens onwillekeurig terugdink aan die Covid-tye. Ons gebede gaan uit aan al die gemeenskappe wat deur die ontwrigtende weersomstandighede negatief geraak is.  Groot skade is veral aan skole gerig terwyl verskeie informele nedersettings onder vloede deurgeloop het. 

Neem asseblief ook kennis dat juf. Anene Loots vanaf 09 Julie tot 08 September vir ons die digitale geletterheidspos, werksaam in die nuwe biblioteek, gaan waarneem.  Juf. Merecia Swarts sluit dan permanent vanaf 09 September in die pos by ons aan.  Baie dankie juf. Anene dat jy altyd bereid is om te help met aflos.

Graag sluit ek dan af met ‘n anonieme stelling van dankbaarheid dat ons skool slegs geringe lekskade tydens die ontwrigtende weer ondervind het en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.   

“Dankbaarheid gee sin aan gister, 

bring vrede vir vandag,  

en skep ‘n droom vir môre.’’ 

 

Vriendelike groete, 

Naas Beets 

SKOOLHOOF