So kom die 2de laaste week van kwartaal twee asook die eksamen tot ‘n einde terwyl Moeder Natuur se winterreën salig oor die stad uitsak. Ek glo dat heelwat ouers/voogde saam met hul kinders ‘n groot sug van verligting gegee het toe die laaste vak op Woensdag, 05 Junie, geskryf is. Die antwoordstelle is amper klaar gemerk, ‘n deeglike modereringsproses word gevolg en punte word verwerk sodat ons op Vrydag, 14 Junie, die dag wat die skole sluit, vir elke leerder sy/haar rapport kan gee.

Graag wil ek spesifiek die leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die eksamen asook die besonderse werketiek wat hulle dwarsdeur die kwartaal gehandhaaf het. Hartlike dank ook aan ons ouers/voogde wat hul kinders so mooi en lojaal die afgelope twee weke tydens die eksamen/assessering ondersteun het om net hul beste te doen. Laaste, maar nie die minste nie, ‘n hartlike dank aan ons opvoeders en leerontwikkelingspersoneel wat met soveel deernis en toewyding ons leerders vir die eksamen en assesserings voorberei het.

Vanaf Maandag, 27 Mei, het die interim buitemuurse sportprogram in skooltyd, net na die aflê van die daaglikse eksamens plaasgevind. Die doel om nog steeds met sportoefeninge tydens die eksamentyd voort te gaan, was tweeledig: eerstens, die leerders geniet dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug te geniet en aktief te wees wat sommer ook met hul algemene geestelike welsyn tydens eksamen help. Tweedens, help die program om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf veral met ‘n welverdiende drie weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter, effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamen sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper sewe weke van geen oefeninge en afrigting sou plaasvind nie.

Saterdagaand, 01 Junie, het ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mt. Nelson Hotel plaasgevind. Al die kaartjies was vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid uitverkoop. Die tema vir die aand was ‘Glansryk in Wit’ en die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers het soos in die verlede as afslaer opgetree. Hy het die ongelooflike 41 lotte binne ‘n kort tydjie onder groot geesdrif van die gaste verkoop. Ons is hom uiters dankbaar vir die puik taak wat hy verrig het. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ‘n enorme R1,5m ingesamel is. Dit het al ons verwagtinge oortref veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook die geleentheid gebruik om al ons gaste en veral ons ouers wat op die aand ‘n finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul finansiële bydrae om LS Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Daar is darem nie net ‘n spogveiling gehou nie, maar ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mt. Nelson was uiters stylvol voorberei en verfraai. Die samesyn was kosbaar en die goeie gevoel van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz vir sy dinamiese leiding en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Anna Blackmore en Michelle Forsyth weereens hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n onvergeetlike glansaand.

 

Op Vrydag, 31 Mei, het ons skool ‘n pantoffeldag aangebied en kon die leerders vir R20 met hul gunsteling-pantoffels skool toe kom. Leerders en personeel het met hul gunsteling-pantoffels by die skool opgedaag en ‘n allemintige R6 700 is op die dag vir die Monte Rosa ouetehuis ingesamel wat die gr. 3’s volgende week aan hulle gaan oorhandig. Baie dankie juf. Michelle vir die reëlings asook vir almal se bydrae. Dit word opreg waardeer.

Dit is dan my eer en voorreg om die 2024 Hoofseun en Hoofdogter wat op 05 Junie verkies is, naamlik Frank van der Walt en Karu Rademeyer bekend te maak. My beste wense vergesel hulle met hul nuwe rol as hoofleiers by ons skool. Mag dit vir hulle baie vervulling bring. Ons is baie trots op Frank en Karu!

Op Woensdag, 05 Junie, het Marié Cruywagen (BR-lid) vir die onderwysers IKT-opleiding gegee om MineCraft Education in hul leer en onderrig te inkorporeer. MineCraft Education is ‘n samewerkende en veelsydige toepassing wat opvoeders ‘n transformerende manier bied om leerders te betrek en hul passie vir leer aan te wakker. MineCraft Education hou die volgende voordele vir leerders in:

  • Verhoog kreatiwiteit
  • Verbeter probleemoplossingsvaardighede
  • Moedig lees en skryf aan
  • Ontwikkel navorsingsvaardighede
  • Verskerp wiskundige vaardighede
  • Stimuleer verbeelding en inspireer kreatiwiteit
  • Help om koderingsvaardighede te ontwikkel

Baie dankie, Marié! Ons het groot waardering vir al jou kosbare tyd en toegewydheid om IKT by Laerskool Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem.

 

Hiermee sluit ek dan af met ‘n treffende aanhaling van Arthur Ashe en wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek sonder eksamenstres saam met jul gesin toe:

“Success is a Journey,
not a Destination.
The Doing is often more important than the Outcome!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF