Op Woensdag, 12 Junie, sal die gr. 1-3-leerders van Laerskool Jan van Riebeek die geleentheid hê om ‘n bedreigde spesie Fynbos-saailinge te plant en eerstehands te leer oor konsepte soos bewaring, endemies en bedreigde plantspesies en ‘n praktiese geleentheid hê om by te dra.

Meer inligting:

Kaapstad se flora-koninkryk (Cape Floral Kingdom) is een van ses flora ‘koninkryke’ in die wêreld. Ons koninkryk spog met die grootste verskeidenheid plante in die wêreld! Daar is ongeveer 9000 plantspesies waarvan amper 70% endemies is!
Ongelukkig kom die koninkryk onder vreeslike druk a.g.v. menslike teenwoordigheid, stadsuitbreiding en -ontwikkeling. Amper een derde van die spesies is op die bedreigde spesies lys.

As deel van ‘n gemeenskap en bewaringsprojek het ons ‘n rehabilitasieprogram gestig om van die mees bedreigde spesies terug in hulle natuurlike omgewing te plant. Ons Kloofstraat Park is so geleë dat ons ‘n baie spesifieke groep Fynbos-/Renosterveld-spesies kan plant. Dit is op die rooilys van krities bedreigde spesies. 1500 Saailinge is klaar geoes en word in ‘n kwekery gekweek ter voorbereiding vir oorplanting. Ons beoog om 300m2 van die park te omskep in ‘n inheemse, endemiese Fynbos-Renosterveld publieke spasie.