Die wintersportprogram vir kwartaal 2 het die afgelope week tot ‘n einde gekom met ‘n besige, maar opwindende sportprogram agter die rug.   Ek glo dat elke gesin nou na afloop van al die baie wedstryde, sportdae en toernooie ‘n bietjie kan begin asem skep en ook in die proses vir die gr. 4 – 7 Mei/Junie-eksamen wat die afgelope week afgeskop het, voorberei.

Wintersportoefeninge het op Dinsdag, 21 Mei, vir die kwartaal geëindig, maar sportoefeninge gaan voort gedurende skooltyd en dit skop vanaf 27 Mei tot 05 Junie af. Hierdie wintersportoefeninge (o.7 – o.13) gedurende die eksamen is vrywillig. My ondervinding is dat die leerders dit geniet om sport net na afloop van ‘n eksamen- of assesseringsessie te kan beoefen. Dit help beslis om die angstigheid van eksamen te verminder asook om net ‘n bietjie asem te skep na ‘n lang skryfsessie. Studies toon dat leerders en studente wat gereeld oefen beter tydens kognitiewe toetse presteer, beter geheue het en meer waaksaam is tydens eksamens. Om voor te brei en gedurende die eksamen te studeer, kan geestelik en fisies uitputtend wees wat baie leerders moeg en afgemat laat voel. Wanneer jy oefen, stel jou liggaan hormone soos adrenalien en kortisol vry, wat weer help om die energievlakke hoog te hou. Ek is vas oortuig dat om sportoefeninge vir leerders tydens die eksamen in te sluit, hulle beslis sal help om beter in eksamens te presteer en hul algemene gesondheid en welstand ook in die proses te verbeter.

Die eksamen vir die gr.7’s het op Dinsdag, 21 Mei, met Wiskunde vraestel 1 begin en alles het klopdisselboom verloop. Na afloop van die vraestel was die gr. 7’s heel in hul noppies en is die spreekwoordelike ys gebreek om die res van die eksamen minder stresvol aan te pak.  Vandag begin die gr. 4 – 6’e met Wiskunde en ek glo dat hulle ook minder angstig sal wees na afloop van die eerste dag van hul Mei/Junie-eksamen. Baie dankie dat julle jul kind/ers sal aanmoedig om effektief tydens die eksamen te leer en te hersien, dat hulle gereeld blaaskanse sal neem, gesond sal eet en genoeg water sal drink asook om genoeg slaap in te kry. Ten slotte is dit belangrik om ‘n sterk emosionele band met jou kind/ers gedurende die eksamen te behou. Leerders gaan verseker stres of angstigheid tydens die eksamen ervaar en dit is dan belangrik om ‘n warm, onbevooroordeelde spasie te skep waar hulle gemaklik hul gevoelens met julle kan deel. Dit help leerders dikwels deur bloot oor die eksamenvrese te kan gesels en wanneer daar ‘n simpatieke oor naby is, ervaar hulle ondersteuning en liefde wat dikwels die eksamenvrese verdryf.

Laat my toe om die volgende leerders hartlik geluk te wens wat die afgelope week hul onderskeidelike WP-kleure verwerf het:

  • Anouk van der Linde (WP o.11 Netbal);
  • Stella Pansegrouw (WP o.12 Netbal);
  • Frank van der Walt (WP o.13 Craven Week Akademiese span)

Verlede week het ek ook met julle gedeel dat Jack Dawes in die WP o.12 Hokkie-Sonespan opgeneem is. Met die bogenoemde ingedagte is dit die eerste keer dat ons skool provinsiale deelname in al drie wintersportsoorte in dieselfde jaar het. Dit is opsigself ‘n merkwaardige prestasie vir ons skool en ‘n duidelike bewys dat ons sportplan effektief is. Dit is dan ook ‘n absolute pluimpie vir ons afrigters en sportkantoor wat week-in en week-uit die ekstra myl loop om seker te maak ons Jannies voldoende geleenthede kry om hul potensiaal te bereik. Ek wil nie graag ‘n leerder uitsonder nie, maar ek sal my plig versuim indien ek nie ekstra melding van Stella Pansegrouw maak nie, want sy behaal vanjaar ‘n driekuns vir WP-kleure in die volgende sportsoorte, naamlik tennis, gimnastiek en nou ook netbal. Dit is voorwaar ‘n uitstekende prestasie!  Ons wens die bogenoemde leerders sterkte toe waar hulle die komende vakansie die WP in hul onderskeie sportsoorte verteenwoordig. Ons is saam met jul ouers baie trots op julle.

Ek is die week verder bederf met die gr. 4-leerders wat met trots hul Natuurwetenskappe en Tegnologie-take vir my kom wys het. Hulle het ongelooflike kreatiwiteit aan die dag gelê om indrukwekkende en stewige brûe uit verskeie materiale te bou. Dit het deeglike beplanning en ontwerp vereis. Baie dankie juf. Marianne wat die leerarea op ‘n verbeeldingryke en inspirerende wyse aanbied wat bydra tot kreatiewe denke en probleemoplossingsvaardighede.

Ons spreekwoordelike dankbaarheidsbeker hou eenvoudig nie op om oor te loop nie. Daarom sluit ek weereens af deur my dankbaarheidsjoernaal te deel. Hiermee wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek toe en sterkte as gesin met die eksamen:

“Gratitude and Attitude are not challenges,
they are choices!’’
 
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF