Ek hoop julle het die naweek se sport tuis teen Laerskool Mikro net soos ek en die personeel geniet. Vrydagoggend en -middag het Moeder Natuur haar beste probeer om ‘n demper op die hokkiewedstryde te plaas, maar sy kon egter nie die geesdrif en opwinding stuit nie. Ons spanne het puik gevaar en die sportnaweek teen Laerskool Mikro gaan ‘n jaarlikse instelling word van een jaar tuis en die volgende weg.

As skool verwelkom ons dat ouers/voogde hul kind/ers by sportklubs inskryf om hul kind/ers meer blootstelling aan ‘n spesifieke sportsoort te gee. Al voorwaarde verbonde is dat die skoolsport altyd voorkeur moet geniet. Ek glo dat julle sal verstaan dat ons nie kan toelaat dat ‘n ouer/voog of leerder eerder verkies om ‘n klub tydens ‘n wedstryd te verteenwoordig as om vir die skool tydens ‘n wedstryd, sportdag of toernooie te speel nie. Ons skool het juis nie die getalle nie en daarom versoek ek julle as ouers/voogde om asseblief die reëling te eerbiedig.

Volgende week op Dinsdag, 21 Mei, begin die Junie-eksamen vir die gr. 7’s en die gr. 4 – 6’e begin op Vrydag, 24 Mei 2024. Die assesserings vir die Grondslagfase het reeds verlede week begin en alles verloop klopdisselboom. My beste wense vergesel ons leerders en onderwysers tydens die eksamen, of soos die leerders na die ‘e-woord’ verwys – ‘n woord wat ons nie durf waag om enigsins sommer te besig nie. Hou ingedagte dat leerders assesseringstyd verskillend ervaar. Ons weet dat assessering ongelukkig stresvlakke by meeste leerders verhoog en dit filter ook soms deur na die gesinne. Graag versoek ek julle om ons as personeel te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen te beheer sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres tydens ‘n eksamen is ‘n natuurlike reaksie en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees.

Probeer gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres en jou moontlike eie angstigheid daaroor hok te slaan:

  • Berei asseblief betyds voor. Help jou kind/ers om ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om ook te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap inkry.
  • Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer vry van enige stressors by die huis vir jou kind/ers om te leer.
  • Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting wat vry van geraas is.
  • Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle hoe die eksamen was en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
  • Help jou kind/ers om ‘n gewoonte te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die dag inpak.
  • Vermy gejaagdheid, veral om op die nippertjie soggens voor die eksamen jou kind/ers by die skool af te laai, want dit maak leerders angstig.

Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om vir Jack Dawes hartlik geluk te wens met sy opname in die o.12A WP-Hokkie-Sonespan (Durbell). Hokkie by Laerskool Jan van Riebeeck is ‘n baie jong sport wat besig is om te ontwikkel. Dis ook besig om baie gewild onder leerders te word, aangesien dit ook ‘n amptelike Olimpiese sport is. Vanjaar was die eerste keer dat ons leerders, in die geval seuns, gekwalifiseer het om aan die WP-hokkieproewe deel te neem. Aanvanklik het Johannes Mouton, Vincent Oosthuizen en Jack Dawes aan die eerste rondte van proewe deelgeneem. Johannes en Jack het vir die volgende rondte gekwalifiseer, maar net Jack het die span gehaal. Jack neem vanaf 19 – 20 Julie aan die WP-Intersone Hokkietoernooi te Laerskool De Hoop deel. Hiermee ook ‘n pluimpie aan ons hokkie-afrigters wat week-in, week-uit met passie en groot entoesiasme afrig.

Baie geluk aan ons o.10A-, o.11A-, o.12A- en o.13A-netbalspanne wat op Woensdag, 15 Mei, te Laerskool Totius puik tydens die Noordelike Distrikte liga-uitspeelrondte gevaar het. Al vier ons spanne gaan deur na die volgende uitspeelrondte teen ander distrikte wat tydens kwartaal 3 sal plaasvind. Die o.11A- en o.12A-spanne het die finale gewen m.a.w. die uitspeelwedstryde (x4) onoorwonne afgesluit. Ons o.13A-span het slegs die finale wedstryd teen Laerskool Totius verloor, maar hulle moes die laaste wedstryd sonder hul hoof- en hulpdoel speel aangesien Karu Rademeyer en Emma Snijders direk na die 3de wedstryd moes haas om aan die semi-finale redenaarskompetisie van die ATKV (Wes-Kaap) deel te neem. Baie geluk aan ons netbalafrigters en spelers vir die puik prestasie om eerste in hul liga te eindig en dan nog verder vir die tweede uitspeelrondtes te kwalifiseer. Laat my ook toe om al die ouers wat so getrou hul wedstryde lojaal ondersteun, hartlik te bedank.

Baie geluk aan die volgende leerders wat op Woensdag, 15 Mei, aan die ATKV-Redenaars se semi-finale rondte te HS Bellville deelgeneem het: Pieter Rademeyer, Sabine Barnard, Karu Rademeyer, Emma Snjiders en Dané Olivier. Ons is baie trots op julle! Baie dankie juf. Andri vir jou puik leiding en voorbereiding van ons redenaarsleerders. Hulle uitslae behoort binne tien werksdae beskikbaar te wees.

Ons spreekwoordelike dankbaarheidsbeker loop oor. Daarom sluit ek nog steeds af deur my dankbaarheidsjoernaal te deel. Hiermee wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek toe:

“Feeling gratitude and not expressing it
is like wrapping a present
and not giving it.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF