Die einde van kwartaal 1 het vinnig sy opwagting gemaak met tien bedrywige weke agter die rug. Ek kyk trots terug na al die opwindende aktiwiteite wat gedurende die afgelope kwartaal plaasgevind het. Ek mag dalk arrogant met die volgende stelling oorkom, maar ek dink dat uitnemendheid in alles wat ons doen soos ‘n paal bo water begin uitstaan, en daarvoor is ek uiters dankbaar en trots. Hartlike dank aan ons wonderlike ouers en voogde wat ons week-in en week-uit die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Julle omgee, aktiewe betrokkenheid asook insiggewende insette by die skool is instrumenteel in ons skool se algehele sukses en vooruitgang.

Môre (Donderdag, 21 Maart) word Menseregtedag in Suid-Afrika gevier. Dit is hartseer dat so min mense hulle werklik aan die betekenis van die belangrike dag steur. Hierdie geskiedkundige dag was juis ingestel ter nagedagtenis aan ‘n groot gebeurtenis in ons land se geskiedenis. Die dag verwys na die afgryslike gebeure wat op 21 Maart 1960 in Sharpville afgespeel het. Duisende swart mense het op die dag teen die destydse paswette betoog. Die skare is egter uitmekaar gejaag terwyl daar op hulle geskiet en 69 mense noodlottig gewond is. Sedert 1994 word die dag jaarliks gevier om die slagoffers se tragiese dood te herdenk en seker te maak dat daar nooit weer so ‘n tragedie in ons land sal gebeur nie. Ek glo dat die herdenking van die spesiale dag ‘n waardevolle bydrae lewer dat mense met waardigheid, gelykheid, geregtigheid en in vrede in ons land kan leef.

Ons het op Donderdag, 14 Maart 2024, ons jaarlikse gholfdag te Milnerton Gholfklub aangebied. Hierdie unieke “links-tipe” gholfbaan is geleë tussen die Atlantiese Oseaan en die Rietvleirivier. Die gholfbaan is relatief plat met min bome en dit bied baie uitdagings vir die gemiddelde gholfer, veral as die Suidooster sy spreekwoordelik tande wys met die see en die strandmeer wat aan die meeste gate grens. Verder is daar sewe pragtige watergate wat wag om al die ‘skewe’ gholfballe op te eis. Die asemrowende uitsig vanaf die meeste bowwe oor Tafelbaai met die ikoniese Tafelberg, Duiwelspiek, Seinheuwel en Leeukop as agtergrond is skilderagtig en daarom bied dit werklik ‘n unieke gholfervaring! Baie dankie aan al ons ouers wat die gewilde dag ondersteun het asook vir die wat vir borgskappe pa gestaan het. Laat my toe om mnr. Rashard hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n puik gholfdag. Baie dankie aan Ria Hertzog wat mnr. Rashard met die reëlings bygestaan het. Baie geluk aan die volgende wenspan (almal ouers by ons skool) wat hul titel vir ‘n 2de agtereenvolgende jaar suksesvol verdedig het:

  • Oloff Sieberhagen (kaptein)
  • Louis Boshoff
  • Jake Rennie
  • Adriaan Theron

Indien jy hierdie wonderlike gholfervaring en samesyn vanjaar gemis het, maak gerus vroegtydig met mnr. Rashard kontak, want 2025 se gholfdag gaan nog groter wees.

Ons wil ook vir mnr. Pieter Rademeyer en sy span van Hoërskool Jan van Riebeeck hartlik bedank wat ons leerderraad vir ‘n leierskapontbyt en motiveringspraatjie op Vrydagoggend, 15 Maart, om 07:45 te Welgemeend genooi het. Die spesiale funksie is deur verskeie laerskole se leerderrade bygewoon.

Vandag ontvang elke leerder ook hul skoolrapport om erkenning te gee aan hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal. Dit was ‘n groot voorreg om elke rapport te kon teken met ‘n baie kort persoonlike boodskappie vir elke leerder. Graag wil ek vir al ons leerders en onderwysers spesiaal gelukwens en hartlik bedank vir die kollektiewe poging tot die suksesvolle akademiese-, kulturele- en sportprestasies tydens kwartaal 1. Vandag is ook die Top 10 akademiese presteerders (slegs gr. 7) vir kwartaal 1 aangewys. Baie geluk aan die volgende leerders wat elkeen ‘n spesiale sertifikaat ontvang vir hul harde werk en toewyding:

  • Delmar Benecke
  • Daniella Boshoff
  • Izzy du Plessis
  • Hila Hertzog
  • Jeanne Koen
  • Anna Louw
  • Michaan Naylor
  • Jessica Schincariol
  • Emma Snijders
  • Ané Swanepoel

Die laaste week en ‘n half van die kwartaal is tradisioneel altyd propvol opwindende aktiwiteite wat die onderstaande ingesluit het:

  • Somersokkie vir gr. 5 – 7-leerders op Woensdagaand, 13 Maart, in die skoolsaal.
  • Podiumpret Redenaars op Donderdag, 14 Maart.
  • Gr. 1-uitstappie na Tafelberg op 15 Maart.
  • Gr. 2- uitstappie na Spar (entrepreneurs-uitstappie)
  • Gr. 3-uitstappie op die Rooibus op 15 Maart.
  • Studiekursusse vir gr. 4 – 7-leerders se laaste sessie het op Saterdag, 16 Maart, by die skool plaasgevind. Baie dankie aan juff. Marietjie en Sharon vir die ongelooflike en waardevolle sessies.
  • Gr. 1 – 3-musiekkonserte het onderskeidelik op Maandag, 18 Maart, asook gr. 4 en 5-musiekkonserte op Dinsdag, 19 Maart, in die saal tydens skooltyd plaasgevind. Baie dankie aan al die ouers/voogde asook oumas en oupas wat die gewilde konserte kom ondersteun het. Dit is altyd kosbaar. Baie dankie aan juff. Rolene, Estelle, Helecia, Lara en mnre. Ben, Shaun en Paul vir hulle aandeel in dié verband. Graag wil ek ons nuwe Hoof van Musiek en Kultuur, naamlik juf. Rolene, hartlik bedank en komplimenteer met al die wonderlike inisiatiewe wat sy alreeds binne ‘n kort rukkie van stapel gestuur het om musiek en kultuur by ons skool te promoveer en uit te brei. Hou die spasie van musiek en kultuur dop. Daar gaan baie opwindende aktiwiteite vanjaar plaasvind!
  • Die Hoërskool Jan van Riebeeck se ‘paashase’ het saam met hul skoolhoof ons skool op Maandag, 18 Maart, besoek en paaseiers aan ons leerders uitgedeel. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer en sy leerderraad vir die groot bederf. Die besoek het natuurlik baie opwinding onder die graad 1’s veroorsaak.
  • Gr. 6’e het op Maandag, 18 Maart, ‘n leierskapkursus bygewoon wat deur Lead4Life by ons klubhuis aangebied is.
  • ‘n Suksesvolle Markdag is op Dinsdag, 19 Maart 2024, gehou.
  • Welwillendheid Jannies-Karwasprojek is op Dinsdag, 19 Maart, tydens skooltyd aangebied waar leerders ons ouers en personeel se motors gewas het ten bate van liefdadigheid. Baie dankie juf. Marietjie wat in beheer van die projek gestaan het asook al die ouers wat gehelp het.
  • Ons gr. 7’s vertrek vanaf 21 – 26 Maart op hul jaarlikse Oranjeriviertoer. Baie dankie aan Wilhelm Hertzog wat aan die stuur van sake staan. Ons wens vir julle ‘n veilige reis toe en ons kan nie wag om al die stories te hoor en die foto’s te sien nie. Geniet dit en wees veilig!

Vandag is daar ook ‘n bietjie hartseer by die skool aangesien ons van mnr. Warren Stoman afskeid geneem het. Mnr. Warren het ‘n pos as ‘n operasionele bestuurder in die privaatsektor aanvaar en begin reeds 01 April 2024 in die pos. Ons wens hom alle sukses en voorspoed toe en mag hy sy nuwe loopbaanhoofstuk terdeë geniet. Ons gaan hom baie mis en wil hom hartlik bedank vir die harde werk en toewyding, maar ook veral die verskil wat hy in die leerders se lewens gemaak het. Gelukkig vir ons gaan hy nog steeds help met rugbyafrigting vir die res van die jaar. Baie geluk aan mnr. André Lourens wat dan mnr. Warren se gr. 7-pos oorneem. Dan wil ek graag ook mnr. Keenan Faro verwelkom wat vanaf 08 April die Liggaamlike Opvoedingspos sal behartig. Ons beste wense vergesel beide mnre. André en Keenan vir die nuwe rolle wat hulle gaan vertolk. Hartlike welkom mnr. Keenan by die Jan van Riebeeck-familie en mag jy soos die res van die personeel baie vervulling ervaar met jou aanstelling en werk by ons dinamiese skool.

Ons skool sal altyd strewe om op alle gebiede (akademie, kultuur en sport) te verbeter en daarom het ons 2024 afgeskop met aanpassings en nuwe inisiatiewe om ons dienslewering aan ons skoolgemeenskap te verbeter. Om te verbeter, beteken ‘dinge’ moet anders gedoen word en verandering is noodsaaklik as ons wil aanhou groei, maar ek besef ook dat veranderinge veral vir die personeel angstig kan maak. Dus wil ek graag afsluit deur spesiaal vir al ons personeel, die EXCO en die Beheerraad hartlik te bedank vir hul harde werk, toewyding en passie om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck nie vanaf 2024 stagneer het nie, maar eerder van krag-tot-krag gegroei het om in die proses ons leergierige leerders verder te bemagtig om die toekoms met selfvertroue aan te pak en hul volle potensiaal te bereik.

Ek sluit dan af met ‘n bekende aanhaling van William Arthur Ward oor dankbaarheid die afgelope kwartaal en mag julle die komende vakansie terdeë geniet, lekker rus en ek wens vir almal ‘n geseënde Paasfeestyd saam met familie en vriende toe. Wees veilig waar ook al julle mag gaan en mag almal se spreekwoordelike batterye behoorlik herlaai word om ’n besige kwartaal 2 aan te pak.

“Gratitude can transform
Common days into thanksgivings
Turn routine jobs into joy, and
Change ordinary opportunities
Into Blessings!”
Attracts more positive things in your life.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF