Op Vrydag, 09 Februarie 2024, het ons weereens ‘n suksesvolle senior swemgala aangebied. Moeder natuur het hierdie keer besluit dat alhoewel die temperature die afgelope tyd rekordhoogtes bereik het, sy nie haar samewerking gaan gee nie. Die kwik het skaars 24 grade C bereik, maar die koeler weer en kouer swembadwater het nie ons entoesiastiese swemmers teruggehou nie. Baie geluk aan die onderstaande swemmers wat na afloop van die gala die volgende bekers ontvang het:

  • Junior dogterswemmer (o.10 & o.11) vir die jaar: Ellen van Heerden
  • Junior seunswemmer (o.10 & o.11) vir die jaar: Daniel van den Berg
  • Senior dogterswemmer (o.12 & o.13) vir die jaar: Bailey Thomson
  • Senior seunswemmer vir (o.12 & o.13) die jaar: Delmar Benecke

Laat my ook toe om al ons ouers, voogde, oumas en oupas wat die gala bygewoon het om hul kind/ers en kleinkinders te ondersteun, hartlik te bedank. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons ouers, voogde en grootouers ons leerders in alle opsigte ondersteun. Baie dankie aan mnr. Leon wat die gala gereël het asook ons Hoof van Swem, juf. Izél saam met al die ander personeel wat as beamptes opgetree het. Graag wil ek een van ons ouers uitsonder, naamlik Christo Benecke, wat elke jaar bereid is om as tydhouer op te tree. Baie dankie, Christo, ons waardeer jou tyd!

Op Dinsdagaand, 13 Februarie, het ons vir die eerste keer ‘n wintersportinligtingsaand in die saal aangebied. Die opkoms van ouers was verblywend en ek wil spesiaal die 71 ouers/voogde wat die inligtingsessie bygewoon het, hartlik bedank vir hul teenwoordigheid, insette en betrokkenheid. Die doel van die vergadering was om vroegtydig inligting en reëlings rakende die 2024 wintersportprogram met ouers/voogde te deel asook om ouers/voogde aangesig-tot-aangesig te versoek om al die sportdae, -toernooie en -wedstryde te eerbiedig deur te beplan om veral die spesifieke sportnaweke eerder tuis te bly asook om nie kinderpartytjies op sportdae/wedstryde/toernooie te reël nie. Ons sportadministrateurs en -afrigters is meer as toegewydheid om ons leerders legio geleenthede te bied, maar ons het die inkoop en ondersteuning van ons ouers/voogde nodig. By voorbaat dankie vir julle ondersteuning in die verband en geniet elke oomblik saam met jou kind/ers op die sportveld.

Op Woensdag, 14 Februarie 2024, het ons leerders en personeel saam Valentynsdag gevier. Die dag het onder andere afgeskop met al ons leerders en personeel wat spesiaal in ‘iets’ rooi, pienk en/of wit getooi was. Die valentynsdagverkope tydens eerste pouse was ‘n spreekwoordelike WENNER en ‘n reuse sukses. Dit is met groot entoesiasme en opwinding deur die leerders ondersteun. Baie dankie aan juff. Mardry, Charlene, Raché en Andri wat die vierkant so mooi verfraai het asook tydens eerste pouse met die verkope gehelp het. Baie dankie aan al ons ouers/voogde vir al die wonderlike Valentynsdagitems wat te kope was.

Tradisioneel word Valentynsdag gevier waar geliefdes hul liefde vir mekaar bewys deur geskenke, blomme of kaartjies aan mekaar te gee. Ek besef dat die dag tipies kommersieel van aard is, maar tog is dit belangrik vir ons leerders om ‘n dag van liefde en omgee te vier. Dit sluit op ‘n manier by een van ons kernwaardes, naamlik OMGEE aan. Ons kinders word groot in ‘n era en wêreld waar alles resultaatgedrewe en materialisties van aard is. Ons vergeet dat ons kosbaarste kommoditeite nie in die bank is nie en dat liefde alle kwaad oorwin. Ek hoop en vertrou dat julle ook op Valentynsdag tot in die afgrond bederf is, julle jul geliefdes bederf het en mag ons nooit die krag van liefde en vergifnis onderskat nie. Ek daag ons skoolgemeenskap uit om daagliks liefde en omgee uit te leef om die wêreld ‘n beter plek te maak. Veral in Suid-Afrika waar mense geweldig swaar kry en onder baie moeilike omstandighede leef. Net ‘n bietjie omgee, empatie en liefde sal die wêreld se verskil maak.

Laat my asseblief toe om die bekende “gospel”-sanger, Trevor Sampson, saam met sy orkes (Leon & Barleon Jaftha) hartlik te bedank vir hul puik optrede Donderdagoggend, 15 Februarie, vanaf 07:15 – 07:45 (tydens Jannies vir Jesus-tyd) in die saal. Groot dankie aan Duane Coetzee, ‘n oud-ouer van die laerskool, wat die optrede moontlik gemaak het. Baie dankie ook aan al die Jannies, ouers/voogde en personeel wat dit vrywillg bygewoon het, asook juf. Lucia vir al die reëlings.

Ek is so opgewonde en trots om die volgende rakende die kodering en robotika-onderrig met julle deel: Die graad 6’e is tans besig met kodering en programmering van toestelle wat die vogtigheid van grond kan bepaal en aandui of plante, bome, blomme, gras of struike besproeiing moet ontvang. Die leerders moes self die kodering doen om die toestel in staat te stel om die grondvogtigheid te bepaal. Hulle het die toestelle in my kantoor op my kantoorplante kom toets, en dit werk. Wel gedaan, juf. Suné, met die harde werk wat jy by kodering en robotika insit. Die leerders geniet hul gate uit.

 Baie dankie aan juf. Rolene en mnr. Ben wat vandag en môre ‘n koorkamp by ons skool aanbied om ons senior koor verder te ontwikkel en voor te berei vir toekomstige optredes. Die koorkamp behels ook lekker pretaktwiteite en ek glo die koorleerders gaan dit tereë geniet.

Ongelukkig moet ek nou my nuusbrief vir die week afsluit, maar soos oudergewoonte met ‘n inspirerende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Eleanore Rooseveldt en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“The future belongs to those that believes in the beauty of their dreams’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF