Tydens die inligtingsaand van 23 Januarie en na vele gesprekke met verskeie ouers/voogde kom ek tot die besef dat die meeste ouers/voogde salig onbewus is oor die beginsel van Groei-ingesteldheid (‘Growth Mindset’) by die skool. Ons het groei-ingesteldheid alreeds in 2023 by die skool uitgerol en wil vanjaar dit verder beklemtoon en ontwikkel. Laat my dus toe om in ‘n neutedop die beginsel van groei-ingesteldheid te verduidelik. Pas dit gerus in julle gesinslewe toe. Dit het juis begin met ‘n mens se eie gedagtes veral as sukses jou die gedurig ontwyk. Mense met ‘n vaste-ingesteldheid (“Fixed Mindset”) glo dat hul intelligensie en vaardighede eienskappe is waarmee jy gebore word en dat dit nie kan verbeter nie. Mense met hierdie tipe oortuiging word maklik ontmoedig en hulle is geneig om weg te skram van moeilike take of uitdagings. Navorsing het bewys dat mense met ‘n groei-ingesteldheid glo dat jy jou intelligensie kan ontwikkel deur vaardighede aan te leer en dat jy met meer oefening en moeite die uitdaging mettertyd sal kan baasraak. Hierdie tipe mense omhels uitdagings, volhard deur struikelblokke, leer uit kritiek en soek inspirasie in ander se suksesse.

Ons doel met groei-ingesteldheid is juis om ons leerders en personeel te ontwikkel wat deursettingsvermoë, wilskrag, empatie, goeie kennis oor jouself, ‘n behoefte aan leer en ontwikkeling en ‘n ingesteldheid van groei, insluit. Om regtig jouself te wees, moet ons ruimte vir ontwikkeling skep. Navorsing toon dat breinontwikkeling slegs kan plaasvind indien uitdagende take aangepak word. Dus wil ek versoek om jou kind/ers onder jou wakende oog ‘n kans te gee om ‘n bietjie, maar tog verantwoordelik te waag en selfs te misluk terwyl hulle nog jonk is sodat die spreekwoordelike groei-ingesteldheid se ‘spiere’ kan oefen. Vertel vir jou kinders dat bekendes soos Albert Einstein, Walt Disney, Steve Jobs, Michael Jordan en Oprah Winfrey verskeie mislukkings ervaar het, voordat hulle sukses behaal het. Hulle het egter nooit tou opgegooi of weggestap van hul drome nie. ‘n Mens leer dikwels die belangrikste lewenslesse wanneer jy misluk. Ek sê gereeld vir ons sportspanne dat ‘n mens eintlik net iets leer wanneer jy eers verloor. Kollektief moet ons, ons kinders leer dat om te verloor of te misluk deel van die lewe is. Ons moet eerder fokus dat ons nie verloor nie, maar eerder daaruit leer m.a.w. jy verloor nie, jy leer net!

Op Saterdag, 03 Februarie, het ons o.13A-tennisspanne (seuns & dogters) aan Laerskool Kenridge se tennistoernooi (dubbelspel) deelgeneem. Ons tennispselers het puik gevaar. Baie geluk aan die volgende spelers:

  • Ané Swanepoel & Stella Zulch behaal 2de plek (silwer) van hul B-dubbelsgroep.
  • Adriaan Wessels & Rafa Lamprecht behaal 2de plek (silwer) van hul A-dubbelsgroep.

Op Dinsdag, 06 Februarie 2024, het die interskole atletiekbyeenkoms te HS Jan van Riebeeck se velde plaasgevind. Ons atlete het puik gevaar en 19 atlete is deur na die volgende rondte. Baie geluk aan Jana Olivier wat die o.13 gewigstoot vir dogters gewen en die rekord verbeter het. Sy het egter drie maal in 6 gooie haar eie rekord verbeter. Dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie. Baie dankie aan mnr. Leon en sy span vir al die puik reëlings. Julle maak ons baie trots! Die afgelope week het daar ook verskeie tennis- en krieketwedstryde plaasgevind. Die sportprogram is in volle swang en ek versoek al ons leerders om aan ten minste een somersport deel te neem.

Baie dankie aan juf. Andri wat op Dinsdagaand, 06 Februarie 2024, die inligtingsessie rakende redenaars met al ons belangstellende leerders en hul ouers aangebied het. Redenaars leer die leerders om hul verbale- en nie-verbale kommunikasievaardighede te verbeter, effektiewe navorsing te doen, denkprosesse te ontwikkel om mense van hul standpunt te oortuig en laaste maar nie die minste nie, help dit met selfvertroue.

Soos julle bewus is, beplan ons om aktief vanaf 2024 musiek en kultuur te promoveer deur die musiek- en kultuurspyskaart uit te brei. Ons wil graag ons leerders ook aan ander musiekinstrumente blootstel, dus was ons baie opgewonde toe ons nuwe musiekinstrumente (saksofone & viole) by die skool afgelewer is. Kontak gerus juf. Rolene (nuwe Hoof van musiek en kultuur) indien jou kind in musiek belangstel en musiekonderrig wil ontvang.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Sherman Finesilver en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Don’t worry about failure,
worry about the chances you miss when you don’t even try’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF