Novembermaand groet ons stilletjies en is ook nie-amptelik die begin van die sogenaamde “silly season”. Ons sien dit dalk as ‘n tydperk waar mense die mees eienaardige en vreemde dinge aanvang en/of kwytraak. In die Suid-Afrikaanse konteks dalk verstaanbaar met al die uitdagings soos hoë inflasie- en rentekoerse, toename in werkloosheid asook ESKOM met beurtkrag. Selfs Charlene Theron was skuldig in die verband met haar naïwe 44-uitlating. Die term “silly season” het eintlik sy oorsprong uit die 19de eeu waar koerante tydens die begin van die somerseisoen vol van onbelangrike nuus was, want daar was nie voldoende politieke nuus vir enige sensasie nie. Gelukkig is dit nou Desember en die mens kom stadig maar seker weer tot sy sinne en maak gereed vir ‘n heerlike vakansie en kerstyd.

Gister het die eksamen vir die gr. 4 – 7 leerders ook tot ‘n einde gekom. Ek glo dat almal nou ‘n sug van verligting slaak en daar is weer ‘n ontspanne atmosfeer in jul huise terwyl almal na ‘n welverdiende vakansie uit sien. Die opvoeders is besig om die laaste klompie antwoordstelle na te sien en die moderasiespan maak seker dat nasienwerk korrek en effektief uitgevoer is. As skoolhoof is ek ook bevoorreg om aan die moderasieproses deel te neem en moet ek ons leerders met hul harde werk en puik uitslae komplimenteer. Punte word tans verwerk vir Promosie en Progressie by die distrikskantore. Graag wil ek die geleentheid gebruik om ons opvoeders, die klasassistente en die leerderondersteuningsdepartment hartlik te bedank vir hul harde werk en toewyding. Hulle het beslis die ekstra myl gestap om al ons leerders slaggereed vir die eksamens en assesserings te kry. Ons is bevoorreg met puik personeel wat omgee en ‘n verskil in elke Jannie se lewe wil maak!

Laat my ook toe om die junior- en seniorkore onder leiding van juf. Helecia en begelei deur mnr. Ben hartlik geluk te wens met hul puik optrede Sondagaand, 27 November 2022, tydens die kerssangdiens in die NG Tamboerskloof Gemeente. Die kerk was stampvol met ouers, leerders asook oumas en oupas wat saam met ons leerders die trotse optrede beleef het. Saam het ons ook gewilde kersliedere gesing om die geboorte van Christus te vier onder andere die pragtige kerslied: KERSFEES KOM, KERSFEES KOM! Baie dankie Ds Scotty en sy gemeente vir die onvergeetlike belewenis!

Alhoewel die eksamen nou verby is en daar lê nog net ‘n week en drie dae van skool oor, rig ek nog steeds die volgende ernstige versoek rakende die afhaal van leerders aan die einde van die skooldag: Pas asseblief die “drop and go / fetch and leave’’-beginsel toe. Moet asseblief nie so stop dat jou voertuig die verkeer belemmer nie. Indien ouers/voogde wel uit hul voertuie wil klim of heelwat vroeër arriveer om hul kinders af te haal, moet hulle asseblief hul voertuie in die toegewyde parkeerareas parkeer sodat die vloei van verkeer nog steeds so effektief as moontlik kan plaasvind. Baie dankie vir jul samewerking en dat ons almal sal konsidereer in die verband.

Ons deel met julle die nuus dat Francelle Kruger en Leandri Olivier, twee van ons assistente in die grondslagfase, ons ongelukkig aan die einde van die jaar verlaat. Ons is dankbaar vir hul toewyding en harde werk en wens hulle voorspoed toe op hul toekomsreis.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling wat op ons waarde vir die laaste kwartaal fokus, naamlik Respek en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Respek is ‘n ander woord vir LIEFDE.’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF