Die gesin is die eerste plek waar kinders hulself leer ken en begin voel hulle word aanvaar of nie. ‘n Ouer se reaksie op ‘n kind se emosies – al is dit intens – sal bepaal of die kind met gemak sy emosies in die toekoms gaan deel. Ons leer hulle dat geen emosie “reg” of “verkeerd” is nie, maar dit is ook ons “werk” om hulle te leer dat, hoewel alle emosies aanvaarbaar is, alle gedrág nie aanvaarbaar is nie. ‘n Moeilike taak om ‘n kind aanvaarbare reaksies te leer op die gevoelens wat hulle ervaar!

Ons is geneig om gedurig ons kinders se gedrag te korrigeer, want hoe anders gaan hulle leer? Dis egter moeilik om altyd kalm te bly en nie te laat deurskemer hoe jy werklik voel nie. Ons misluk soms. Ongelukkig word ‘n kind se gevoel van sekuriteit en selfwaarde dikwels direk gekoppel aan hoe ‘n volwassene optree en op wat hy of sy sê. ‘n Ouer se vermoë om hul eie emosies te hanteer asook hoe húlle verhoudings benader, bepaal dikwels die kind se optrede teenoor ander asook hoe hulle vriendskappe in die toekoms gaan hanteer.

Dit is onmoontlik om alle situasies ”korrek” te hanteer. Tog kan ons probeer om volgehoue positiewe terugvoer te gee. Hier is ‘n paar voorbeelde om op ‘n ander manier vir jou kinders te wys dat jy hulle waardeer en raaksien.

In plaas daarvan om vir jou kind te sê hy of sy is slim as hulle presteer, probeer:

  • “Ek kan sien jy het geoefen/ jou beste gedoen…”
  • “Ek is regtig trots op die keuse wat jy gemaak het om so hard te werk…”
  • “Wat ‘n kreatiewe manier om ‘n probleem op te los!”
  • “Ek waardeer die tyd wat jy ingesit het om vir hierdie toets te leer…”

Om ‘n kind se gevoel van selfwaarde te verhoog, kan ‘n mens dalk die volgende sê:

  • “Ek kan sien jy het baie tyd en moeite hieraan spandeer…”
  • “Het jy dit alles op jou eie gedoen?”
  • “Jy is regtig goed daarmee om probleme op te los…”

En om ‘n slag jóú kind onkant te vang, wat van:

  • “Ek is so bly jy is in my lewe…”’
  • “Ek is só trots op die mens(ie) wat jy besig is om te word!”

Hierdie manier van kommunikasie laat kinders voel hulle is suksesvol en dat jy hulle onvoorwaardelik liefhet. Probeer dit!

Marike Badenhorst
OPVOEDKUNDIGE SIELKUNDIGE