Ek glo dat almal op Saterdag, 23 April 2022, die Kaperjolle terdeë geniet het. Dit was my en my vrou se eerste Kaperjolle en wat ‘n ongelooflike ervaring om saam met hierdie pragtige skoolgemeenskap ‘n wonderlike pretdag van samesyn te geniet. Die kos en lekkernye was uit die boonste rakke en ek is seker dat selfs indien iemand soos die bekende koskenner, Bertus Basson van ‘In die Sop’ hierdie geleentheid bygewoon het, sou hy selfs iets by ons bedrewe sjefs geleer het. Baie dankie aan die ouers wat ek nog nie amptelik ontmoet het nie, wat sommer op die dag hulle aan my kom voorstel het. Opvallend is die positiewe gees, omgee en samehorigheidsgevoel onder ons ouers/voogde. Dis ‘n riem onder die hart dat julle as ouers soveel omgee, betrokke by jul kinders se leer en onderrig is en in dieselfde asem baie trots op die skool is. Baie geluk aan die volgende spanne wat in die top 3-plekke geëindig het en wisseltrofees tydens die ‘oor die kole-kompetisie’ ontvang het:

1. SA-uitstalling deur die onderwyserspan van juf. Maricqe
2. Karoo Classic deur nog ‘n onderwyserspan van juf. Anja
3. Griekse uitstalling van Rudi en Oloff.

Die beste geesbeker het aan Kees se span (Uruguay) gegaan. Ek sal my van my taak kwyt indien ek nie Ria Hertzog en haar OOV-span hartlik bedank wat so hard gewerk het om die dag se sukses te verseker. Die groot sukses is verseker te danke aan toewyding en spanwerk.

Soos julle weet, is die komende naweek weer eens ‘n langnaweek met Werkersdag wat op 1 Mei gevier word. In die Suid-Afrikaanse konteks het Werkersdag ‘n baie lang en interessante geskiedenis. Werkersdag het wêreldwyd begin toe Australiese klipkappers in Victoria ‘n massastilstand op 21 April 1856 onderneem het as deel van die agt-uur werksdagbeweging. Dit het ‘n jaarlikse herdenking geword, wat Amerikaanse werkers geïnspireer het om hul eerste massastaking te hê. Dus is 1 Mei gekies om Internasionale Werkersdag te vier ter herdenking van die 1886 Haymarketaangeleentheid in Chicago. Dit het egter sedertdien ontwikkel tot ‘n viering van die historiese pogings van werkers internasionaal om solidariteit tussen die werkende klas mense te vestig in hul stryd om billike indiensnemingstandaarde te bekom. Dus vra ek dat ons ook op die spesifieke Werkersdag ons onderwysers en ondersteuningspersoneel se veerkragtigheid, deursettingsvermoë, hul gewilligheid en vermoë om aan te pas by ‘n voortdurend veranderende opvoedkundige landskap, en die toewyding waarmee hulle kennis oordra aan ons Jannies, te vier.

Die wintersportprogram loop in volle swang en verskeie wedstryde het reeds plaasgevind. Baie geluk aan ons hokkiespanne wat 7 van die 11 wedstryde op 21 April 2022 teen Elkanah House gewen het. Baie geluk ook aan ons netbalspanne wat 13 van die 17 wedstryde teen Laerskool Edgemead weg op 25 April 2022 gewen het (2 wedstryde was gelykop). Ons o/13A-span het onder andere 26 – 5 gewen. Baie dankie en geluk aan al ons afrigters en spelers met die puik vertonings.

Ek sluit dan met die volgende bekende aanhaling van Winston Churchill af rakende ons kernwaarde van die kwartaal, naamlik verantwoordelikheid:

“The price of greatness is responsibility”

Geniet ‘n wonderlike langnaweek.

Naas Beets
SKOOLHOOF