Na afloop van 11 besige en opwindende weke kom kwartaal 3 vandag tot ‘n einde met die sluit van die skole vir ‘n kort vakansie voordat ons die finale kwartaal van die jaar aanpak. Indien ons vinnig ‘n kort refleksie van die afgelope kwartaal sou doen, staan die volgende vir my uit:

  • Op Vrydag, 21 Julie, het Stephanie le Roux gereël dat 13 van ons behoeftige leerders se oë by Tomlinson Oogkundiges getoets word. Esna van der Walt en Suna Karsten (almal oud-ouers) het die oogtoetse gratis behartig. Ons is so dankbaar dat 9 van die 13 leerders ‘n pragtige bril ontvang het en ons kan alreeds in ‘n kort tydjie die positiewe impak daarvan op hul akademie sien.
  • Heelwat meer sportwedstryde en toernooigeleenthede is vir ons Jannies gedurende kwartale 2 en 3 geskep met 586 wintersportwedstryde (hokkie, netbal & rugby) wat plaasgevind het. Tydens die laaste wintersportnaweek (01 & 02 September) van die seisoen te LS Welgemoed, het 140 dogters netbal gespeel, 99 seuns rugby, 80 dogters hokkie en 80 seuns hokkie gespeel. Puik wintersportuitslae is ook die afgelope kwartaal behaal soos onder andere ons o.13A-spanne (netbal, rugby, dogtershokkie & seunshokkie) wat onderskeidelik hul wedstryde weg tydens die jaarlikse interskole teen LS Dirkie Uys te Moorreesburg gewen het. Baie geluk aan Frank van der Walt wat in die WP o.12A-rugbygroep opgeneem is. Baie geluk ook aan juf. Lucia en haar o.11-netbalspan wat die seisoen onoorwonne afgesluit het. Graag wil ek al ons sportleerders loof vir hul toegewydheid en volgehoue deelname tydens die afgelope winterseisoen. Dan kan ek nie anders nie as om die afrigters hartlik te bedank vir hul opoffering, harde werk en toegewydheid tot voordeel van ons Jannies.
  • Op Vrydag, 25 Augustus, het die jaarlikse en gewilde Ouma- en Oupadag plaasgevind. Oumas en oupas het van heinde en verre gekom om die spesiale dag saam met hul kleinkind(ers) by ons pragtige skool te geniet. Die hoogtepunt van die dag was beslis die insiggewende toespraak deur ons gasspreker, naamlik Elsabé Daneel. Elsabé is nie net ‘n formidabele vrou en aktrise nie, maar ook ‘n oud-leerder en nou ‘n ouma by ons skool.
  • Tydens week 7 van die kwartaal het ons ‘n spesiale akademiese week gevier met die fokus op die KUNS om ‘n Jannie te wees! Die doel van die akademiese week was juis om ons leerders blootstelling aan leer op ‘n kreatiewe vlak te gee. Leer hoef nie noodwendig in die tradisionele sin van die woord byvoorbeeld slegs in die klaskamer plaas te vind nie. Daarom het die leerders aan nuwe, interaktiewe aktiwiteite deelgeneem om hulle juis te inspireer om buite die spreekwoordelike boksie te dink.
  • Op Woensdagaand, 30 Augustus, het die jaarlikse en gewilde Jannies Talent-aand plaasgevind. Weereens laat ons talentvolle Jannies ‘n mens stomgeslaan staan met hul unieke talente en selfvertroue. Weereens wil ek elke deelnemer hartlik gelukwens met hul puik individuele optrede.
  • Op Saterdag, 09 September, het 19 van ons leerders aan die jaarlikse WOW-Spelkompetisie se provinsiale rondte te Stellenbosch deelgeneem en soos oudergewoonte stof in die ander skole se oë geskop. Baie geluk aan die volgende vyf leerders wat vir die Nasionale Kompetisie op 07 Oktober gekwalifiseer het:
    • Graad 1: Wrensch Silvis (2de)
    • Graad 4: Ghia Perreira (3de)
    • Graad 5: Katryn Silvis (1ste) en Amelie van der Walt (2de)
    • Graad 6: Isabella Marais (4de).
  • Ons gr. 6- en 7-leerders het op akademiese gebied nog verder presteer deur die jaarlikse Melkbos Wiskunde Olimpiade vir die sewende agtereenvolgende jaar op Donderdag, 21 September, te wen. Dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie. Baie dankie mnr. Leon en juf. Andri vir hul leeue aandeel in die verband.
  • Op kultuurgebied het ons leerders puik tydens die jaarlikse Eisteddfod en UNISA- klaviereksamens gevaar. Beide ons senior- en junior kore het ‘n puik optrede saam met Jak de Priester in die ikoniese Groote Kerk op 01 Augustus gehad. Ons skool se toneel- en dramagroep onder leiding van juf. Jana het die naweek van 15 – 17 September aan die Silwervaringfees te Laerskool Bastion deelgeneem. Hulle het puik gevaar en ons leerders het met die louere weggestap. Ons skool het ook die prys vir die beste teks gewen. Baie geluk, julle maak ons ongelooflik trots. Die volgende drie leerders het ook presteer met hul optrede in die kinderkoor vir die produksie Tosca by die Kunstekaap Opera Huis vanaf 12 –17 September:
    • Karu Rademeyer
    • Abigail Fourie
    • Jacob Venter
  • Die viering van Groen Vrydag om die Proteas tydens die Netbal Wêreldbeker te ondersteun asook al die “#Bok-Fridays” vanaf 08 September om die Springbokke se soeke na glorie om as 2023 wêreldbeker-kampioene bekroon te word, te ondersteun.
  • Ons moes ongelukkig die week afskeid neem van oom Steyn wat die einde van die kwartaal aftree. Oom Steyn was sedert 01 Januarie 1997 in ons diens en kan beskryf word as ‘n legende. Sy spesiale verhouding met leerders en ouers het veral uitgestaan en in die leerders se oë was hy eintlik die skoolhoof. Oom Steyn ons salueer jou vir 27 jaar se lojale busdiens aan die skool en ons wens vir jou ‘n wonderlike aftrede toe waar jy genoeg tyd sal hê om jou gunsteling tydverdryf te kan geniet, naamlik visvang. Ons gaan jou vriendelikheid en bedagsaam baie mis!

Bogenoemde is maar enkele hoogtepunte van die suksesvolle kwartaal. Ek glo dat julle ook saam met ons leerders en personeel na die kort, maar lekker Oktober-vakansie uitsien om net weer die spreekwoordelike batterye te herlaai voor ons die pylvak van die laaste kwartaal aandurf. Laat my asseblief toe om ons toegewyde personeel hartlik te bedank vir hul harde werk en toegewydheid, maar veral vir hul omgee-harte om seker te maak ons Jannies kry geleenthede om hul potensiaal te bereik. Graag wil ek my Bestuurspan (Exco) asook ons dinamiese Beheerraad hartlik bedank vir hulle insette en leeue aandeel om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck as een van die topskole in die land onderskei kan word. Mag ons die spesiale etos en kultuur om net jouself te wees by ons trotse skool nog tot in lengte van dae koester.

Laat my ook toe om Juf Suzaan en Gerrit geluk te wens met hul huweliksbevestiging wat môre gaan plaasvind. Ons wens vir hullle ‘n geseënde huwelik en ‘n blink toekoms saam.

Graag sluit ek af met ‘n dankbare hart teenoor ons ouers/voogde wat ons weereens die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Ek waardeer jul betrokkenheid en omgee by die skool asook in jul kinders se lewens. Betrokke ouers/voogde verseker suksesvolle skole wat altyd van krag-tot-krag sal gaan. Ek wens vir julle ‘n wonderlike vakansie toe. Veilig reis en ek sien uit om julle almal op 10 Oktober weer terug by die skool te ontvang.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF