Die Nelson Mandela Universiteit bied die afgelope vyf jaar ‘n nasionale kunskompetisie aan vir leerders van gr. 7 tot gr. 12. Hierdie jaar se tema was MATHEMATICS IN AFRICA: PAST, PRESENT, FUTURE (‘n uitdagende een!). Leerders moes ‘n kunswerk maak wat die tema uitbeeld en wat wys hoe Wiskunde en Kuns bymekaar aansluit. Hulle moes dan daarby ‘n geskrewe deel inhandig oor watter tipe Wiskunde hulle gebruik het en hoe dit by die tema aansluit.

Die eerste paar rondtes van beoordeling vind aanlyn plaas, waarna die finaliste se fisiese werke na die NMU gestuur word vir die finale beoordeling. Voor die pryswenners aangekondig word, word die werk deur verskeie wiskundiges en kunskenners beoordeel. Hierdie jaar was daar ‘n rekordgetal inskrywings landwyd en ons is ongelooflik trots op die volgende leerders se prestasie:

Silwer: Neil Heyns en Katia van Wyk
Brons: Zuletha Ferreira, Mieke Huysamen en Eddie Quixley

  • Neil beeld die Groot Vyf uit en lewer kommentaar op stropery: die afname in getalle van diere soos renosters en die gevolglike styging in waarde van renosterhorings.
  • Katia se werk fokus op die Wiskunde in finansies en handeldryf: van ‘cowrie’ skulpe en goud in Timbuktu tot die uitbeelding van ‘apps’ wat kriptogeld beheer.
  • Zuletha ondersoek afstande: Sterrekunde en die Sutherland teleskoop (SALT)
  • Eddie se werk verwys onder andere na die Egiptiese piramiedes, Sterrekunde en MeerKAT in die Noord-Kaap.
  • Mieke sien Wiskunde in die heksagone van byekorwe en verbind dit met die potensiële gevaar wat die ‘Africanised bee’ inhou vir die getalle van gewone bye.

Danksy hierdie leerders se talent en toegewydheid, ontvang Laerskool Jan van Riebeeck ‘n toekenning vir die skool met die 2de meeste pryswenners landwyd!

Die prysuitdeling het Maandag, 4 September, by die P.J. Olivier Kunssentrum te Stellenbosch plaasgevind en die leerders is vergesel deur hulle ouers en ‘n baie trotse juffrou Rentia.