In die vorige week se nuusbrief het ek na onder andere dankbaarheid verwys wat ons so dikwels miskyk, maar met my arrivering vroeg op ‘n bitterkoue Saterdagoggend, 21 Mei 2022, te Laerskool F.D. Conradie in die pragtige dorpie Prince Alfred Hamlet, het die gevoel van dankbaarheid my onmiddellik onarm.

Die idilliese landskap en die driehoekige wintersportdag by F.D. Conradie was presies wat ons as stadsjapies nodig gehad het. Hulle vriendelike ontvangs en gasvryheid van die platteland is kosbaar. Die koue oggend met wit gerypte sportvelde het soos die spreekwoordelike lelike eendjie in ‘n pragtige swaan van ‘n sonskyndag verander. Graag wil ek Mnr. Labuschagne, die skoolhoof van F.D. Conradie, sy personeel en ouers hartlik bedank vir die puik georganiseerde dag met smullekker eet- en drinkgoed wat vanaf vroegoggend beskikbaar was om die koue te verdryf. Ek het natuurlik heeltemal geswig onder die vars tuisgebakte plaasbrood met die heerlikste tuisgemaakte konfyte uit die kontrei. Baie dankie aan al ons ouers/voogde wat in groot getalle die spesiale dag ondersteun het. Die samenhorigheidsgevoel onder ons ouersgemeenskap is merkwaardig. Selfs ouers wie se kinders nie eers op die dag deelgeneem het nie, het spesiaal deurgery om die Jannies te ondersteun. Baie geluk aan ons spanne wat die dag so puik gevaar het. Die plattelandse skole het weer eens getoon dat hulle hoogs kompeterend is en nooit onderskat moet word nie. Ek glo ons Jannies het ook in die proses nuwe maats gemaak en ons ouers nuwe vriende.

Ek wil nie net in my nuusbrief oor sport praat nie, maar na afloop van die week se rugby, – hokkie- en netbalwedstryde, kan ek nie anders as om uit te lig hoe die standaard van sport die afgelope kwartaal ongelooflik verbeter het nie. Die beginsel is eenvoudig, want hoe meer jy as ‘n span wedstryde kan speel, hoe meer leer jy as ‘n span wat uiteindelik die span se prestasies sal verbeter. Saterdag se o/13A-netbalwedstryd teen F.D. Conradie was een van die hoogtepunte op die dag. Hierdie naelkou-wedstryd het ons o/13A-netbalspan se geduld, vermoë om druk te verwerk en spanwerk tot die uiterste beproef. Beide spanne het verdien om te wen, maar weens die feit dat ons span die afgelope tyd baie wedstryde gespeel het, kon ons die druk net eenvoudig beter hanteer en met die louere van 11 – 9 wegstap. Baie geluk, Juf. Ischké en span, met jul puik spelvlak en kameraadskap.

Woensdagmiddag se o/13A-rugbywedstryd teen Goodwoord Park sal ek vir ‘n baie lang tyd onthou, nie oor die uitslag of die groot getalle van ouers wat die middag kom ondersteun het nie, maar weens die feit dat ons teen ‘n heelwat fisies groter span ons man kon staan. Dit was amper die spreekwoordelike Dawid teen Goliat, maar mnr. André se span het karakter getoon en nie ‘n enkele tree terug gestaan nie. Harde duikslae is uitgevoer en ‘liggame is op die spel geplaas’ ter wille van die span om die wedstryd 17-0 te wen, was een van die beste rugbywedstryde wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Baie geluk, seuns! Ek is baie trots op die wyse hoe julle gespeel en julle self op die veld gehandhaaf het.

Graag wil ek ds Marietjie Steyn van die Groote Kerk hartlik bedank vir die wonderlike Hemelvaartdiens wat sy op Donderdagoggend, 26 Mei, vanaf 07:15 – 07:45 tydens die Jannies vir Jesus-sessie gehou het. Baie dankie aan ons ouers wat ook die spesiale diens in die saal bygewoon het.

Laat my ook toe om Mia Smith (Gr. 6) hartlik geluk te wens met haar opname in die Tygerberg Kinderkoor. Haar inlywing het op Saterdag, 21 Mei, geskied en ons is saam met haar ouers baie trots op die besondere prestasie.

Ek sluit dan af met die volgende bekende aanhaling rakende dankbaarheid: “As jy geluk wil vind, vind eers Dankbaarheid”.

Geniet ‘n wonderlike naweek en sterkte aan ons o/11- en o/13-rugbyspanne en hul afrigters wat môre tuis vanaf 09:00 teen Laerskool Porterville speel. Baie dankie ook aan Juf. Suzaan wat ons Dapper Stappers oor die naweek op die Boesmanskloof-staproete tussen Greyton en McGregor vergesel.

Naas Beets
SKOOLHOOF