Soos julle bewus is, vind daar die afgelope tyd heelwat veranderinge by die skool plaas. Onder andere die opgradering van die infrastrukture, skooldrag, infasering van die toep, Skooler, as kommunikasiekanaal, Migrasie van die Google Workspace na Microsoft Educational wat beteken dat Google Classroom deur Teams vervang word. Ek verstaan dat veranderinge nie noodwendig deur almal in ons skoolgemeenskap omhels word nie, want vir sommige mense lei verandering tot angs en onsekerheid. Verder beleef ons as Suid-Afrikaners bewustelike en onbewustelik hoë vlakke van angs en stres as gevolg van ekonomiese onsekerhede, wisselvallige beurtkrag en dit te same met die verkeersfrustrasie sal dit enige iemand teen die mure uitfdryf.

Ek het baie begrip en empatie dat verdere veranderinge by die skool ook tot hoër frustrasievlakke kan lei, maar ek versoek egter dat die skoolgemeenskap indien daar ontevredenheid oor sekere aspekte van die skool is asseblief nie hul ongelukkigheid op WhatsApp-groepies en ander sosiale platforms openbaar nie. Dit is vir niemand goed nie en lei tot verdere angs en negatiwiteit. Kontak eerder myself of die skool as iets pla. Ons sal beslis luister en dinge in konteks kan plaas. Wees verseker dat ons baie deeglike navorsing oor die beplande veranderinge by die skool gedoen het voordat ons dit in werking gestel het. Enige verandering neem tyd en voor ons dit weet, lei die veranderinge na die spreekwoordelike beter bestemmings en ons skool hou tred met al die hedendaagse uitdagings tot voordeel van ons leerders. Dus nooi ek almal wat onseker is oor die gebruik van Skooler en Teams uit om op Maandagaand, 13 Maart 2023, om 18:00 in die saal ‘n informele demonstrasie te kom bywoon. Tydens die sessie beoog ons om die gebruik daarvan prakties te demonstreer en julle as ouers/voogde gerus te stel.

Ons gr. 7’s en 5’e het vanaf 1 – 3 Maart 2023 die jaarlikse en gewilde kampe bygewoon. Die gr. 7’s het vanjaar vir die eerste keer by Big Oak Adventures net buite Franschoek gaan kamp terwyl die gr. 5’e die SOS Kamp naby Villiersdorp bygewoon het. Die gr. 5’e en 7’s het die kampe terdeë geniet en kon nie wag om al die interessante kampstories met hul ouers/voogde en gesinslede te deel nie. Natuurlik was hulle doodmoeg van die min slaap, die onbekende avontuur en al die opwinding. Tydens die kampe kon ons stadsjapies heerlik die natuur verken terwyl hulle in spanne moes saamwerk. Kampe bou beslis karakter, verbeter kommunikasievaardighede en ontwikkel leiereienskappe. Ons leerders het oorgenoeg te ete en te drinke ontvang, maar natuurlik mis hulle hul ouers se smaaklike tuisgemaakte kos en waardeer weer al die wonderlike voorregte wat baie keer as selfsprekend aanvaar word.

Die afgelope naweek het ons o.13A-rugbyspan aan die Hoërskool Hopefield Rugbydag op Saterdag, 04 Maart 2023, deelgeneem. Ons seuns het puik gevaar en beide wedstryde teen HS Hopefield en Hopefield Primêr onderskeidelik 10 – 0 gewen. Welgedaan seuns asook ons afrigters, mnre. Erick en André, met die voorseisoenprestasies, julle maak ons trots. Ons wens vir julle ‘n suksesvolle seisoen toe.

Na afloop van die WP-Atletiekkampioenskappe wat op 03 Maart 2023 te Dal Josafat (Paarl) plaasgevind het, is dit my voorreg om die volgende twee atlete hartlik geluk te wens met hul WP-Kleure wat hulle tydens die byeenkoms verwerf het:

Delmar Benecke
Jana Olivier

Ons wens dan vir Delmar en Jana sterkte toe wat môre (11 Maart) aan die Wes-Kaap Atletiekkampioenskappe weer te Dal Josafat deelneem. Tydens die byeenkoms neem atlete vanaf WP, Boland en Suid-Kaap deel om vir die nasionale kampioenskappe te kwalifiseer. Ons hou vir hulle twee styf duimvas!

Vandag vind ook die Junior Swemgala plaas en ons sien baie uit na ‘n heerlike dag van pret. Dit bring ons dan ook aan die einde van die somer buitemuurse program en begin die winter buitemuurse program op Maandag, 13 Maart, tot Vrydag, 24 Maart.

Dit is dan my voorreg om aan te kondig dat die vierkant se oppervlakte uiteindelik voltooi en gereed is om te gebruik. Ons gaan dit binnekort esteties aanspreek met meer plante en bome om dit in ‘n lushof te omskep vir ons leerders se genot.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Albert Einstein en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Anyone who has never made a mistake,
has never tried anything new.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF