Dit is so lekker om te reflekteer oor die afgelope Interskole sportnaweek tuis teen Laerskool Dirkie Uys. Ek glo dat julle soos die personeel ook saam met jul kinders die heerlike interskole en interaksie met die Moorreesburgers terdeë geniet het.

Ons het die interskole met ‘n baie suksesvolle “Groot Brag” op Vrydagoggend in die saal afgeskop om sommer lekker gees te vang en terselfde tyd die wonderlike voorreg om aan sport deel te neem behoorlik te vier. Dit was natuurlik my eerste interskole by Laerskool Jan van Riebeeck en ek sal as trotse skoolhoof my plig versuim indien ek nie al ons Jannies, ouers, onderwysers en afrigters komplimenteer met hul beleefde optrede en onberispelike gedrag op en langs die sportvelde. Ons spelers het te alle tye goeie sportsmanskap aan die dag gelê. Ons wenspanne het grasieus uit die stryd getree en wanneer ons verloor het, het ons dit met waardigheid gedoen deur die beter span/ne op die dag se blad te skud en geluk te wens.

Die vraag is: speel ons om te wen? Die antwoord is ‘n duidelike JA, maar nie ten alle koste nie. Ons weet dat sport en om aktief te wees kinders help om bene en spiere te versterk, maar ons moet nie vergeet dat sport en veral spansporte onwetend ons leerders die wonderlikste lewenslesse en waardes leer nie. Dit moet, wat my betref, eintlik die fokuspunt rakende skoolsport wees dat ons leerders eerder leer van veerkragtigheid, spanwerk, geduld, verantwoordelikheid, dissipline, teleurstelling, respek, deursettiingsvermoë, leierskap, beheer van emosies, kameraadskap, ens. Die lys is eindeloos. Dus doen ek ‘n beroep op ouers/voogde wie se kinders nie tans skoolsport beoefen nie, om dit ernstig te oorweeg om by ‘n skoolsport aan te sluit.


Vrydagaand (19 Augustus) was natuurlik weer soos van ouds die jaarlikse “Quiz-aand”. Baie dankie aan Karien Zulch en haar span wat die gewilde en kompeterende aand met groot sukses gereël het. Die algemene kennis en kompeterende dinamika van ons ouers was merkwaardig, maar ek dink op die einde van die aand het die heerlike samesyn die finale sê gehad. Baie geluk aan Kees Snjiders en sy span (Marelise Snijders, Susan en De Wet van Rooyen, Elmarie en Jaco Erasmus, Marie en Christiaan Stimie) wat met die louere weggeloop het en as algehele wenners aangewys is.

Dit is dan my voorreg om vir Katia van Wyk en Karlien van der Walt hartlik geluk te wens met hul onderskeidelike derde en vyfde plekke na afloop van die Wes-Kaap se “Spelling BEE” kompetisie. Dit is ‘n baie groot prestasie aangesien die gewilde en moeilike spelkompetisie ‘n vlagskipgeleentheid vir die WKOD is. Ons is baie trots op jul puik prestasie.


Op Donderdag, 25 Augustus, het ons weer Laerskool Ellerton se markdag by ons skool aangebied. Daar was 8 pragtige stalletjies wat deur ons opgewonde Jannies baie goed ondersteun is. Dit was ‘n groot voorreg om hulle leerders, onderwysers en skoolhoof by ons te ontvang. Ons gaan poog om meer gereeld na behoeftige skoolgemeenskappe uit te reik en ‘n verskil in daardie leerders se lewens te maak. Baie dankie aan Stephanie le Roux wat nog steeds behulpsaam is met die uitreikprojekte. Ek glo ook deur ons leerders bloot te stel deur interaksie met leerders en gemeenskappe wat minder bevoorreg is, hul ook ‘n baie beter perspektief sal gee rakende die sosio-ekonomiese ongelykhede in ons land sodat ons jeug reeds op ‘n baie vroeë ouderdom kreatief na toekomstige oplossings kan kyk.

Ek sluit dan weer af met die onderstaande stelling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Sonder respek is liefde verlore …
Sonder omgee is liefde vervelig …
Sonder eerlikheid is liefde ongelukkig …
Sonder vertroue gaan liefde nie hou nie.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF