Ruben en Vincent Oosthuizen se oupa het ʼn baie skaars Gudbrod trekkertjie gerestoureer. Sy droom was dat sy kleinseuns en hul beste vriend, Dewald Buitendag, die trekkertjie in geheel uitmekaar haal en dan weer aanmekaar sit. Die seuns het die uitdaging aanvaar.

Die einddoel was om aan die uitstallings by die Wes-Kaapse Veteraan Trekker en Masjien skou deel te neem. Na maande se harde oefening het hulle tydens die skou op Villiersdorp die wisseltrofee vir die Mees Uitsonderlike Inskrywing verwerf. Hulle kon in ʼn rapsie meer as ʼn halfuur die trekkertjie uitmekaar haal en weer aanmekaar sit.

Dit was ʼn uitsonderlike prestasie en wonderlik dat hul oupa se droom waar geword het.